Leesvordering:

Nuut by LAPA in Julie

Jul 11, 2018

’n Finansiële-riller oor Steinhoff; niefiksie, maar so spannend, dit lees so lekker soos enige krimi. Ons het ook ’n boek oor Nelson Mandela, wat vandeesmaand 100 jaar gelede gebore is, ’n boek oor ’n verbete vrouespeurder, een oor ’n superskurk en een wat jou sal vertel meisies kan enige iets doen. Maar daar is veel, veel meer!

Niefiksie

Steinhoff en die Stellenbosse Boys

James-Brent Styan
Niefiksie
9780799371635
R280,00

Op Dinsdag 5 Desember 2017 was die Steinhoff-groep nog R193 miljard werd. Skaars 24 uur later is meer as R117 miljard daarvan uitgewis. Die Steinhoff-ryk, wat oor 50 jaar tot ’n internasionale kolos opgebou is, het oornag verkrummel.

Markus Jooste, Steinhoff se flambojante grootbaas, het bedank en sedertdien val geraamtes die een ná die ander uit sy kas: bewerings van bedrog, spoghuise vir ’n blonde minnares en ’n lewe van oordaad.

Wat presies het hier gebeur? Wie het wat geweet? Wat is Steinhoff, wie is Markus Jooste en wat het dit alles met die sogenaamde “Stellenbosch-mafia” te doen? Hoe pas die magnaat Christo Wiese, Shoprite en Pepkor in en waar is die pensionarisse se geld heen?

Die bekende skrywer James-Brent Styan beantwoord dié en ander vrae in hierdie sake-exposé van die jaar, Steinhoff en die Stellenbosse Boys (LAPA Uitgewers).

Die boek is die eerste volledige weergawe van hierdie verstommende verhaal van die grootste finansiële ineenstoring in die geskiedenis van Suid-Afrika. Deur onderhoude met tientalle betroubare bronne in die binnekring, inligting uit vertroulike dokumente en dieptenavorsing oor Steinhoff se geskiedenis, onthul Styan die binnewerkinge van die groep.

Steinhoff en die Stellenbosse Boys is ’n boeiende sakeriller wat nog dekades lank in raadsale sowel as sitkamers oorvertel sal word.

Die skrywer: James-Brent Styan het in 2003 as ’n rekenmeester gekwalifiseer en daarna sy klerkskap by ’n ouditeursfirma voltooi voordat hy ’n sakejoernalis geword het. Hy het vir jare vir onder meer Finweek, Forbes Africa, Sake24, Fin24, Beeld en Die Burger geskryf en werk tans in kommunikasie. Steinhoff is Styan se derde boek. Sy ander titels sluit in: Hartebreker: Christiaan Barnard en die eerste hartoorplanting  en Blackout – The Eskom Crisis.

Nelson Mandela

Izak de Vries
Illustrasies: Alex van Houwelingen
9780799391046
R20,00

Nelson Mandela Eeufeespublikasie. Op 18 Julie 1918 word Rolihlahla Mandela in Mvezo naby Umtata gebore. Nelson Mandela word ons president en dien ons land vir vyf jaar. Nelson Mandela is op 5 Desember 2013 oorlede.

Hierdie spesiale boek oor Nelson Mandela, in vier tale, is uitgegee in samewerking met Bargain Books. Dit is eksklusief te koop by winkels van Bargain Books, regdeur die land.

Dit is in vier tale: Afrikaans, English, isiXhosa & isiZulu.

Fiksie

Dowe gode

Dibi Breytenbach
Krimi
9780799389814
R265,00

Wanneer het lewe so goedkoop geword en genade so duur?

Masjiengeweervuur skeur deur die stilte van die nag in die distrik van Opathe in die Natalse bosveld. Dit verander die lewe van een boeregesin vir altyd, want twee geslagte word in ’n oogwink koelbloedig op hulle plaas deur gesiglose aanvallers uitgewis.

Aella O’Malley, die ondersoekbeampte, sukkel om sin te maak uit ’n reeks leidrade wat deur politiek, afguns, vrees, geloof en bygeloof tot ’n verwarrende mengelmoes van inligting deurmekaar geroer word. Om sake te kompliseer kry sy ’n boodskap: “Onthou die pad na Opathe,” wat in gewone omgangstaal ’n doodsdreigement is. Net daarna wórd sy inderdaad raakgeskiet.

Wat is die motief? Is dit net nog ’n sinlose plaasmoord, waarom wil iemand Aella uit die weg ruim, en sit daar iets meer agter hierdie slagting?

Haar eerste verdagte word wreed aangerand deur ’n gefrustreerde jong boer, en nou het die oorwerkte polisie hóm ook in hegtenis geneem.

Die roman bied ’n sonderlinge blik op die polisie se werkwyse. Breytenbach werk daagliks in ons strafregstelsel en sy beskryf die polisieprosedures in detail, maar só dat die leser voel jy stap saam in die aanklagkantoor in. Die lykskouings, die vorms, die klagteboeke, alles word deel van die storie. Hier is ’n kenner se hand aan die werk. Wat meer is, die roman toon hoe sekere ondersoekbeamptes steeds probeer funksioneer in ’n disfunksionele stelsel en ondanks politieke inmenging in hulle werk.

