Leesvordering:

Manne wat Glo 2 – Australie en Nieu Seeland (Maart 2016)

Feb 4, 2016

Die groot nuus op die Afrikaanse Christelike musiektoneel verlede jaar was die besluit van vier gevestigde Suid Afrikaanse solosangers om ʼn supergroep te vorm. Jan de Wet, Leon Ferreira, Willie Joubert en Dewald Gouws het elkeen al hul stempel op die musiekbedryf afgedruk, maar toe hulle bymekaargekom het as “Manne wat Glo” het hulle vorendag gekom met die beste Afrikaanse Christelike album en produksie nog ooit.  Na die sukses van hulle 2015 toer in Australie en Nieu Seeland, is hulle gerat om die Koninkryksboodskap nog wyer en verder te verkondig met ‘Manne wat glo 2’!

Hulle besoek weer Australie en Nieu Seeland op uitnodiging van “Musiek Fabriek” in Maart 2016 met ‘n splinternuwe album en produksie wat na vore tree as ‘n musikale baken van lig met kleurryke harmonieë en energieke ritmes, afgewissel met akoestiese- en selfs a-capella klanke.. Hierdie is die grootste toer tot op hede nog deur enige Suid Afrikaanse kunstenaars in die buiteland en strek oor ‘n totaal van 2 kontinente, 9 state (provinsies) en bestaan uit n totaal van 14 konserte oor ‘n tydperk van 19 dae en 5 tyd sones.

Met hierdie produksie, bewys die Manne wat Glo weereens dat hulle ʼn aanwins vir, nie net Christelike musiek nie, maar ook Suid Afrikaanse musiek oor die algemeen is. Nie net kan al vier van hulle regtig sing en liedjies skryf nie, hulle dra ook ʼn baie sterk boodskap oor. Daarom kan hierdie produksie nie sterk genoeg aanbeveel word vir Christen-musiekliefhebbers nie!

Met elke lid van dié viertal wat ‘n solo-kunstenaar in eie reg is, is die 15 snitte op hierdie nuwe album sorgvuldig saamgestel om elkeen se unieke klank na vore te bring, maar steeds baie ruimte te gun vir ‘n meevoerende, inspirerende samesmelting van vier van die land se voorste Gospel-stemme.

Snitte soos “Geboorteland”, “Spore van hoop”, “Here leer my om man van God te wees”, “Ons lê ons krone neer”, “Stuur U reën’ en “Reik na die sterre” stuur deurgaans ‘n sterk boodskap van absolute afhanklikheid van God uit met ‘n sentrale tema van “geloof, hoop en liefde” (ook die titel van een van die snitte) en ‘n gereedheid om Hom op alle terreine met oorgawe te dien.

Al die snitte op hierdie album is nuutskeppings, met uitsondering van die laaste lied: ‘n kragtige orrel-en-simfonie verwerking van die Liedboek-gunsteling, “Lofsing die Here”. Hierdie snit bind die produksie uitstekend saam in ‘n majestueuse vermenging van woord en melodie. Nes die eerste album is ‘Manne wat glo 2’  ook ‘n moet-hê vir jou geestelike musiekversameling en CDs sal by elke konsert te koop wees.

Hierdie album verwoord die passievolle geestelike belewenis van mans, vroue en kinders wat tot inkeer en geloof gekom het of wat sommer net weer opnuut geinspireer is deur byeenkomste en saamtrekke in die naam van die Here.

