Leesvordering:

AfriForum plaas saak van onteiening sonder vergoeding in kollig by VN

Nov 22, 2018

Die burgerregte-organisasie AfriForum woon vandag en more die sitting van die VN se Forum vir Menseregte, Demokrasie en die Regstaat in Genève, Switserland by om steun te werf teen die regering se voorgenome grondwetwysigings om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak. Hierdie stap is deel van dié organisasie se verskerpte internasionale veldtog om druk teen onteiening sonder vergoeding te mobiliseer en inligting oor die gevaarlike pad wat met grondhervorming ingeslaan word, wyer bekend te maak.

Volgens Alana Bailey, wat die VN-byeenkoms in haar hoedanigheid as adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum verantwoordelik vir internasionale skakeling bywoon, het dié organisasie reeds aan sy regspan opdrag gegee om vir regsoptrede om die grondwetwysigingsproses te stuit, voor te berei.  Internasionale druk in die verband is egter ook noodsaaklik.

Die Suid-Afrikaanse Grondwet en die beskerming van eiendomsregte wat daarin vervat is, is die resultaat van ’n onderhandelde skikking wat in die vroeë 1990’s tussen verskeie partye, waarvan die ANC en die destydse NP-regering kernrolspelers was, bereik is. President Cyril Ramaphosa en die ANC se besluit om die Grondwet te wysig om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, dui ongelukkig daarop dat die ANC besig is om 1994-ooreenkoms blatant te verbreek. Aangesien druk vanuit die internasionale gemeenskap ’n rol gespeel het om die onderskeie partye sover te kry om die 1994-skikking aan te gaan, het dit nou ook ’n verantwoordelikheid om te help toesien dat die ANC by dié ooreenkoms hou.

Bailey het beklemtoon dat AfriForum nie ’n verantwoordelike program van grondhervorming teenstaan nie. “Wanneer egter van die beginsel van gewillige verkoper, gewillige koper afgesien word – soos wat nou voorgestel word – kan dit net tot nadeel van alle inwoners van die land wees,” verduidelik sy.

“AfriForum merk met kommer hoe president Ramaphosa aan die een kant die internasionale gemeenskap probeer oortuig dat die onteieningsproses grondwetlik en sonder ekonomiese skade vir die land sal verloop, maar hoe die Grondwet aan die ander kant nou geen sekerheid bied nie, aangesien dit gewysig gaan word om aan enkele partye se korttermyn verkiesingsmikpunte en langtermyn ideologiese doelstellings te voldoen,” sê Bailey.

“Die skade is reeds aangerig. Internasionale beleggers word deur die beleidsonsekerheid oor eiendomsregte in die land afgeskrik.  Eiendomspryse daal en boere is huiwerig om infrastruktuur op plase te ontwikkel, wat ’n invloed op voedselsekuriteit het.  Kredietgraderingsinstellings soos Moody’s, finansiële inrigtings (insluitend die Internasionale Monetêre Fonds), meningsvormers en finansiële deskundiges het almal al kommer, gesteun deur betroubare navorsingsresultate, laat hoor en steeds storm die ANC-regering op die pad van vernietiging voort.  Dit is die verantwoordelikheid van die burgerlike samelewing om alles moontlik te doen om te verhoed dat Suid-Afrika dieselfde rampspoed as lande soos Zimbabwe en Venezuela beleef,” sluit Bailey af.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

In ’n wêreld vol onbekendes is daar een bekende: Afrikaans is Groot. Dis ’n saamkomplek omjou taal, jou kultuur en jou menswees te vier. En die jaar is geen uitsondering wanneer diegrootste familie-reünie nóg vanaf 8 to 17 November 2024 in die SunBet Arena in...

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum, ’n organisasie wat vandag meer as 315 000 lede in elke uithoek van die land verteenwoordig, vier vandag sy agtiende bestaansjaar. Dié burgerregteorganisasie is op 26 Maart 2006 vir die eerste keer aan die publiek bekendgestel in ’n berig oor sy...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest