AfriForum antwoord graag op ’n onlangse artikel in die New York Times (“In South Africa’s Fabled Wine Country, White and Black Battle Over Land”, 9 Maart 2019) waarin dié burgerregteorganisasie genoem word. Die organisasie wil terselfdertyd sommige van die skreiende valshede uitwys wat die artikel tot ’n reeds plofbare gronddebat toevoeg.

“Die New York Times-artikel, asook ’n ander New York Times-artikel waarna dit verwys, bevat valshede en steun grootliks op ’n vals narratief wat aan AfriForum toegeskryf word. AfriForum is die grootste burgerregteorganisasie in Afrika, met meer as 218 000 lede wat maandeliks tot sy pogings bydra. Buiten verskeie veldtogte wat AfriForum loods om die regte van swart gemeenskappe en persone in Suid-Afrika te beskerm, en ten spyte van die organisasie se volgehoue verdoeming van wit rassisme en rassistiese groepe volhard die New York Times daarin om AfriForum as ’n verregse groep te beskryf,” sê Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum.

Dit is nie maklik om ’n duidelike prentjie van grondbesit in Suid-Afrika te skep nie. Die New York Times-artikel haal statistiek aan dat bykans 70% van Suid-Afrikaanse plase wat deur individue besit word deur wit mense beheer word. Roets sê dat dié statistiek misleidend is en ’n vals persepsie skep. Hoewel ’n grondoudit, wat in 2014 deur Suid-Afrika se departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming uitgevoer is, aandui dat 79% van die land se grond nog in privaat besit mag wees, dui dit nie dié grondeienaars se ras aan nie.

Volgens ’n 2017-grondoudit deur AgriSA besit swart Suid-Afrikaners meer as of bykans die helfte van alle landbougrond in drie van Suid-Afrika se vrugbaarste provinsie: die Oos-Kaap, Limpopo en KwaZulu-Natal. Boonop beheer grondeienaars wat nie wit is nie meer as 46% van Suid-Afrika se landboupotensiaal. In KwaZulu-Natal alleenlik word 45,4% van landbougrond (oppervlakarea) deur swart mense besit. Dit verteenwoordig 73,5% van die landboupotensiaal van die provinsie.

Die volledige AgriSA-verslag kan hier gelees word:

https://www.politicsweb.co.za/documents/land-in-black-hands-the-definitive-report–agri-sa

’n Spesiale verslag deur die Sentrum vir Ontwikkeling en Ondernemingskap noem dat ’n totaal van 17 439 miljoen hektaar sedert 1994 vanuit wit eienaarskap oorgedra is, wat gelykstaande is aan 21% of 82 759 miljoen hektaar landbougrond in volle besit in Suid-Afrika. Dit is ontmoedigend dat die mosie om Artikel 25 van die Grondwet te verander die feite oor die ware vordering van grondherverdeling en restitusie geïgnoreer het – asook die finansiële realiteite van landbou.

Boonop is 24,03% van grond in Suid-Afrika in staatsbesit, aldus AfriForum se navorsingsverslag. Dié verslag kan hier gelees word:

https://www.afriforum.co.za/wp-content/uploads/AfriForum-Land-and-land-reform.pdf

Die artikel steun dwarsdeur swaar op emosionele taalgebruik. Dit klink meer soos ’n subjekte narratief as ’n akkurate weergee van feite:

“They still lived in flimsy shacks in cramped quarters, while Mr. Smit and his friends hold vast tracts of land brutally snatched from African inhabitants generations ago and deliberately kept in white hands for decades to come.”

Volgens Ernst van Zyl, ’n veldtogbeampte by AfriForum, is hierdie opmerking histories verkeerd en toon dit ’n kommerwekkende gebrek aan kennis oor Suid-Afrika se ingewikkelde verlede, demografiese verdeling en geskiedenis van die betrokke wynstreek.

“Die Hollanders het in die 1650’s in die Wes-Kaapse wynstreek aangekom en die Xhosas eers in die 1770’s by die Visrivier ontmoet – meer as 900 km van Kaapstad. Die narratief dat swart Suid-Afrikaners reeds dié betrokke wynstreek in die 1650’s bewoon het, is bewysbaar vals en vererger ’n reeds kontroversiële en omstrede kwessie. Mens hoef niks verder te kyk nie as ’n kaart van die demografiese verspreiding van swart Suid-Afrikaners om te sien dat die wynstreek diep binne die streek gesetel is wat histories nog nooit deur swart stamme bewoon is nie. Die artikel erken egter die feit dat nuwe swart inwoners daagliks na die Stellenbosch-gebied migreer, wat die historiese afwesigheid van swart inwoners in dié gebied onderstreep.”

Baie Suid-Afrikaanse politici voer gereeld aan dat “wittes die land gesteel het”. Volgens AfriForum is dit die enkele grootste historiese onwaarheid in die Suid-Afrikaanse konteks van ons tyd. Daar is drie maniere waarop wit mense grond in Suid-Afrika bekom het, naamlik:

  1. Vestiging op onbewoonde grond;
  2. Aankoop van grond deur verdrae, samewerking en ooreenkomste; en
  3. Die mees kontroversiële, maar onbelangrikste, deur oorwinning.

Die New York Times-artikel kleur die grondkwessie in Suid-Afrika aan as uitsluitlik die gevolg van die derde punt. Dié opvallende oorvereenvoudiging van Suid-Afrikaanse geskiedenis is uiters skadelik vir rasseverhoudinge in die land en lei slegs tot  vyandigheid en beswaddering.

Die artikel demonstreer dat die Suid-Afrikaanse politiek en geskiedenis veel ingewikkelder is as wat die New York Times kan begryp. Daarom, eerder as om ’n vals narratief voor te hou – wat die beswaddering van en vyandigheid jeens wit boere veroorsaak – en die vlamme van rassespanning in Suid-Afrika aan te blaas, versoek AfriForum die New York Times en soortgelyke publikasies om beide kante van die verhaal aan te hoor voordat hulle hul eie menings op ’n reeds gespanne Suid-Afrikaanse politieke debat toepas. AfriForum is meer as bereid om buitelandse publikasie van ons versigtig nagevorste statistiek en historiese feite voorsien.

“Kom ons werk saam om valse, oningeligte en vyandige narratiewe te beveg, eerder as om dit te verewig. ’n Paar klikke op ’n onakkurate artikel is tog sekerlik nie die skade werd wat dit aan Suid-Afrika se rasseverhoudinge kan berokken nie?” sluit Van Zyl af.

Lees die New York Times-artikel hier:
https://www.nytimes.com/2019/03/09/world/africa/stellenbosch-south-africa.html.

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Wêreldwyd
Wêreldwyd

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest