AfriForum belig inmenging in sport internasionaal

AfriForum het pas klagtes teen sportkwotas en politieke inmenging in sport by Wêreldrugby (WR) in Dublin, Ierland en die Internasionale Netbalfederasie (INF) in Manchester, VK ingedien.

Dié afvaardiging – onder leiding van Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum – vergader ook met van dié liggame se besture om die kwessie internasionaal te belig. ’n Verslag, Transformasie in SA Sport: Telbord nie in regering se guns, wys op die vergrype in Suid-Afrika waar sportlui op grond van kwotas in spanne ingesluit word, en nie meriete nie.

Politieke inmenging is teen internasionale sportregulasies en -reëls.

Die liggame wat besoek sal word, sluit in die WR in Dublin, Ierland, die INF in Manchester, Brittanje, die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) in Monaco, die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) in Lausanne, Switserland, en die Internasionale Krieketraad (IKR) in Dubai in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE).

Die publiek word aangemoedig om hul steun te wys en hul naam by die klag te voeg. Besoek AfriForum se webtuiste by www.afriforum.co.za of SMS jou naam na 45113 (SMS’e kos R1).