Leesvordering:

Wêreldwyd kuier in Dubai

Mei 25, 2017

Wêreldwyd het van 15 tot 20 Mei vanjaar saam met ander Suid-Afrikaners, asook van Suid-Afrika se beste kunstenaars soos Arno Jordaan, Dewald Wasserfall, Leah, Snotkop, Willem Botha en die Weiveld-span na Dubai getoer. Dit was ’n absolute voorreg om hierdie toer te kon meemaak.

Dag 1

Ons vlieg van O.R. Tambo Internasionale Lughawe met ’n oorgangsvlug via Kaïro na Dubai.

By die lughawe word ons deur sowel ’n Engels- as Afrikaanssprekende toergids ontvang wat baie hulpvaardig en vriendelik is. Ons akkommodasie vir die week is in Citymax Hotel Al Barsha. Dié hotel bied moderne akkommodasie en is gerieflik sentraal geleë, reg oorkant die Mall of Emirates, een van die wêreld se grootste winkelsentrums.

Dag 2

Dié oggend wag ons toerbus voor die hotel vir ons. Toe ons op die bus klim, word ons verras met Afrikaanse musiek wat speel … Stel jou self voor: Jy luister na Groen Mamba in Dubai! Soos ons ry, val dit my op dat daar om ons orals vernuwing plaasvind. Letterlik orals is daar nuwe geboue wat opgerig word. Die strate is pynlik netjies en geen rommel lê rond nie. Die groen grasperke langs die strate is ’n aangename verrassing tussen die blink, hoë geboue, en ek verstaan waarom Dubai vir sy ultramoderne argitektuur bekend is.

Ons kry ’n geleentheid om strandfoto’s van die Burj Al Arab-hotel te neem. Die Burj Al Arab-hotel is tans die enigste 7 ster-hotel in die wêreld – en ook een van die duurstes.

Ons besoek ook die indrukwekkende Atlantis Hotel – ’n luukse hotel op die mensgemaakte Palm Jumeirah-argipel wat heeltemal op die Atlantis-tema gebaseer is. Ons word ook later na dié argipel via ’n onderwatertonnel geneem. Die tweede argipel (Palm Jebel Ali) is reeds onder konstruksie en sal drie keer groter as die oorspronklike een wees. Daar is ook planne om ’n derde een te bou en dié sal vyf keer groter wees as Palm Jebel Ali. Alles is groter in Dubai!

Die kwik in Dubai draai vandag by 40 °C!

 

 

Ons lê dié aand ’n besoek by die Dubai Mall af. Dis die grootste winkelsentrum in die wêreld en spog met lugreëling, blitsvinnige WiFi, luukse handelsname en restaurante.

 

 

Buite word ons deur die Dubai-waterfonteine vermaak. Die Dubai-fontein spuit water so hoog as 500 voet (of 152,4 m) in die lug op – so hoog soos ’n 50 verdieping-gebou! Dis ontwerp deur die skeppers van die Fonteine van Bellagio in Las Vegas en is van elke punt op die promenade en van baie naburige strukture sigbaar. Die uitvoerings vind om 13:00 en om 13:30 plaas, asook elke 30 minute van 18:00 tot 22:00 op weeksdae en van 18:00 tot 23:00 oor die naweke (naweke hier is Donderdag, Vrydag en Saterdag). Dit was die eerste keer wat ek die Dubai-fontein te siene gekry het en ek was verbaas oor sy waterdansvertoning. Die keuse van die musiek self is ongelooflik. Woorde en foto’s kan dit regtig nie beskryf nie. Ek beveel ’n besoek aan hierdie fonteine by enigiemand aan wat Dubai besoek.

 

 

Een van die hoogtepunte van ons toer was die besoek aan die wêreldbekende Burj Khalifa. Teen 829,8 m hoog en met 163 verdiepings is dit tans die wêreld se hoogste mensgemaakte struktuur – drie keer so hoog as die Eiffeltoring in Parys! Al staan ons hóé ver, kan ek steeds nie die Burj Khalifa op een foto inkry nie.

 

 

Dag 3

Gouden speseryesouk

Ons besoek vandag die goud- en speserye-souk. Dit is ’n bedekte goud-en-speserymark in ’n sentrum van Dubai. Goeie raad vir dié stalletjies is om vir ’n goeie prys te beding. As hulle sê 100 dirham, dan sê jy 70 – en dan moet jy vasstaan! As jy goeie bedingingsvermoë het, kan jy met ’n paar winskopies wegstap, maar die smouse kan oorweldigend en intimiderend wees en vat nie sommer nee vir ’n antwoord nie!

 

 

Woestynsafari

Teen 15:00 word ons by die hotel met Toyota Land Cruisers van Dessert Adventures opgelaai. Ons gaan op ’n woestynsafari sowat 70 km buite Dubai – en dis beslis nie gemaak vir dié wat maklik karsiek raak nie! Soos ons op en af oor die duine ry, kom daar benoude gille van die dames in die kajuit.

Teen sonsondergang kom ons op een van die hoogste duine tot stilstand, waar ons foto’s van die sandduine teen die oranjegeel lug kan neem. Die angswekkende tuimeltreinrit was die moeite werd om dié asemrowende uitsig te kan aanskou. Almal hardloop soos kinders by die duine af en op.

Net voor dit donker word, stop ons by ’n Bedoeïene-kamp in die hart van die woestyn. Almal sit op matte op kussingstoele langs rye kniehoogte tafels. Hier wag ’n heerlike feesmaal op ons: Gebraaide hoender, skaap en vis en ’n magdom bykosse.

Op die oop verhoog in die middel kom ’n man met ’n wye hoepelrok opgestap. Hy draai in die rondte en sy rok draai saam: al hoër totdat dit tot by sy nek draai. Tot ons almal se verbasing skakel hy skielik die rok se liggies aan!

 

 

Dag 4

By die Dubai Marina troon ’n string wolkekrabbers bo ons uit. Ons vaar saam met ander Suid-Afrikaners wat in Dubai woon op ’n luukse boot al langs die meer. Dit is lekker om met almal daar te kan gesels en meer oor hul ervaring en lewe in Dubai uit te vind. Dubai loop oor van moontlikhede en geleenthede vir Suid-Afrikaners.

Minder as 15% van Dubai se inwoners is Emirate-burgers; die res is buitelanders. Suid-Afrikaners is die sesde grootste groep buitelanders. Die meeste Suid-Afrikaners hier bly in die buitewyke van Dubai – hoe verder jy buite Dubai bly, hoe goedkoper is dit. Skoolopleiding hier is ook baie duur – die gemiddelde jaarlikse skoolfonds is ongeveer R200 000.

 

 

Dag 5

In Dubai strek naweke oor Vrydae en Saterdae. Ek woon dus op Vrydagoggend (Suid-Afrika se Sondag) ’n erediens van die Afrikaanse Gemeentes VAE by. Dit is só lekker om in Dubai in my moedertaal te kan bid, te sing en Bybel te lees!

 

 

Die Kuier in Dubai #5-konsert word in die Zinc Nagklub by die Crowne Plaza Hotel gehou. Dié aand vermaak Leah, Willem Botha, Dewald Wasserfall, Arno Jordaan en Snotkop meer as 450 Suid-Afrikaners in Dubai. Ná vier dae se toer saam die kunstenaars vergeet mense amper van hul talente omdat hulle soos die res van die toergroep voel. Die oomblik toe hulle op die verhoog klim, word jy weer herinner aan hoeveel talent Suid-Afrika het en hoe bevoorreg ons is om so ’n trotse kultuur en taal te hê. Die kunstenaars het die gehoor behoorlik op hul voete! Elke kunstenaars sing sy eie treffers, maar ook liedjies wat ’n mens bietjie laat huis toe verlang. Menige Suid-Afrikaner sokkie op die dansbaan. Selfs die baie kwaai sekuriteitsmense in die nagklubs kan nie stilstaan toe Snotkop op die verhoog klim nie.

 

 

Dubai stel nie teleur wanneer die energieke naglewe begin nie! Soms vergeet ’n mens dat jy hiér in die woestyn is. Tydens die konsert ontmoet ek baie Suid-Afrikaners – eintlik tydelike emigrante, omdat Dubai nie burgerskap bied nie, net goeie werksgeleenthede. Dubai is beslis ’n stad waar baie verskillende kulture oor die weg kom en meer verdraagsaam teenoor mekaar se geloof en leefwyse is.

Dis my eerste besoek aan Dubai, maar beslis nie die laaste nie. Dubai is ʼn ongelooflike stad, is veilig en bied heelwat besienswaardighede, winkelsentrums en hotelle om van te kies en keur.

Sue-Ann de Wet is projekkoördineerder van Suid-Afrikaanse Diaspora by AfriForum en hanteer AfriForum se Wêreldwydveldtog.

Lees ook:
Kuier in Dubai 2017 – Dewald Wasserfall
Afrikaans is internasionaal – Leah
Mooi herinneringe uit Dubai – Willem Botha

Meer oor die outeur

Sue-Ann de Wet

Sue-Ann de Wet is die Hoof van Diaspora by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest