Leesvordering:

‘n Dans vir France – Marion Erskine

Aug 27, 2015

Ek lag lekker vir die mense by die huis wat dink Dubai is ‘n stad in die middel van ‘n sandput waar die duisende Suid-Afrikaners net sit en huis toe verlang. Natuurlik verlang ons, maar hier het ons sommer gou-gou aangepas. Ons braai, kyk rugby, gaan eet gou by die Spur of Nando’s en op pad huis toe gaan stop ons gou vir ‘n Huisgenoot, ‘n bottel Mrs Balls en ‘n paar blikkies Creame Soda. Dit is veral koddig wanneer die erg sout Britse platejoggies oor die radio aankondig dat dit tyd is vir die maandelikse “South African sock-ee Bock-jall”. Ja, hier bokjol ons op die nuutste Afrikaanse treffers en veral die goue oues. Sokkies word gereeld in Dubai en Abu Dhabi gehou en wat is nou lekkerder as om soms met jou eie mense te gaan kuier en spitbraai? Aangesien ek ‘n volharde toerboer is, het ek al oor die 60 lande besoek. Een van die redes hoekom ek so baie kan sien, is omdat ek goedkoop toer. Daar is ‘n webwerf-gemeenskap op die Internet bekend as “Couchsurfing”. Dit is ‘n sosiale netwerk vir mense wat graag goedkoop reis en jy het ‘n profiel en alles. Die basiese konsep werk so: ek bied vir jou ‘n bank aan in my huis om op te slaap en ‘n stort om jouself te skrop. Ek hoef jou nie te voer nie – tensy ek wil – en verder sien en doen jy wat jy wil in my stad. Wanneer ek na jou stad reis, gebeur dieselfde. Dus spaar ek op hotelkostes wat gewoonlik die duurste deel van enige vakansie is. Ek gee vir jou wenke van wat daar is om in my stad te doen en jy doen dieselfde in jou stad. Soveel so, dat daar tans selfs ‘n gemaklike bank in Antarktika is vir die van julle wat wil pikkewyne sien. Ek hoor hoe ‘n paar ou tannies vasskop en vir my swaaivinger vertel hoe vreeslik gevaarlik dit is vir ‘n vreemdeling om in jou huis te slaap. “Wat as die ou jou keel afsny terwyl jy slaap?” Natuurlik het die Bankplankryers hieraan gedink. Die webwerf werk op aanbevelings. Elke Couchsurfing area het lede wat mekaar ontmoet. Wanneer hulle voel hulle kan ‘n persoon vertrou, skryf hulle iets positiefs op daardie persoon se profiel. Indien iemand iets negatiefs oor jou skryf soos byvoorbeeld “Peter is ʼn dronklap”, kan jy dit nie self verwyder nie en daar is hordes stappe om ʼn slegte naam te herstel. So kontak Clémance van Parys (dis nou die een met die toring) my en vra of sy kan kom oorbly vir twee dae. Haar verwysings lyk goed en ek stem in. Ek ontmoet haar by die bushalte en sy is dierbaar en vreeslik vriendelik. Haar Franse aksent kom so sterk deur dat ek soms moet twee keer luister om seker te maak ek weet wat sy sê. Ek wys haar bietjie rond en vertel haar dat ek ongelukkig ʼn sokkie aan het die volgende aand en ek nie weet of sy wou saamkom soontoe nie. Dit is eg Suid-Afrikaans en dalk nie iets wat in iemand van Frankryk se smaak sal val nie. Clém stem sommer dadelik in en smeek om saam te kom. Ons Bankplankryers geniet ander kulture gewoonlik baie en ons kan nie genoeg leer van kosse en kulturele aspekte nie. So arriveer ons by die Bokjol die aand en ek stel haar voor aan die maats. Tant Tinkie en Oom Koos is ook daar. Die Van der Merwes en hulle drie kleintjies ook. Dit voel soos ʼn lekker troue iewers naby Caledon. Almal is vriendelik en die musiek speel sommer al vroeg-vroeg. Ek vang vir Clém wat verbaas staar na mense wat dans. “Hoe doen hulle dit?” wil sy dadelik weet. “Hoe doen hulle wat?” vis ek uit. “Sweef! Die mense sweef so oor die grond!” vertel sy in vervoering. Ek neem haar hand en vertel haar dat ek haar sal leer sokkie. Kyk, behalwe die verwagte tone trap en windpomp arms het hierdie Fransman … –vrou … sommer vinnig geleer sokkie. Daar was nie ‘n manier hoe enige een die glimlag van haar gesig kon afkry nie. Sy het haar voete amper blase gedans die aand, maar sit was nie ‘n opsie nie. Kom al die pad woestyn toe, en leer toe meer van Suid-Afrika as van die Arabiere hier. Miskien is jy van die Verre Ooste, Hongaars of Frans, maar een ding is vir seker, Afrikaans kan dans!

 

 

Met groete tot volgende keer van Marion.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

In ’n wêreld vol onbekendes is daar een bekende: Afrikaans is Groot. Dis ’n saamkomplek omjou taal, jou kultuur en jou menswees te vier. En die jaar is geen uitsondering wanneer diegrootste familie-reünie nóg vanaf 8 to 17 November 2024 in die SunBet Arena in...

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum, ’n organisasie wat vandag meer as 315 000 lede in elke uithoek van die land verteenwoordig, vier vandag sy agtiende bestaansjaar. Dié burgerregteorganisasie is op 26 Maart 2006 vir die eerste keer aan die publiek bekendgestel in ’n berig oor sy...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest