Parlement Parlement – Nuwe KykNET-komedie

In Suid-Afrika kan plaaslike komediante skaars kompeteer met die sirkus wat gereeld in ons parlement afspeel, maar die nuwe paneelkomediereeks Parlement Parlement wys dat die professionele narre darem nog net-net die oorhand het. Elana Afrika-Bredenkamp is die aanbieder, as Madame Speaker – die bewaker van sin en rede. Die paneel bestaan uit Wikus du Toit, Wicus van der Merwe, Melt Sieberhagen, Hannes Brummer, Piet Matipa, Frankie Fire, Johrné van Huyssteen, Anne Hirsch, Margit Meyer-Rödenbeck, Marion Holm, Joey Rasdien, Je-Ani Swiegelaar, Johann Vermaak, en die wonderlike Louw Venter.

Daar elke week ’n ander bekende gas wat met die parlement kom debateer oor belangrike sake wat die samelewing raak. Dis nou belangrike sake soos boeremusiekkwotas, ’n wetsontwerp op boerekos, klakouse op sosiale media, regstellende aksie in die braaivleisbedryf, terugbetaling vir swak TV-programme en die netelige kwessie van vroueregte. Soos in die werklike parlement klap die tonge en word daar soms met taai klappe gedreig, maar anders as in ons agbare regering word dit hier in die goeie gees van gehaltekomedie gedoen.

Gaste wat tydens die 13 episodes ’n verskyning sal maak, is Kabous Meiring, Moeneeb Josephs, Carine Rous, Rina Nienaber, Bennie Fourie, Karlien van Jaarsveld, Robbie Kruse, Cindy Swanepoel, Edwin van der Walt, Rian van Heerden, Dewald Wasserfall, Mark Banks en Germandt Geldenhuys. Saam sal hulle probeer om die toekoms van ons land se politiek uit te stryk, te beraadslaag oor lyfstraf en two-tone hemde en basies al die land se probleme oplos. Maklik! (En snaaks!)

Almal wat in politieke debat (en Nataniël se “worswet”) belang stel sal iets vind om oor te lag op Parlement Parlement. Geniet elke week ’n nuwe episode op ShowMax, om te kyk net waar en wanneer jy wil. Lag maar oor Suid-Afrika se mense en hul dinge – want daar’s eintlik nie veel anders wat jy kan doen nie.