Hennie Botha van “Musiek Fabriek” in Brisbane Australie, wat ook die promotor is, se dat die logistieke van so toer fenominaal gekompliseerd is en dat hy soms wil weghardloop. Konsert een aand, vlieg somtyds tot 7 ure die volgende dag en dan weer konsert daardie aand. Die manne word maar moeg, maar die groep is so energiek en leef op professionele adrenalien en word gedra deur  toewyding aan Koninkryks werk.  Met die vorige toer het ommenby 2000 mense in totaal opgestaan en hulle verhouding met die Here vernuwe – wat dit alles die moeite werd maak.  Die Moeder Maatskappy “The Entertainment Factory Pty Ltd” het meer as $20,000 verlies gely met die vorige toer en bekendstelling van “Gospel Fees”, maar ons kan sien dat die Christen Afrikaner besig is om saam te trek en dat Gospel Fees beslis ‘n jaarlikse instelling gaan word.  Ons borge begin nou aan boord kom en ons wil meer stede bereik, en die droom is om die Gospel Fees ook na Engeland, Amerika, Kanada, Europa, en orals waar Suid Afrikaners in die buiteland is, te neem.  Dit is nie ‘n geldmaak projek nie (en sal nooit kan geld maak nie want so ‘n toer kos maklik $80,000), maar ‘n bedienings projek en ons kan dit net aanhou doen met finasiele hulp van borge af!  Die Here het ‘n sterk Christen Nasie in Suid-Afrika gekweek en stuur ons reg oor die hele wereld om te gaan bedien – ons het “werk” om te doen.  Inligting wat ek gekry het, dui daarop dat slegs 20% van Suid Afrikaanse immigrante in die buiteland na immigrasie weer aktief by ‘n kerkfamilie betrokke raak.  Daarom reel ons die toere saam met die plaaslike Afrikaanse kerke waar Suid Afrikaners tans dien, en probeer op so manier ook vir hulle blootstelling te gee en die kerke bekend te stel.  Die tema van hierdie toer is “Geboorteland na Beloofde Land” en ek bid elke aand dat elkeen wat die produksie bywoon “gemotiveerd” sal wees om hulle plekkie in Australie en Nieu Seeland te kry binne God se Koninkryks Plan!  Ek besef volkome dat as mense hulle ware identiteit in Christus ontdek, dat jy skaars nodig het om hulle “uit te daag”. Dit is immers nie ons wat die werk doen nie, maar Christus wat in en deur ons werk en wat Sy koninkryk op aarde bou! Dis eenvoudig, as kind van God ís elkeen waar hy is, omdat Christus in jou daar wil wees… om deur jou te werk en mense na Hom te bring.  Die ou Testament is vir ons ‘n vooruitskouing na die nuwe Testament; met die Israeliete se uittog uit Egipte na die Beloofde Land! Net so bring God ons uit die greep van sonde, slawerny en gevangenisskap na die Beloofde Land deur die volkome werk wat Chistus aan die kruis gedoen het. Dis die Goeie Nuus van die Evangelie!  God haal mense soms uit hulle geboorteland sodat Hy deur hulle ander mense in ander lande na die “Beloofde Land” kan bring! Christus self is ons Beloofde Land!! Ons fokus is dus nie op geboorteland nie, maar op die “Beloofde Land”… en om mense daarheen te lei!

Die plan vir Musiek Fabriek is ook om minder sekulere programme aan te bied en meer op Geestelike programme te fokus – want dit is hoe die Here my lei. Ten spyte van al ons sokkies en mannekampe wat ons reel, wil on sook graag seminare and huweliks kampe begin aanbied. Ons gesels reeds met ‘n verskeidenheid ander kunstenaars oor 2017 en is baie opgewonde oor hoe ons gesprek met oom Angus Buchan vorder. Ek is in die bevoorregde posisie om my twee grootste passies, Musiek en Geloof, daardeur te kan kombineer!

Die Gospel Fees 2016 toer program sien as volg daaruit:

  • Vrydag, 4 Maart 2016 Manne Aand Brisbane
  • Saterdag, 5 Maart 2016 Gospel Fees Gold Coast
  • Sondag, 6 Maart 2016 Gospel Fees Brisbane
  • Woensdag, 9 Maart 2016 Gospel Fees Christchurch
  • Donderdag, 10 Maart 2016 Gospel Fees Wellington
  • Vrydag, 11 Maart 2016 Gospel Fees Hamilton
  • Saterdag, 12 Maart 2016 Gospel Fees Auckland South
  • Sondag, 13 Maart 2016 Gospel Fees Auckland North
  • Maandag, 14 Maart 2016 Gospel Fees Sydney
  • Dinsdag, 15 Maart 2016 Gospel Fees Melbourne
  • Woens, 16 Maart 2016 Gospel Fees Adelaide
  • Vrydag, 18 Maart 2016 Manne Aand Perth
  • Saterdag, 19 Maart 2016 Gospel Festival Perth South
  • Sondag, 20 Maart 2016 Gospel Festival Perth North

Ons het besluit om twee addisionele “gratis” Manne Aande ook in te werk. Die Manne Aande is in die vorm van ‘n kampvuur kampstoel aand waar sommer net lekker oor die dinge van die Here gesels en getuig gaan word, so bietjie gesing gaan word en daar tyd vir vrae en antwoorde sal wees.

Tydens die vorige jaar was daar so bietjie verwarring en het van die mense gedink dat die konserte ook net vir Mans was.  Die konserte is vir die hele gesin – oud en jonk (behalwe die twee Manne aande) – en Jan de Wet gaan ook as voorprogram ‘n gedeelte van sy bekende “Jan en die Lofkleuters” doen vir die jongspan.  Die formaat van die konserte is so dat alle ouderdomme dit sal geniet.  Met die vorige toer het ons aanvanklik baie gesukkel met die bemarking aangesien mense nie regtig geweet het wat om van so ‘n progam te verwag nie.  Na die eerste paar konserte het ons web blad en Facebook blad “gegons” van positiewe terugvoer oor die standaard en kwaliteit van die produksie en ons web blad selfs “in mekaar gestort” as gevolg van belangstelling vir die Brisbane konsert – en ons raai mense aan om vroegtydig te begin bespreek vir ‘n fantasiese musiek produksie!

Ons het die kaartjie koste so laag as moontlik probeer hou en is as volg.

  • Volwassenes: $30.00
  • Tieners: $20.00
  • Kleuters: Gratis
  • Studente en Pensionarisse: $25.00
  • Familie van 4:   $80.00
  • Familie van 5: $100.00
  • Familie van 6: $100.00
  • Groep van 10: $250.00

Ons wil geen mens die voorreg ontneem om hierdie besondere geleentheid mis te loop nie – en sal met graagte komplimentere kaartjies gee waar werklik nood is – maar het verseker die kaartjie verkope nodig om die kostes te probeer dek.

Ons het ‘n groep op Facebook begin waar mense kan aansluit om op hoogte te bly van elke jaar se Gospel Fees, en ook fotos en videos kan kyk van die vorige toere. Ons vra mense om asseblief by die groep aan te sluit en die groep ook by hulle vriende aan te beveel sodat ons “Gospel Fees” ordentlik van die grond af kan kry en die woord by almal te kan uit kry.  Die groep se web adres is:   https://www.facebook.com/groups/GospelFees/

Kaartjies kan gekoop word op Musiek Fabriek se web blad by: www.musiekfabriek.global   Ons vra die gemeenskap om dit te ondersteun sodat die projek kan bly leef.  Hierdie jaar is dit “maak of breek” vir ons!

Hier onder volg so bietjie meer oor die 4 kunstenaars:

JAN DE WET

Jan het 44 jaar gelede sy eerste gospel-opname gedoen en tree steeds voltyds in Suid-Afrika en oorsee op. Deur die jare het hy bekendheid verwerf nie net as sanger nie, maar ook as predikant, komponis, skrywer, omroeper en kinderbedienaar. Sy grootste vreugde is om voltyds in diens van die Here te staan. Hy is getroud met Jeanette en het 3 kinders en 5 kleinkinders’

DIE BYBEL SÊ DAT TWEE BETER IS AS EEN. ONS SAAMWERK BRING ‘N DIMENSIE VAN KRAG EN EFFEKTIWITEIT WAT MEER IS AS NET ‘N SOLO AANBIEDING. HIERDIE NUWE PRODUKSIE IS BAIE BESONDER. MAG DIE HERE DEUR HIERDIE PRODUKSIE DUISENDE MENSE SEËN EN NADER AAN SY HART BRING. AAN HOM AL DIE EER!

WILLIE JOUBERT

Wilie skryf, sing en bedien en kan getuig van ons God van wonders. Sy nuutste album, Ek Wil Jubel, spog met 17 nuwe lof en aanbiddingsliedjies wat hy geskryf het. Hy is al 25 jaar voltyds in ‘n geestelike Musiekbediening. Willie en Natasha bly in die pragtige dorpie, Parys in die Vrystaat. Willie glo sterk dat hy nie geroep is vir vermaaklikheid nie. Hy glo dat sy musiek die voertuig is om Jesus Christus te verkondig aan almal met wie hy paaie kruis. “Ons dien ‘n God wat lewe”, die lig laat sien en dis altyd ‘n bonus om hulle twee saam op een verhoog te beleef.

MY HART IS DANKBAAR EN OPGEWONDE OM DEEL TE WEES VAN HIERDIE OPWINDENDE PROJEK WAT LEWENS AANRAAK. EK WIL DANKIE SÊ VIR DIE HERE, VIR GUNS EN SEËN EN OOK VOORSIENING OM HIERDIE PROJEK TE LAAT GEBEUR. MY GEBED IS DAT, SOOS DIE VORIGE TOER, HONDERDE MENSE AANGERAAK SAL WORD EN DAT DIE HERE BOWENAL VERHEERLIK SAL WORD DEUR ELKE NOOT!

 

LEON FEREIRRA

Leon Ferreira het in 1992 sy eerste CD opname gemaak nadat hy reeds 2 jaar in voltydse bediening kruis en dwarsoor Suid Afrika beweeg het. Sedert daardie opname het hy 13 musiek produksies voltooi. Sy nuutste is “Asemrowend”, wat in September 2013 vrygestel is. Leon het ook by verskeie verhoog produksies betrokke geraak en het onlangs sy eerste hoofrol in ‘n rolprent losgeslaan. Sy eerste boek het einde November 2014 op die rakke verskein. Leon is getroud met Amanda sedert 1986. Hulle het twee kinders, Damien en Kayla en woon in Centurion.

DIE BLOTE WETE DAT DIE PRODUKSIE VEELVULDIG MEER ORE EN HARTE KAN BEREIK AS WAT EK OOIT PERSOONLIK SOU KON, MAAK MY OPGEWONDE. VIR HIERDIE VOORREG IS EK DIEP DANKBAAR! DIT IS MY GEBED DAT JULLE WAAGMOED MET HIERDIE KONINKRYKS BELEGGING SAL VRUG DRA, NIE NET HIER IN DIE VORM VAN FINANSIËLE WINS NIE, MAAR OOK DAAR WAAR ROES EN MOT NIE KAN VERNIETIG NIE. MAG ELKE LIED ‘N HARTSTREFFER WEES! DANKIE AAN ELKEEN WAT “MANNE WAT GLO” ONDERSTEUN!

DEWALD GOUWS

“Elkeen van ons bring iets na die tafel. Ons wil graag teruggee aan die mense,” sê Dewald van hulle komende vertoning. Die impak van sy CD, Verhaal van Glorie, het ‘n nasionale aanvraag vir ‘n nuwe vrystelling geskep. Hy beskryf homself as ‘n gewone man met ‘n roeping en deel graag die musiek in sy hart en vertrou dat die salwing van God lewens sal verander. Dewald se hartsbegeerte is om deur sy CD en DVD, Stuur My, asook hierdie splinternuwe groep, Manne wat Glo, ‘n ontvanklikheid in mense se harte te skep sodat die Gees van God die nodige geestelike oortuiging kan doen.

DANKIE VADER, VIR ELKE WYSIE EN LIRIEK WAT IN ONS GEES GEVAL HET OM HIERDIE BEDIENING DEUR MUSIEK MET ELKE LUISTERAAR TE KAN DEEL. EK DANK U VIR ELKE INDIVIDU SE BYDRAE WAT DEEL VORM VAN HIERDIE PRODUKSIE, SEËN HULLE HERE. MY BEGEERTE AAN U BEKEND, IS DAT U SALWING HARTE KRAGTIG SAL AANRAAK, HOOP SAL BRING, GELOOF SAL VERSTERK EN LIEFDE VERKONDIG. IN JESUS NAAM, AMEN.

Meer oor die outeur

Sue-Ann de Wet

Sue-Ann de Wet is die Hoof van Diaspora by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest