Leesvordering:

5 redes waarom jy vir jou kind Afrikaanse rympies moet lees

Nov 27, 2019

Deur Jaco Jacobs

Onthou jy nog die rympies wat jy as kind geleer het?

Ta-ra-ra-ra, boemdery, Oupa het ’n vark gery! Of: Karalie Karool, die kat speel viool? Of wat van: Trippe, trappe, trone, varkies in die bone?

Afrikaans het ’n ryk tradisie van kinderverse – ’n skatkis van oorspronklike rympies sowel as vertalings en verwerkings van klassieke Europese en Amerikaanse volksrympies.

Rympies is heerlike lawwe pret en plesier, maar volgens kenners speel dit ook ’n belangrike rol in jou kind se ontwikkeling. Hier is vyf goeie redes om vandag nog vir jou kind te begin rympies lees:

1. Kinders wat vroeg vertroud gemaak word met rym, leer makliker lees.

Bookstart.org.uk verduidelik dat kinders vroeg reeds kan leer “kat” rym met “mat”, en dat hierdie basiese kennis later lees en spelling aansienlik vergemaklik. ’n Britse studie het bevind kinders wat teen vier jaar oud reeds agt rympies of meer uit die kop ken, is geneig om uit te blink in spelling en lees teen die tyd dat hulle in graad drie kom.

2. Rympies prikkel jou kind se kreatiwiteit. ’n Koei wat bo-oor die maan spring?

’n Apie met ’n gaatjie in sy broekie wat voor die agterdeur beland? Ou tante Viljoen wat saam met haar klomp kinders in ’n skoen bly? Oupa wat op ’n vark ry? Watter lekkerder manier is daar om jou kind se verbeelding te stimuleer? Rympies maak jou kind nuuskierig oor die wêreld en leer hom om dinge uit ’n ander hoek te bekyk!

3. Dis goed vir die geheue. Om rympies uit die kop te leer is uitstekende oefening vir jou kind se geheue.

Rympies leer jou kind vroeg reeds om storiegebeure sinvol aan mekaar te string en in volgorde te onthou, want baie rympies bestaan uit ’n aantal opeenvolgende gebeure wat ’n storie vertel. Begin met eenvoudige rympies en vorder geleidelik na langer versies wat die kind moet leer opsê.

4. Dit leer jou kind ritme en taalspel. Allawiek! Allawak! / Ons gaan pannekoek bak / met suiker en melk en eiers.

Hierdie eenvoudige versreëltjies het nie net ’n lekkersê-ritme nie – dit bevat ook literêre tegnieke soos klankherhaling en opnoeming. Hoe vroeër jou kind aan hierdie soort kreatiewe taalspeletjies blootgestel word, hoe gouer maak jy hom/haar sensitief vir taal en die lekkertes daarvan. Die patrone en herhaling in rympies kan ook help met die ontwikkeling van wiskundige geletterdheid.

5. Rympies is pret! Baie ouers sukkel deesdae om tyd te maak om hardop vir hul kinders te lees.

Dis egter maklik om tyd vir ’n prettige rympie of twee in te ruim – leer dit speel-speel in die motor op pad skool toe, of maak rympies deel van etenstyd (Jakkals nooi vir Gansie. “Kom eet vanaand by my”) of badtyd (As Boetie bad, is alles nat). Rympies is ’n maklike manier om kinders te leer dat boeke nie net bedoel is vir leer nie – hulle is vol pret en plesier! ’n Liefde vir lees is immers een van die grootste geskenke wat jy jou kind kan gee.

Sukkel jy om die kinderversies en rympies te onthou wat Oupa of Ouma jou kleintyd geleer het? LAPA Uitgewers het ’n bundel met van die bekendste Afrikaanse kinderrympies – al die rympies wat hier bo as voorbeelde genoem is, verskyn daarin, saam met vele meer! Siembamba: Immergroen rympies vir kinders is ’n lieflike hardebandboek, in volkleur geïllustreer, met al jou gunsteling- Afrikaanse rympies. Die samesteller, Wendy Maartens, sê sy het maande lank in biblioteke rongesnuffel, mense op straat voorgekeer, rympies uit gesinne geryg, saam met boemelaars op sypaadjies gesit en uit haar herinneringe van haar eie kinderdae geput om hierdie kosbare skatkis van kinderverse saam te stel. Bestel dit vandag nog by www.lapa.co.za, stuur e-pos na lapa@lapa.co.za.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest