Leesvordering:

AfriForum en die verhouding met emi- en remigrante

Mar 31, 2023

Deur Alana Bailey

Migrasie is ’n verskynsel wat so oud soos die mensdom is. Dit word bewys deur argeologiese ontdekkings wêreldwyd wat aandui hoe daar letterlik duisende jare gelede al handel tussen streke en kontinente plaasgevind het.

Die afgelope dekades het vooruitgang in die vervoerbedryf dit nog makliker gemaak om te reis én te migreer – hetsy tydelik of permanent. Teen die 1990s is dienstydperke in verskillende lande selfs as ’n voorvereiste vir korporatiewe sukses op die hoogste vlakke voorgehou.

In die buiteland word die waarde van lande se ekspats lankal besef. Soms gaan studeer hulle in die buiteland en bring nuutverworwe kennis en kapitaal na hulle geboorteland terug. Ander kere werf hulle beleggers vir projekte of stuur geld na familie en vriende tuis en skep so ’n noodsaaklike maatskaplike hulpbron. Party sien ook leemtes in die geboorteland se mark raak en keer terug om dit te vul. Soms is daar politieke of kulturele voordele, soos met die Spaanse uitgewekenes wat tale soos Gallisies, Katalaans en Baskies in die buiteland lewendig gehou het toe die gebruik van dié tale in Spanje tot vervolging kon lei. Kortom, ’n migrant wat tydelik in die buiteland gaan woon, of ’n emigrant wat sy land permanent verlaat, laat ’n leemte in die geboorteland, maar kan ook op velerlei wyses waarde toevoeg tot sy land en gemeenskap tuis.

In Duitsland het die Caritas-organisasie wat aan die Rooms-Katolieke Kerk verbonde is, byvoorbeeld voornemende emigrante van inligting help voorsien sodat hulle met realistiese verwagtinge na die buiteland kon gaan. Dit maak baie sin, want wanneer iemand onwettig of onkundig emigreer, moet die persoon dikwels gerepatrieer word, wat groot koste vir hulle geliefdes of die geboorteland se belastingbetalers kan beteken.

Ierland se Emigrant Support Programme (ESP), omskryf hulle fokus as ’n inisiatief “waardeur die Ierse regering finansiële ondersteuning bied aan organisasies wat betrokke is by die lewering van eerste linie adviesdienste en gemeenskapsorg aan Ierse emigrante, veral aan die meer kwesbare en gemarginaliseerde lede van die Ierse gemeenskap in die buiteland, insluitend bejaardes.”

Die Nederlandse Taalunie (NTU), ’n inter-regeringsinisiatief van Nederland, België en Suriname, het ’n webportaal genaamd mijnNederlands vir enigeen oor die wêreld wat Nederlands leer, dit onderrig, aspekte van die taal navors of dit gebruik. Vanjaar op Internasionale Moedertaaldag (21 Februarie 2023) is ’n nuwe afdeling op hierdie webwerf bekendgestel, naamlik Voor Nederlandstalige (r)emigranten. Daar kan Nederlanders en Vlaminge in die buiteland praktiese inligting vind oor skakeling met die Nederlandse en Belgiese owerhede, die taal Nederlands, Nederlandse kultuur en geskiedenis, Nederlandstalige onderwys en tweetalige opvoeding, asook kulturele aktiwiteite en nuusdienste soos Nederlandstalige digitale koerante en tydskrifte.

Hoewel hierdie aanslag vir die NTU nuut is, is dit asook meegaande dienslewering presies wat AfriForum reeds van sy stigting af, en voor dit deur die Kom Huistoe-veldtog van 2003 af, vir ons mense in die buiteland aanbied.

Tragies genoeg het die regering dekades lank die standpunt gehuldig dat emigrante soos stiefkinders behandel moet word. Valutabeheer en die onlangse hersiene belasting vir burgers in die buiteland is maar enkele voorbeelde in dié verband. In 2009 moes AfriForum as vriend van die hof saam met die Vryheidsfront Plus in die Konstitusionele Hof veg vir die reg van burgers in die buiteland om aan Suid-Afrikaanse nasionale verkiesings deel te neem – ’n proses wat steeds moeilik vir voornemende kiesers kan wees. Steeds geld die belaglike bepaling ook nog dat gebore burgers hulle burgerskap kan verloor wanneer ’n buitelandse burgerskap sonder toestemming aanvaar word.

Daarteenoor word daar nou al ’n tyd lank in konsepwetgewing oor migrasiebestuur in die land raamwerke voorgestel om die plaaslike betrokkenheid van mense in die buiteland te probeer verseker en die terugkeer van remigrante te vergemaklik.

Of iets daarvan ooit sal realiseer, sal die tyd ons leer. Wat ook al die uitkoms daarvan sal wees, bly AfriForum Wêreldwyd daartoe verbind om diens aan ons mense in die buiteland te lewer en om diegene wat terugkeer ook so ver as moontlik van advies te bedien of na betroubare diensverskaffers te verwys. Die unieke Wêreldgids is maar een van die maniere waarop ons aan so ’n diens bou. AfriForum is ook altyd bereid om voorstelle vir die uitbreiding van ons aktiwiteite te ontvang. Ons standpunt bly dat ons mense buite ons landsgrense ons beste ambassadeurs is en deur die tuiskomplek wat ons in die kuberruim vir hulle skep, kan hulle steeds ’n dinamiese deel van ons gemeenskap wees.

Bly dus asseblief betrokke en moedig ook al jou kennisse, vriende en familie in die buiteland aan om saam met AfriForum Wêreldwyd te kuier!

Meer oor die outeur

Alana Bailey

Alana Bailey is Hoof van Kultuursake by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Uit en tuis: ’n e-pos uit Florida

Uit en tuis: ’n e-pos uit Florida

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Nicolene Coetzee, wat vir...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest