Leesvordering:

AfriForum neem formeel standpunt in teen naamsverandering van die Afrikaanse Taalmonument en -museum

Jun 1, 2022

AfriForum het op Saterdag, 28 Mei 2022, die openbare raadplegingsessie van die Afrikaanse Taalmonument en -museum se raad in die Paarl bygewoon. Die raad se voorsitter, adv. Jean Meiring, het by dié geleentheid skriftelike insette van die gehoor en algemene publiek gevra. AfriForum se kommentaar is dus op 31 Mei 2022 aan hom en die direkteur, Michael Jonas, gestuur. Dit lui:

Geagte adv. Meiring en mnr. Jonas

Hiermee soos versoek tydens die openbare raadplegingsessie van 28 Mei 2022 in die Paarl, AfriForum se inset oor minister Nathi Mthethwa se voorgestelde naamsverandering van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument.

Namens die 302 088 lede van AfriForum (ledetal soos vanoggend om 09:59) maak ons ten sterkste beswaar teen enige naamsverandering van die instelling.

Die huidige naam is akkuraat en ons vind geen element van polarisasie of eksklusiwiteit daarin, of in die huidige optrede van die instelling se bestuur nie. In teendeel, ons wil die raad en personeel komplimenteer vir die wyse waarop hulle verseker dat alle besoekers aan die museum, monument, webwerf en sosiale media welkom voel en ingesluit word.

’n Taal met die unieke geskiedenis van Afrikaans, met wortels in drie kontinente, van meet af moedertaalsprekers van alle rasse en die prestasie van hoëfunksiestatus wat in die twintigste eeu saam met slegs drie ander tale bereik is, verdien tog om gevier te word en te inspireer. Selfs uit die onverwagse hoek van Mahmood Mamdani is in 2017 tydens die TB Davie Gedenklesing by die Universiteit van Kaapstad erkenning aan dié uniekheid gegee. ’n Berig van Daily Maverick verklaar:

African languages have remained “folkloric”, Mamdani said: not the bearer of a scientific or scholarly tradition. But there is one noteworthy exception on the African continent: that of Afrikaans.

“It is no exaggeration to say that Afrikaans represents the most successful decolonising initiative on the African continent,” Mamdani said, to murmurs of interest from the audience. He pointed out that it took just half a century of a “vast affirmative action programme” for Afrikaans to be lifted from the status of other African languages to be the bearer of an intellectual tradition.

“The great irony is that [this success story] was not emulated by the government of independent South Africa,” says Mamdani, with reference to other indigenous South African languages.

[https://www.dailymaverick.co.za/article/2017-08-23-mahmood-mamdani-sixteen-years-on-ucts-old-nemesis-returns-to-talk-decolonisation/]

Die langtermyn ideaal sal wees dat al ons inheemse tale ewe sterk ontwikkel, gebruik en waardeer sal word. Om dít egter te probeer bereik deur erkenning aan een taal te verwater, die simboliek van een gemeenskap se erkenning te ontken en die spesifieke fokus van ’n erfenisbaken prys te gee, is ’n daad van verdeling en disrespek. Die verwydering van die fokus op Afrikaans in die naam en die wese van die museum en monument sal niks anders wees as ’n daad van damnatio memoriae teenoor ’n gemeenskap nie. Optrede van hierdie aard het geen plek in ons tyd waar die bewaring van unieke erfenishulpbronne van alle kultuurgemeenskappe juis erken en gekoester word as ’n internasionale reg en verantwoordelikheid nie – sien byvoorbeeld uitsprake in dié verband tydens die Internasionale Strafhofsaak van 2016 [https://www.icc-cpi.int/mali/al-mahdi].

Verder spreek ons ons kommer uit oor voorgestelde wetgewing om van die instelling saam met ander ’n enkele vlagskipmuseum te maak. Die risiko is dat dit in ’n amorfe instelling kan versmelt wat fokus en spesialisasie verloor.

Die huidige ministeriële inmenging in die aard van die instelling skep die indruk dat hy dit as instrument wil gebruik waardeur die Afrikaanssprekende gemeenskap se aandeel aan die opbou van die land ontken kan word. Dit is in skrille kontras met die aanhef van die Suid-Afrikaanse Grondwet waarin ons juis verklaar:

Ons, die mense van Suid-Afrika,
Erken die ongeregtighede van ons verlede;
Huldig diegene wat vir geregtigheid en vryheid in ons land gely het;
Respekteer diegene wat hul beywer het om ons land op te bou en te ontwikkel; en
Glo dat Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon, verenig in ons verskeidenheid.

As oplossing vir die onnodige kontroversie, stel ons voor dat die Afrikaanssprekende gemeenskap se diverse verteenwoordigers saamkom, ’n alternatiewe bestuursmodel vir die Afrikaanse Taalmuseum en -monument saamstel en dat die minister dan sy reg gebruik om die eiendomsreg van die instelling af te staan aan so ’n volhoubare gemeenskapsgedrewe alternatief.

AfriForum sal graag ’n konstruktiewe rol speel in onderhandelinge van dié aard.

Op 18 Mei 2022 het AfriForum ook ’n vergadering met Mthethwa oor die aangeleentheid aangevra. Ontvangs van die skrywe is erken, maar geen verdere terugvoer is nog ontvang nie.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Natasha Viljoen wat al ses...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest