OppieStoep is terug om jou hardop te laat lag!

Seisoen 2 skop 8 Julie op ShowMax af.

OppieStoep is die tuiste van storievertel in Afrikaans. Pietman Geldenhuys en Andries Vermeulen is die aanbieders van dié reeks, wat vir die beste storievertellers in Afrikaans ’n platform skep om hul talente met kykers te deel. In die tradisie van Spies en Plessis en Maak ’n Las – maar met ’n nuwerwetse benadering – skep OppieStoep die perfekte atmosfeer vir mense se stories om lewe te kry. In die tweede seisoen kuier ’n rits bekende gaste en storievertellers saam met Pietman en Andries.

Margit Meyer-Rödenbeck en Pedro Kruger maak gereelde verskynings saam en Pieter Koen maak ook in meer as een episode ’n draai. Thys die Bosveldklong kom spin sy stories saam met Steyn Smit en Isak Volgraaff, en Jannie de Bruin bring vir Tommy die grootbek pop saam, wat mos net so lief is om lang stukke te sny. Van die ander storievertellers wat die stoepstoele warm gaan kom sit, is André Josias, John Benn, Don Theart, Retha Rix, Poem Mooney, Hennie le Roux, GP van Rheede van Oudtshoorn, Jak Janse van Vuuren, Pieter Moller, Réne du Preez, Kassie van Zyl en Leon Beukes.

Aanhanger van die storiekuns van Kokkie de Kock, Wilhelm Bierman en Dries Wiese? Of vertel Thys Mentoor, Human du Toit of Alan Hughes jou soort stories? Daar is ’n verteller vir elke streek en smaak – met stories van Potchefstroom tot Mosselbaai, die Klein Karoo en Namakwaland wat verteenwoordig word.

Die musikant Schalk Joubert maak ook musiek en bring vir elke episode ’n spesiale gas saam, van Danie Niehaus tot Melissa van der Spuy, Janine Neethling, Loki Rothman, Theo Crous en Hanepoot van Tonder – om maar ’n paar te noem. As jou ore al lankal vir ’n behoorlike storie lus is, moet jy beslis inteken op ShowMax. Daar is weekliks ’n nuwe episode van OppieStoep en elke episode is tjokkenblok vol vermaaklike, verrassende en soms ongelooflike stories, soos net Suid-Afrikaners dit kan vertel.