Moord, verraad en hoop: Watter een van hierdie drie sal uiteindelik oorwin?

Eers teen die einde, wanneer Aella besef sy is bedrieg, verstaan sy dat die pad na Opathe ’n verraderlike pad is wat met groot omsigtigheid gestap moet word.

Wat maak die boek anders?

  • Die konflik onder die ou en nuwe lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens op grondvlak word ontgin;
  • Dit word ook blatant gekoppel aan die persepsie van rasgeïnspireerde plaasaanvalle;
  • Die polisiekultuur word lewensgetrou uitgebeeld;
  • Die roman word geweef rondom ’n oënskynlike plaasaanval waarin die lot van die slagoffers sowel as die misdadigers aangespreek word.

Dibi Breytenbach is ’n regsgeleerde wat saam met haar gesin op die platteland van KwaZulu-Natal woon. Sy het ’n passie vir kinders en kinderregte en spesialiseer op daardie gebied in haar professionele hoedanigheid. Dowe gode is die skrywer se vierde boek. Saliger, Vrediger en Heiliger was die eerste drie. Hierdie roman het ’n nuwe hoofkarakter, Aella, wat ’n kaptein in die polisie is.

Kinderfiksie

Meisies kan enige iets doen

Caryl Hart
Illustrasies: Ali Pye
Kleuterfiksie
Ouderdom: 3+
9780799388718
R130,00

Meisies kan die wêreld verander

Kyk om jou rond:

Meisies is oral. Net waar jy kyk,

is meisies wat almal verskillend lyk.

Hulle verstom en verras ons.

Hulle maak ’n verskil.

En meisies kan enige iets

doen wat hul wil!

Meisies kan lang hare óf kort hare hê. Hulle kan aan enige soort sport deelneem. Hulle kan wiskunde en wetenskap doen, of hou van musiek en verf. Hulle kan lorries bestuur, by die polisie of die brandweer werk, slim dinge ontdek, en selfs die ruimte verken!

So, kom ons roep saam,

net so hard as ons wil:

“Ek’s ’n MEISIE!

Ek’s FANTASTIES!

Ek maak ’n verskil!”

Hierdie prettige, rymende prenteboek is die ideale manier om ’n spesiale meisie in jou lewe van kleins af te leer dat sy enige iets kan doen en die wêreld kan verander!

Meisies kan enige iets doen is ’n prenteboeke vir kleuters, met ’n sterk fokus op die bemagtiging van meisies, geslagsgelykheid en vroueregte.

Womandla!

Superskurk

Jaco Jacobs
Illustrasies: Nicolene Louw
Kinderfiksie
Ouderdom: 9+
9780799388794
R120,00

Superskurk is Superskrywer Jaco Jacobs se 150ste boek.

Daar is ten minste 10 000 redes waarom ’n vakansie by Wessel se oupa NIE ’n goeie idee is nie. Sy oupa Zirk bly in ’n groot, grillerige ou huis buite die stad. ’n Tronk is meer pret. Die kamers is donker en dit ruik na visaas en seemeeupoef. Daar is honderde reëls in sy oupa se huis, en selfs al gehoorsaam jy al die reëls, is ’n hamerkophaai met tandpyn nog steeds vriendeliker as sy oupa. Toe Wessel se ouers hom dus by sy oupa aflaai sodat hulle op ’n eilandvakansie kan gaan, weet hy die goorste vakansie van sy lewe het pas aangebreek.

Maar iets is nie pluis nie. Waarom sluip sy oupa snags in die donker rond? Wat steek hy in die geheimsinnige gebou buite in die tuin weg waar Wessel glad nie mag kom nie? Hoekom het hy party oggende vreemde skrape en bloukolle, asof hy in ’n geveg was?

Daar is net een manier om uit te vind… Kort voor lank is Wessel deel van ’n wilde pretrit vol superhelde, skurke, supercool tegnologie, agterbakse planne en ongelooflike ontploffings! En dit lyk of die verveligste vakansie van sy lewe dalk die avontuur van ’n leeftyd gaan word!

Dis MY boek!

Fabi Santiago
Kinderboek
Ouderdom: 3+
9780799388770
R150,00

Wat is die beste manier om ’n boek te lees as jy ’n kameelperd is?

Kerneels die kameelperd is baie opgewonde toe hy ’n boek in die veld optel. “Ek is MAL oor boeke!” roep hy uit.

Maar elke keer as hy die boek probeer lees, word hy deur sy dieremaats gepla. Hulle wil almal vir hom voorsê hoe jy eintlik veronderstel is om ’n boek te lees.

Moet jy plat op jou maag lê soos ’n krokodil, op een been staan soos ’n flamink, of selfs onderstebo hang en heen en weer swaai soos ’n apie?

Kerneels het genoeg gehad en stap vies weg… kort voor lank ontdek hy die heel beste manier om ’n boek te lees is saam met al sy dieremaats!

’n Bekoorlike prenteboek oor die vreugde van lees – en hoe om boeke op jou eie manier te geniet!

My eerste voel en vind-reeks

Bababoeke
Ouderdom: 0+
8 bladsye elk
9780799388671 (Plaas)
9780799388701 (See)
9780799388695 (Diere)
9780799388688 (Parkie)
R135 elk

Iets vir die miniwetenskaplike!

Hierdie opwindende nuwe reeks interaktiewe boeke is ’n prettige manier om jou baba aan die wonderwêreld van boeke bekend te stel. Die duursame kartonboeke het groot flappe om prettige raai-raaispeletjies te speel en daar is verskillende, interessante teksture op elke dubbelblad en op die voorblad sodat klein vingertjies speel-speel die wêreld van klank en tekstuur kan leer ken.

Elke boek bevat helder, lewendige illustrasies en ritmiese, herhalende teks om vroeë taalvaardighede te ontwikkel. Die reeks bestaan uit vier titels: Plaas, See, Diere en Parkie.

Romanza

Lelies vir Louisa

Rosita Oberholster
Superromanse
9780799389845
R225,00

Kan ’n saffier ’n mens na jou herkoms lei?

Lesers het Louisa in Rose vir Roselle leer ken as die ongehude ma wat in sak en as onverwags op La Roseraie aankom, en dadelik deur almal as familie aanvaar word.

In Lelies vir Louisa worstel Louisa met die groot vraag oor haar herkoms. Sy is as baba op ’n kinderhuisstoep gelos met ’n saffier wat per ongeluk laat val is. Die saffier lei haar uiteindelik na die buurplaas La Montagne, maar die antwoorde kom nie maklik nie.

Intussen floreer haar loopbaan as fotograaf en sy word ’n pos aangebied op Liberté waar haar en Liam se paaie kruis. Hy is aanvanklik nors en ongeskik, maar stelselmatig sien Louisa ’n ander kant van hom, veral as hy met haar dogtertjie Rose speel.

Lelies vir Louisa is deel van LAPA Uitgewers se SuperRomanza-reeks, en volg op Rose vir Roselle. Die karakters uit Rose vir Roselle maak almal weer hul verskyning, en daar is ’n paar nuwes by.

Man sonder weerga

Bets Smith
Romanza-omnibus
9780799389876
R225,00

Bets Smith se eerste omnibus!

Bets Smith is een van Afrikaans se gevestigde skrywers. Behalwe vir romanses, skryf sy ook spanningsverhale.

Hierdie omnibus is ’n samestelling van drie van Bets se vorige Romanzas, Die towerformule, Liefste Valentyn en Engel sonder vlerke. Al drie verhale het ’n hospitaal-, of mediese, agtergrond.

Die towerformule: Esti se nuwe huisbaas op die Noord-Kaapse dorpie verwar haar. Is Bernhard Ehmke die beer, wat hom oor vroue ontferm, of die wolf, wat harte verorber? Maar beer of wolf, dié dokter sal haar nie ook meesleur nie.

Liefste Valentyn: Elvira vermoed lankal Marius gebruik haar. Die hospitaalgange dreun oor hom en die baas se dogter. Reuel, die nuwe chirurg, wil Marius jaloers maak, en Elvira wonder – is sy verpletter? Of dalk verlig?

Engel sonder vlerke: Minette se laaste studiejaar ontaard in ’n nagmerrie toe sy self moet sorg vir elke sent wat sy benodig. Sy waardeer beslis nie die enigmatiese dokter Hugo Storm se ongevraagde inmenging in haar lewe – of haar hart – nie.

Towerman

Wilreza Smit-Theron
9780799388145
R90,00

Lea reis na Zanzibar om innerlike genesing te vind, want drie jaar ná haar man se dood rou sy steeds. Wie is die reus van ’n blondekopman met mosgroen oë wat daar as haar hoeder optree én die lig in haar weer aansteek?

Somersprokie

Alma Carstens
9780799388176
R90,00

Charlotte, oftewel Charlie, vra vir Christiaan om haar te help om haar seehuisie op te knap, maar hy besef hy sal sy gevoelens vir haar in toom moet hou want wie sê haar verhouding met James Duncan, die internasionale rolprentheld, is verby?

My ster jou ster

Malene Breytenbach
9780799388206
R90,00

In Milan ontmoet Tatiana, ’n Suid-Afrikaanse sopraan, die aantreklike operaster, Igor Radonowski. Hy maak haar maak bene lam, maar sy vind uit dat hy getroud is. Sy moet sy aantrekkingskrag weerstaan…

Stoppelbaardsoene in Santorini

Cecilia Steyn
9780799388237
R90,00

Isak Clarke en sy aangenome seun, daag onverwags ’n dag vroeër in Santorini op. Isak is gewoond om sy sin te kry, maar hy sal dit nie met Gita regkry nie. As hy nie net die mooiste, ongeskikte man was wat sy nog ooit gesien het nie! Dit is Steyn se eerste Romanza.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest