Leesvordering:

Afknouery in skole – is jou kind dalk die boelie?

Sep 5, 2018

Afknouery kan gedefinieer word as magsmisbruik en aggressiewe gedrag met die opset om gereeld en herhaaldelik af te knou. Afknouery kan bestaan uit slaan, skop, boks, dreigemente, die verspreiding van skinderstories, sarkasme, verkleinering of spot. Boelies probeer graag om beheer oor ander kinders te kry deur afknouende woorde te gebruik of handgemeen te raak. Hulle tree vyandig en aggressief teenoor hul slagoffers op.

Dogters én seuns kan boelies wees of afknouerige gedrag toon. Seuns is meer geneig om hulle slagoffers fisies af te knou deur hulle te slaan of te skop, terwyl dogters eerder indirek afknou deur skinderstories te versprei of deur ’n kind uit die groep uit te sluit. Afknouery kan al in die kleuterskool of tydens die eerste paar jaar op laerskool begin. Dit kan eskaleer en aan die einde van die kind se laerskoolloopbaan of aan die begin van die hoërskoolloopbaan ’n hoogtepunt bereik. Teen die einde van só ’n kind se hoërskoolloopbaan kan die kind by kriminele voorvalle betrokke raak of tekens van bendegedrag toon. Dit is daarom belangrik dat jy as ouer, terwyl jou kind nog jonk is, stappe moet neem om te voorkom dat die kind in ’n boelie verander. Dit is belangrik om aandag te gee aan kinders wat geboelie word, maar dit is net so belangrik om ondersteuning te bied aan die boelies self. Daarom moet ouers ook weet hoe om tekens van boeliegedrag by hulle kinders raak te sien.

Daar is verskillende vorme van afknouery, naamlik fisiese, verbale, emosionele, rassistiese, seksuele en kuberafknouery.

’n Kind wat self boelie:

  • het vriende wat ander afknou;
  • word gereeld na die hoof se kantoor gestuur, of moet ná skool bly vir detensie;
  • blameer ander mense of kinders vir hul probleme;
  • is behep met sy/haar populariteit en reputasie onder leerders;
  • is baie kompeterend;
  • raak betrokke by fisiese of verbale bakleiery;
  • word vinnig kwaad of aggressief;
  • het skielik nuwe besittings of ekstra geld wat nie verduidelik kan word nie; of
  • neem geen verantwoordelikheid vir sy/haar optrede nie.

Dit is nie altyd maklik om te erken dat jou kind dalk ’n boelie is nie. As ’n ouer wil jy nie hê jou kind moet vir die res van sy lewe ’n boelie bly nie, want situasies kan vererger soos die kind ouer word. Dit is daarom belangrik om jou kinders se gedrag deurentyd dop te hou en op te let of hulle enige van die bogenoemde tekens toon. Kinders weet dit is verkeerd om ander af te knou, daarom doen hulle dit juis wanneer daar nie ouers in die omtrek is nie. Kuberafknouery neem ook geweldig toe omdat die internet as ’n ouervrye omgewing beskou word. Omdat ouers in die duister gehou word oor wat hulle kinders op die internet en op hul selfone aanvang, het hulle geen beheer oor die situasie of die negatiewe gevolge van kuberafknouery vir hulle kinders nie. Ouertoesig is noodsaaklik om afknouery stop te sit.

Dr. Joel Haber, ’n kenner van afknouery en skrywer van die boek Bullyproof your Child for Life, sê jou kind is moontlik ’n boelie indien hy/sy:

  • ander by hul vriendekring uitsluit;
  • aanhou met onaanvaarbare en onaangename gedrag wanneer jy reeds vir hom/haar gesê het om daarmee op te hou;
  • onverdraagsaam is en minagting toon vir kinders wat as anders of vreemd beskou word;
  • gereeld ander kinders spot of tart;
  • deurlopende aggressiewe en wrede videospeletjies speel;
  • diere seermaak; of
  • ander kinders seermaak of beskinder.

As ’n ouer het jy ’n geweldige invloed op jou kind se lewe. Ons is almal gewone mense wat soms afknouerige gedrag toon – dit is natuurlik en beteken nie noodwendig dat ons slegte mense is nie. Dit is belangrik dat ons oop en eerlik oor ons eie gedrag moet dink en onsself dan moet afvra of ons kinders ook hierdie soort gedrag toon.

Dit is van kardinale belang dat ouers onder geen omstandighede die boeliekind moet verwerp nie, maar hom/haar juis meer liefdevol moet behandel. En hulle moenie huiwer om deskundige hulp te kry nie.

Laai gerus AfriForum se teenboeliegids af vir meer inligting deur op die volgende skakel te klik: https://www.afriforum.co.za/wp-content/uploads/Teenboeliegids_Digital.pdf; of stuur vir Leandie Bräsler ’n e-pos by leandie.brasler@afriforum.co.za en vra haar om dit vir jou aan te stuur.

Leandie Bräsler: AfriForum se koördineerder vir leierskapsontwikkeling

Meer oor die outeur

Leandie Bräsler

Leandie Bräsler is bestuurder van junior leierskapontwikkeling by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

In ’n wêreld vol onbekendes is daar een bekende: Afrikaans is Groot. Dis ’n saamkomplek omjou taal, jou kultuur en jou menswees te vier. En die jaar is geen uitsondering wanneer diegrootste familie-reünie nóg vanaf 8 to 17 November 2024 in die SunBet Arena in...

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum, ’n organisasie wat vandag meer as 315 000 lede in elke uithoek van die land verteenwoordig, vier vandag sy agtiende bestaansjaar. Dié burgerregteorganisasie is op 26 Maart 2006 vir die eerste keer aan die publiek bekendgestel in ’n berig oor sy...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest