Leesvordering:

Uit en Tuis Rubriek – Groete uit Suidoos-Asië

Jul 14, 2016

Uit en Tuis is die rubriek waar ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar nou weer terug is in Suid-Afrika. Ons verneem graag van enigeen wat hulle belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Conrad en Mareli Theron wat in Suidoos-Asië woon.

  • Hallo Conrad en Mareli! Vertel ons meer van julleself en waar julle woon. 

Ons is onlangs getroud en het besluit om ons lewenslange droom aan te pak en deur die wêreld te gaan toer in plaas daarvan om vir twee weke wittebrood te gaan hou op die Maledive of een of ander tropiese paradys. Ons is op die oomblik in Suidoos-Asië en het al Viëtnam, Laos, Thailand en Kambodja gesien. Ons beplan om nog ‘n draai te maak in Maleisië, Singapoer, Australië en Indonesië.

  • Wat doen julle daar?

Die meeste van die tyd toer ons die land plat, maar werksgewys het ons tot dusver al ‘n bietjie Engelse klasse aangebied en werk op die oomblik in ‘n bioskoop (“cinema”), kroeg en restaurant. Ons werk in ruil vir ‘n bord kos en verblyf en probeer ons randjies so ver as moontlik rek. As fotograwe maak ons ook ʼn punt daarvan om soveel as moontlik foto’s te neem.

  • Was dit moeilik om in ‘n ander land aan te pas?

Dit is nie moeilik nie, meer frustrerend met tye. Met die min Engels in Asië is dit nie altyd maklik om uit te kom waar jy wil wees of te kry wat jy soek nie. Natuurlik is die kos en kultuur ook heeltemal anders en dit vat ʼn rukkie om gewoond te raak aan die Ooste se anderse maniere as jy gewoond is aan Westerse maniere.

  • Wat is die lekkerste en slegste avonture wat julle al daar beleef het?

Elke dag is ‘n nuwe avontuur en daar is vele gebeurtenisse wat ons altyd sal onthou. Een wat uitstaan, is ons avontuur op ‘n motorfiets deur Viëtnam. Dit was een van ons beste én “slegste” tye. Ons was twee mense met bagasie en al op ‘n 100 cc-motorfiets en het 1 000 km kafgedraf op ons ysterperd. Op die motorfiets sien ʼn mens goed wat jy nooit uit ‘n bus sal sien nie en jou tyd is jou eie. Die slegter goed is seer boude, ‘n klein ongelukkie en vele kere se stop, want die motorfiets kon net nie die bulte op sonder om eers af te koel nie. Dit was tot dusver die hoogtepunt van ons toer.

  • Wat mis julle die meeste van Suid-Afrika?

Ons mis ons taal, ons kultuur, braai en braaibroodjies, vriendelike mense en natuurlik ons vriende en familie.

  • Hoe het immigrasie julle geraak?

Ons het nie geëmigreer nie, maar toer en verken net die wêreld. Suid-Afrika is waar ons harte altyd sal wees.

  • Wat geniet julle die meeste van die lewe in Suidoos-Asië?

Om ander kulture te sien en te leer van dinge waaroor ons naïef is, soos die oorlog in Viëtnam, die 280 miljoen bomme wat op Laos geval het en die 750 000 mense wat in die sewentigs en tagtigs onder die regering van Pol Pot doodgemaak is. Ons ontmoet mense van reg oor die wêreld met wie ons gereeld stories oor ons tuislande en toerondervindings deel. Maar die lekkerste van als is om elke oggend wakker te word en nie te weet wat die dag vir ons inhou nie.

  • Kom julle terug Suid-Afrika toe?

Ons beoog om teen volgende jaar tuis te wees, maar dit hang maar alles af van ons finansies omdat ons nie ‘n definitiewe inkomste het nie.

  • Was dit maklik om julle voete daar te vind?

Ons sukkel maar nog steeds om die kosse te verstaan, die verskillende tale en ook verskillende stede/dorpe. ‘n Mens besef vinnig hoe gemaklik jou lewe by die huis is.

  • Enigiets anders wat julle wil byvoeg?

Ons nooi graag mense om na ons webtuiste te gaan loer en kommentaar te lewer op ons gebeurtenisse en foto’s.

www.findingcloudcuckooland.co.za

Groete!

 

Meer oor die outeur

Sue-Ann de Wet

Sue-Ann de Wet is die Hoof van Diaspora by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest