Leesvordering:

AfriForum-ontwerper maak Turkye-nagmerrie mee

Jul 21, 2016

Rozier van Tonder, grafiese ontwerper by die burgerregte-organisasie en sy vrou, Leandré, se eerste oorsese reis het hulle lighoofdig gelaat toe hulle hulself die naweek in Istanbul in Turkye midde-in die mislukte staatsgreep bevind het.

Die Van Tonders en vriende het op 2 Julie op hul vakansie na  Turkye en Roemenië vertrek. Hulle het agt maande hieraan beplan.

Volgens Van Tonder was hulle aanvanklik bietjie skrikkerig om met die reis voort te gaan ná die bomontploffing op 28 Julie op die Alaturk-lughawe in Instanbul waarin 36 mense dood en 147 beseer is.

Met hul aankoms op die lughawe was daar steeds duidelike tekens van die terreuraanval. “Die lughawe was besig en ’n gedeelte was afgesper. Die winkels was gesluit en van die winkelvensters was gekraak en vol koeëlgate. Ons toergids het gesê die toeriste-bestemmings is na die voorval baie stiller as gewoonlik. Daar was op die lughawe en in die stad oral gewapende sekuriteitswagte, hoewel dit vreedsaam voorgekom en die mense soos gewoonlik gekom en gaan het,” het Van Tonder vertel.

Hulle het op 9 Julie na Roemenië vertrek en weer op 15 Julie op die Ataturk-lughawe aangekom. “Met ons terugkoms was die skade van die bomontploffing reeds herstel. Ons is na ons aankoms met openbare vervoer na die Mansion by Cheers-hostel waar ons tuisgegaan het. Dit is in die Sultanahmed-gebied en naby die Bosphorus Brug. Ons het middagete gehad en vir oulaas na die Grand Bazaar met meer as 4 000 winkels gegaan en vir ons Turkse lampe gekoop.

“Met ons terugkoms by die hostel het ons aandete gemaak waarna die eienaar van die hostel, Emre Güler, ons meegedeel het hy dink iets in die stad aan die gang omdat twee Amerikaners wat moes kom laat weet het dat hulle op die brug vasgekeer is.

“Ons het die televisie aangeskakel en gehoor dat ’n groep van die Turkse weermag besig is om ’n staatsgreep uit te oefen.”

Volgens Van Tonder het hulle almal toe sosiale media begin volg om uit te vind wat besig was om te gebeur. “Güler het ons aangeraai om nie weer uit te gaan nie. Deur die loop van die nag het ons talle kanonskote en geweervuur gehoor, terwyl baie vliegtuie voortdurend laag oor die stad gevlieg het. Ons was nie bewus van wat werklik gebeur nie.”

Van Tonder het gesê hulle het die volgende oggend wakker geword van ondersteuners wat in die strate met rooi vlae geloop en hul steun aan die Turkse president Tayyip Erdogan uitgebasuin het.

Volgens hom was die strate Saterdagoggend stil voordat hul met hul toerbus na die lughawe geneem is om na Suid-Afrika terug te kom. “Die lughawe was verskriklik besig, met ondersteuners wat vlae uitgedeel het. Ons het by die lughawe verneem dat alle vlugte gekanselleer is. Ons moes met Egypt Air terugkom en sou in Egipte ’n oorvlug kry. Na ’n gesukkel en samesprekinge met die lugredery het ons uiteindelik gister ’n direkte vlug met Turkish Airlines na Suid-Afrika gekry.”

Volgens Van Tonder was hulle nie aanvanklik bang nie. Selfs nie na die bomontploffing nie. “Ons het eers werklik stres  begin ervaar toe ons die nag skote en vliegtuie gehoor het. Ons is dankbaar om veilig terug te wees, al wag ons nog vir ons bagasie wat in Istanbul agtergebly het.”

Minstens 265 mense is in Vrydagaand se terreuraanval dood waarin rebellesoldate tenks, helikopters en vegvliegtuie gebruik het om Erdogan se regering omver te werp. Erdogan se Islamitiese ideologie skep reeds lank probleme en konflik met die weermag wat al voorheen staatsgrepe uitgeoefen het.

Hierdie artikel het oorspronklik in Forum Nuus verskyn
Geskryf deur Alet Rademeyer
Foto’s geneem deur Rozier van Tonder

 

Meer oor die outeur

Sue-Ann de Wet

Sue-Ann de Wet is die Hoof van Diaspora by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

In ’n wêreld vol onbekendes is daar een bekende: Afrikaans is Groot. Dis ’n saamkomplek omjou taal, jou kultuur en jou menswees te vier. En die jaar is geen uitsondering wanneer diegrootste familie-reünie nóg vanaf 8 to 17 November 2024 in die SunBet Arena in...

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum, ’n organisasie wat vandag meer as 315 000 lede in elke uithoek van die land verteenwoordig, vier vandag sy agtiende bestaansjaar. Dié burgerregteorganisasie is op 26 Maart 2006 vir die eerste keer aan die publiek bekendgestel in ’n berig oor sy...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest