Leesvordering:

Brokkies laat mense Doer Onder Afrikaans lees

Jun 22, 2017

deur Philip Langenhoven

Nieu-Seeland mag dalk deesdae Suid-Afrika se nemesis op die rugbyveld wees (dit lyk egter of die Bokke nou begin terugkom!), maar die klein landjie het ook ’n aansienlike hoeveelheid Suid-Afrikaners wat in sy groen velde en heuwels woon. Ja, hulle moes aanpas by kleiner houthuise, ’n statuslose werks- en sosiale omgewing, asook laer snelheidsgrense op kronkelpaaie, maar hulle doen hul ding en woel soos enigiemand anders om kop bo water te hou.

Vir die afgelope 17 jaar al is daar ’n brokkie Afrikaanse son wat weekliks in die lewe van duisende huishoudings skyn: Brokkies, ’n e-posnuusbrief wat gratis versprei word. Veral in hierdie tye waar Afrikaans en die gebruikers daarvan al meer onder druk kom, is dit goed om te weet daar is ’n poging in Nieu-Seeland en Australië om Afrikaans lewendig te hou en mense gereeld hul Afrikaanse inspuiting te gee.

Philip Langenhoven, eienaar en redakteur van Brokkies, woon naby Wellington, die hoofstad van Nieu-Seeland. Ons het hom uitgenooi om ons meer van Brokkies te vertel. Volgens hom is Brokkies ’n naam wat al sinoniem met Afrikaanse emigrante Doer Onder geword het. Dit is ’n elektroniese nuusbrief wat primêr gemik is op mense vanuit Suid-Afrika en Namibië wat nou in Nieu-Seeland en Australië woon, maar al meer mense elders skryf glo ook op hierdie gratis publikasie in, “veral familielede wat voel dit help hulle om ‘in voeling te bly’ met hul mense in die buiteland”.

“Die blad se wortels lê in Nieu-Seeland waar dit reeds sedert 2001 sy intekenaars bedien op die gebiede van kultuur, sosiale skakeling en besigheidsnetwerking. Met die blad se uitbreiding na Australië verlede jaar het ek die naam van die oorspronklike Brokkies na Kiwi-Brokkies verander en sodoende is Australië se Aus-Brokkies gebore. Daar is ooreenstemmings, maar sekere inhoud is relevant tot elke onderskeie land se lesers,” sê Philip.

Kiwi-Brokkies word op die tuisblad van Brokkies se webtuiste by http://www.brokkies.net/ gepubliseer. Aus-Brokkies verskyn ook daar, hoewel dit as nuwe blad nog groei en in hierdie stadium nie so gereeld soos ouboet verskyn nie. Vorige uitgawes word in die argief onder ‘Uitgawes’ gestoor. Dit is beter vir besige mense om in te teken om seker te maak dat hulle deur ’n e-pos in kennis gestel word wanneer die nuutste uitgawe beskikbaar is.

Philip vertel verder: “Ek onthou tydens my grootwordjare dat ek nooit my ouers of familie oor emigrasie hoor praat het, of hulle veel aan die buiteland gesteur het nie. Ja, tannie so-en-so se oorsese toer is soms bespreek want dit was ’n hoogtepunt en almal het saam skyfies gekyk, maar nie veel meer as dit nie.

“Geleidelik het ons Afrikaners egter begin proe aan wat mense in ander lande meer natuurlik aanvaar: om oorsese ondervinding te gaan opdoen. So het al meer mense tydelik oorsee gaan werk en met nuwe perspektiewe en insigte teruggekom.

“Wat ook al mense se motivering, die feit is mense beweeg rond – veral in hierdie hoogs tegnologiese era wat oombliklike kommunikasie na enige plek op die aarde moontlik maak en mense groter beweeglikheid bied. Dinge het oor die jare baie verander.

“Ek het begin dink dat so ’n ‘internasionalisering’ van ons identiteit as Afrikaners geleidelik daartoe kan lei dat ons kultuur verflou – ook by ons kinders wat al makliker ‘die pad vat’. Ek wou iets daaraan probeer doen, en het 17 jaar gelede begin om Brokkies uit te bou tot ’n blad wat positiewe, opbouende Afrikaanse leesstof aan mense Doer Onder bied. Wat ek doen is klein, maar dit is my poging om geskrewe Afrikaans lewendig te hou vir mense wat dit graag wil behou.

“Weens die webgebaseerde model is dit natuurlik ook toeganklik vir enigiemand, enige plek ter wêreld en ek vind dat daar ’n geleidelike groei in lesers plaasvind. Ek hoop dat al meer mense hul Afrikaanse wortels sal wil behou, en ek vertrou dat Brokkies hulle help om dit te doen.

Brokkies probeer nie ’n hardenuuskoerant wees nie, maar bevat stories oor immigrante se doen en late, hul aanpassingsproses en ervarings. Brokkies vier immigrante se prestasies op werks-, kulturele of sportgebied, of delf ’n bietjie dieper in sake wat algemeen byval vind by ons mense in hul nuwe omgewing. Brokkies dra ook wetenswaardige, positiewe nuus vanuit Suid-Afrika en bied daarmee balans vir immigrante wat in verskillende stadiums van aanpassing is.

“Die blaaie is ook ’n advertensiemedium wat gemeenskaps-, persoonlike en sake-advertensies insluit, asook ’n gids van die groeiende aantal Afrikaanse kerke in Nieu-Seeland en Australië.

“Hoewel Brokkies ’n sekulêre blad is, is sy onderliggende etos Christelik. Dit vind uiting in die lys Afrikaanse kerkdienste en weeklikse ‘Geestelike Pitkos’-rubriek wat moontlik is danksy die vriendelike samewerking van ’n paneel Afrikaanse predikante en pastore Doer Onder.

“Baie dankie vir die uitnodiging om vir jul lesers ’n bietjie van Brokkies te vertel. Baie dankie ook aan AfriForum vir die wonderlike werk wat julle doen ter nastrewing van ’n regverdige bestel. Dit inspireer baie mense.”

Besoek gerus Brokkies se webtuiste by www.brokkies.net waar jy gratis kan inteken as jy nuuskierig is om te sien wat alles in Brokkies verskyn. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Gaan loer gerus ook in op Brokkies se Facebook-blad.

Meer oor die outeur

Sue-Ann de Wet

Sue-Ann de Wet is die Hoof van Diaspora by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

’n Netwerk wat vir jou werk

’n Netwerk wat vir jou werk

Deur Sue-Ann de Wet Die belangrikheid van ’n ondersteunende netwerk kan nie onderskat word nie. Die bou van ’n netwerk in ’n nuwe land gaan oor meer as net sake doen of werk soek; dit gaan ook oor die skep van ’n ondersteuningsbasis wat jou kan help om die gevoel van...

Watter tradisies laat jy en jou gesin voortleef in die buiteland?

Watter tradisies laat jy en jou gesin voortleef in die buiteland?

Kyk die ouer garde van ander lande jou snaaks aan as jy nog na hulle as “Oom” en “Tannie” verwys? Langarmsokkie julle nog in die sitkamer op Afrikaanse sokkietreffers? Ons kultuur is meer as net melktert en braaivleis. Wat is daardie klein gewoontes wat jy net...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest