Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag ’n veldtog van stapel gestuur waarvolgens die publiek betrek word om standpunt teen die konsepwetsontwerp op onteiening in te neem. Dit volg nadat Thulas Nxesi, minister van openbare werke, op 21 Desember 2018 dié konsepwetsontwerp in die Staatskoerant gepubliseer het en ingevolge wetgewing die publiek genooi het om binne sestig dae daarop kommentaar te lewer. Hierdie veldtog word deur die webblad www.onteiening.co.za (vir Afrikaans) of www.expropriation.co.za (vir Engels) gedryf.

Volgens Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, is daar ’n reeks wesenlike gebreke in die konsepwetsontwerp en is dit noodsaaklik dat die publiek by die stryd betrokke raak om eiendomsreg te beskerm. In sy voorlegging het AfriForum dit gestel dat daar op twee vlakke kommentaar gelewer moet word. “Daar is ’n reeks gebreke in die fyn besonderhede van die konsepwetsontwerp wat ons in ons voorlegging uitwys. Een voorbeeld is die vae definisie vir ‘openbare belang’, wat dit vir die ANC moontlik maak om sy politieke agenda as die openbare belang te beskou. Ons moet egter nie in die detail van die konsepwetsontwerp verstrengel raak nie, aangesien die grootste probleme nie in die detail gesetel is nie, maar in die regerende party se breë ideologiese vertrekpunte, rassistiese agenda en die verkondiging van ’n verwronge beeld van Suid-Afrika se geskiedenis en van gesonde ekonomiese beginsels,” meen Roets.

AfriForum se kommentaar oor die wetsontwerp is gevolglik in makro- en mikrokwessies verdeel.

Die makrokwessies wat uitgelig word, is die volgende:

  1. Die konsepwetsontwerp moet gesien word binne die konteks van die ANC se nasionale demokratiese rewolusie, ingevolge waarvan die ANC in sy eie beleidsdokumente verklaar dat hy beoog om soveel mag as moontlik in die staat te setel. Dit is noemenswaardig dat die konsepwetsontwerp byvoorbeeld nie voorsiening daarvoor maak dat eiendom wat deur die staat onteien word, weer in privaat besit geplaas word nie.
  2. Die vernietigende ekonomiese beleid wat met die konsepwetsontwerp voorgestaan word. Die konsepwetsontwerp maak dit vir die staat moontlik om op ingrypende wyse te peuter met die basiese beginsels wat as voorvereiste vir ekonomiese vooruitgang dien.
  3. Die heldeverering wat die regerende party het vir diktators wat hul onderskeie ekonomieë deur middel van die onteiening van privaat eiendom vernietig het. Die ANC volstaan steeds by die stelling dat diktators soos Hugo Chavez en Robert Mugabe as helde beskou moet word, juis vanweë hul rewolusionêre optrede. Die redelike vraag wat steeds nie beantwoord word nie, is watter aansporing daar vir die regerende party bestaan om nie die vernietigende gedrag van sy helde na te boots nie as hulle juis as gevolg van daardie vernietigende gedrag as helde beskou word.
  4. Die regering se baanrekord as dit by korrupsie en wanadministrasie kom, lei ’n redelike persoon tot die gevolgtrekking dat die regering nie vertrou kan word om ’n plofbare kwessie soos onteiening verantwoordelik te bestuur nie.
  5. Uit die politieke debatte ter motivering van hierdie konsepwetsontwerp is dit duidelik dat die regerende party en sy alliansievennote ’n kru rassistiese motief huldig. President Cyril Ramaphosa het gesê dat die grond vir “ons mense” gegee moet word en gebruik daardie term om spesifiek na swart mense te verwys. Adjunkpresident David Mabuza het gedreig met ’n gewelddadige oorname as wit mense nie uit vrye wil hul eiendom aan swart mense oorhandig nie, en Zweli Mkhize, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het gesê dat geen swart persoon se eiendom vir onteiening geteiken sal word nie.
  6. Die konsepwetsontwerp word gemotiveer deur ’n verwronge beeld van Suid-Afrika se geskiedenis. Dit is waar dat onteiening plaasgevind het – nie net met swart mense nie, maar ook met wit mense. Wat nie gesê word nie, is dat mense in baie van hierdie gevalle reeds vergoed is (wat die noodsaak van onteiening sonder vergoeding neutraliseer) en ook dat hierdie onteienings op spesifieke plekke plaasgevind het en slegs spesifieke mense daardeur geraak is. Hierdie plekke en mense kan maklik geïdentifiseer word. Die konsepwetsontwerp word egter gemotiveer deur die verwronge beeld dat alle swart mense deur alle wit mense, regoor die oppervlak van Suid-Afrika onteien is.
  7. Die konsepwetsontwerp laat baie ruimte vir dubbelsinnige vertolkings van die teks en bevat ook verskeie skuiwergate wat deur korrupte staatsamptenare uitgebuit kan word. Die feit dat die Mothlanthe-kommissie bevind het dat korrupsie een van die grootste struikelblokke met betrekking tot grondhervorming is, word geheel en al deur die opstellers van die wet geïgnoreer.
  8. Die konsepwetsontwerp is voortydig, aangesien daar steeds ’n proses is waarvolgens die publiek insette oor onteiening sonder vergoeding kan lewer. Hoewel die openbaredeelnameproses grootliks afgehandel is, is daar steeds ’n dispuut oor die wyse waarop die publiek se insette verwerk is.
  9. Dit is duidelik dat die opstellers van die konsepwetsontwerp geen ag geslaan het op die meningspeilings deur verskeie navorsingsinstellings wat telkens bevind het dat die oorgrote meerderheid van die publiek nie ten gunste van onteiening sonder vergoeding is nie en dit ook nie as een van die mees brandende kwessies in Suid-Afrika beskou nie. Die fokus moet eerder op werkskepping en die verligting van armoede wees. Ironies genoeg kan dit slegs bereik word deur die teenoorgestelde te doen as waarmee die regering tans besig is – eiendomsreg moet beskerm en die mark gedereguleer word.
  10. Die regerende party se voortgesette dryf om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, sal die posisionering en beeld van die regerende party wêreldwyd van bevryder tot onderdrukker verander.

Hierdie redes, asook kommentaar op die detail van die konsepwetsontwerp, is reeds by die kantoor van die direkteur-generaal van openbare werke ingedien. AfriForum moedig die publiek egter aan om die veldtog teen onteiening te ondersteun deur hul stem by die veldtog te voeg. Dit kan gedoen word deur die webblad www.onteiening.co.za te besoek.

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Wêreldwyd
Wêreldwyd

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest