Uit en Tuis met Pieter Pienaar

Uit en Tuis is die rubriek waar ons met mense gesels wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar nou weer terug is in Suid-Afrika. Ons verneem graag van enigiemand wat sy of haar belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Pieter Pienaar, wat die afgelope jaar in China deurgebring het en voorheen ook vier jaar in Saoedië Arabië gewoon en gewerk het.

  • Vertel ons meer van jouself en waar jy woon.

Ek is oorspronklik ’n seun van die Kalahari-omgewing en het vir sowat 15 jaar in Pretoria gewoon terwyl ek as kunsonderwyser werksaam was. Ek het egter die besluit geneem dat dit tyd geword het om die wye wêreld as ’n alleenloper te verken. Ek het daarna vier jaar lank kuns as vak by ’n privaat skool vir Arabiese seuns in die Midde-Ooste aangebied; dit was egter baie uitdagend. Die skool is in ’n stad langs die Rooisee geleë en my boek SHUKRAN is op hierdie vier jaar gebaseer. Tans woon ek in China, waar ek ’n bloutjie geloop het met die bestuur van ’n internasionale skool wat deur buitelanders vir Chinese bestuur word, maar gelukkig het daar ’n ander deur vir my oopgegaan. Ek woon tans in Suzhou, maar trek binnekort Wuhan toe. Wuhan staan bekend as die Chicago van China omdat al die vervoerlyne daar byeenkom. (’n Mens kan seker sê dit is die De Aar van Suid-Afrika!)

  • Wat doen jy daar?

Ek is ’n kunsonderwyser, maar tussendeur die skoolhou, mense ontmoet en interessante disse proe, probeer ek ook my eie kuns beoefen. Ek het selfs in April vanjaar ’n vrolike abstrakte uitstalling in samewerking met ’n Chinese kunstenaar gehou.

  • Was dit moeilik om in ’n ander land aan te pas?

Die aanpassing in die Midde-Ooste was baie makliker as die intrapslag in China, want in die Arabiese lande is daar baie Suid-Afrikaners wat mekaar ondersteun. Indien ’n mens jou eie taal hoor, maak dit al jou uitdagings ’n bietjie meer draaglik en hanteerbaar. Hier in China, waar ek nou al amper ’n jaar my kop bo water probeer hou, is dit egter ’n perd van ’n ander kleur. China is gróót en ’n mens se brein – as buitelander – kan dit nie begryp nie, al probeer jy hoé hard. In die meeste gevalle is eensaamheid en ontgogeling jou as uitlander se voorland indien jy jou in China wil vestig. Dit hang ook natuurlik af waar in China jy jou bevind. In Sjanghai is dit meer kosmopolitaans en jy kan jouself in Engels toedraai, want daar is baie Engelssprekendes. In die plattelandse dorpe gaan dit egter wild, want gebare taal is jou voorland, maar gelukkig is daar darem deesdae talle slimfoon-toepassings wat vreemdelinge vir mekaar verstaanbaar maak, al is dit soms met komiese gevolge. Om op te som: Die Arabiese lande is ’n droom vir die Afrikaner, maar die Verre Ooste gaan jou moontlik koggel!

  • Wat is die lekkerste en slegste avonture wat jy al daar beleef het?

Ek gaan nou oor China praat, want as ek oor Arabië praat, gaan mense nie my boek lees nie, want daar is 385 bladsye waarin ek oor al my wedervaringe daar praat. Ek gaan nou so ’n bietjie oor China “skinder”. Volgens my gewaarwordinge is dit heeljaar Kersfees in China, want jy sien kersversierings oral en omdat hulle seker nie verstaan waaroor dit gaan nie en China boonop 80 persent van al die versierings van die mensdom plaaslik vervaardig, hang hulle dit seker maar op omdat dit vir hulle mooi is. My grootste frustrasie buiten die taal en die komplekse realiteit van ’n vriendekring bou, is die bene wat in hulle disse is. Ek kan nie verstaan dat hulle so baie van bene in hulle kos hou nie. Blykbaar is die “skoonsuig” van bene ʼn lekkerny vir meeste Chinese en ek praat nou nie van lekker “boeresopbene” nie, maar van hoenderpote, hoenderkoppe, koue gekookte hoender wat mooi in stukke gekap word en dan bedien word. Kom ons laat die kos nou net eers daar, maar daar is darem ook talle Chinese disse wat heerlik en bekoorlik vir die lippe sing.

China is lowergroen, pragtig maar vogtig, warm en ongenaakbaar by tye en die landsburgers kan bot voorkom, totdat hulle jou egter in hulle harte toelaat en daar klim jy nie gou-gou uit nie. Ek het aan die begin van my verblyftydperk in China gevoel asof ek bietjie mal raak, maar soos ek rustiger geword het, het ek tot dié gevolgtrekking gekom: Dit is nie my land nie, maar ek moet die beste maak van die situasie en daar is nie ’n ander keuse nie.

Gelukkig is daar in elke nasie, volk en taal mense met sagte harte en die een sagte hart voel die ander sagte hart aan en voor jy jou kom kry, is die bitter versuiker en het die lig oor jou donkertes gegly. Nou, nadat ek een jaar in China agter die blad het, weet ek dat ek kans sien vir wat voorlê. Ongelukkig is daar altyd die aanpassingstryd, maar dit word darem versag deur avontuur, heerlike kos en medemenslike warmte.

  • Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika?

Natuurlik mis ek my familie, die warmte van die Boerevolk, die vinnige koffiedrinkery met jou vriende, die lekker saameet en -kuier, die diep gesprekke in Afrikaans, die Afrika-son en die verstaanbare klimaat.

  • Hoe het immigrasie jou geraak

Ek het nie geïmmigreer nie, maar besluit om vir ’n tyd lank buite die landsgrense te gaan werk, omdat ek nie beter werk in Suid-Afrika kon kry nie. Ek wou Suid-Afrika regtig nie verlaat nie. Ek was 46 toe ek egter my tasse gepak het, want selfs met ’n doktorsgraad in opvoedkundige berading kon ek nie ’n ander werk kry nie en nadat ek as wit man vir talle poste aansoek gedoen het en onsuksesvol was, het ek uiteindelik die einde van my dierbare “Europese” geduld bereik. Ek hoop egter om in Suid-Afrika af te tree.

  • Wat geniet jy die meeste van die lewe in China?

Noudat die aanpassingstyd verby is en ek my “krokodiltrane” afgevee het en myself weer hartlik as ’n “oorlewende” kan omhels, kan ek begin om China te geniet. Ek het met opset ’n kunsuitstalling van my abstrakte werke hier bewimpel om die kunsgemeenskap in Suzhou te ontdek en dit het soos ’n bom gewerk, want nou is ek deel van ’n “onsigbare” gemeenskappie wat ’n mens nie elke dag sien nie, hoewel jy weet hulle is daar. Ek geniet die ware vriende wat ek hier gemaak het, asook die pragtige natuurskoon en die gevoel van veiligheid wat ek hier beleef. O, amper vergeet ek! Die Chinese vervoerstelsel is absoluut fantasties! ’n Mens kan heerlik sonder jou eie wiele floreer en ek is mal daaroor. Ek het geen fiets of motor nie, net my voete en jy kan orals kom, want daar is busse vir elke roete en daar is ook moltreine te kus en te keur. Ek kan ’n monument vir die Chinese oprig vir hulle vindingrykheid en die feit dat hulle treine op tyd is.

  • Kom jy terug Suid-Afrika toe

Ek hoop om my weer in Suid-Afrika te vestig nadat ek my “sending” voltooi het.

  • Enigiets anders wat jy wil byvoeg?

Ek sou graag ’n boek wou skryf oor hierdie rowwe jaar wat ek onder die harde bestuur van ’n “psigopatiese skoolhoof” moes verduur, maar my kop tol nog so ’n bietjie. Ek dink ek sal hierdie boek in Engels moet skryf en ek dink aan ’n titel soos Hotpot with a Pinch of Curry. Ek is nog nie gereed om weer my hand aan ’n nuwe boek te waag nie, want my hart is nog rou ná die drama by my werkplek, maar een ding is gewis – ek gaan melding maak van die werkplekboelies. Hulle gaan nie skotvry daarvan afkom nie en mag die pen steeds magtiger as die swaard wees!

Woon jy in die buiteland? Vertel ons daarvan. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za.