Leesvordering:

AfriForum se volhoubare gemeenskapsprojekte

Sep 8, 2020

Noordstreek

Moot: Noodwaterpuntprojek

Hierdie projek het ten doel om water aan die gemeenskap te voorsien tydens wateronderbrekings. Grootmaatwaterpunte is by sowel ’n skool as ’n sportklub opgerig.

Die water word verskaf deur bestaande boorgate wat aan drie 5 000 liter-watertenks gekoppel is. Albei waterpunte het vyf waterkrane; tien mense kan dus gelyktydig water tap. Dit neem ongeveer 18 sekondes om 20 liter water te tap, wat in teorie beteken dat ongeveer 36 000 liter water per uur verskaf kan word. Daar word egter beraam dat ongeveer 20 000 liter water per uur by elke punt verskaf sal word. Ongeveer 400 mense/huishoudings sal dus 50 liter water per uur ontvang. Hierdie waterpunte sal vir ses uur of langer per dag operasioneel wees. Twee addisionele grootmaatwaterpunte is tans in beplanning.

Tien privaat huishoudings met boorgate is ook beskikbaar om water op kleiner skaal aan inwoners te verskaf. Hierdie punte het egter nie wateropgaarfasiliteite nie en water word direk vanuit die boorgat verkry. Dit sal maksimum ’n uur per dag beskikbaar wees en sal in dié tydperk ongeveer 200 mense/huishoudings van 50 liter water voorsien. Daar word beoog om hierdie tien waterpunte tot 60 te vermeerder.

Kempton Park: Herwinningsprojek

AfriForum se Kempton Park-tak het ’n langtermynherwinningsprojek van stapel gestuur. Hierdie projek word in samewerking met M.E.S. (Mould, Empower and Serve), ’n niewinsgewende organisasie wat op werkskepping vir hawelose mense in Kempton Park fokus, geloods. Dié projek word reeds sedert Mei 2018 gedryf waartydens omheinde gemeenskappe, plaaslike skole en kerke ondersteun word.

Ná volgehoue vergaderings en samewerking met sowel M.E.S. as inwoners van die onderskeie gebiede, is herwinningseenhede in Van Riebeeck Landgoed, die Kaleideo Gemeente in Fiskaalstraat en die N.G. Kerk Kempton Hoogland in De Wiekusstraat gevestig. AfriForum verskaf die omgewingsvriendelike herwinningseenhede en M.E.S. verwyder die vullis. Die inkomste wat uit die herwinning van die vullis verkry word, word gebruik om werk vir hawelose mense in Kempton Park te skep. ’n Aanvraag na 48 nuwe herwinningseenhede word in die volgende twee jaar uitgerol.

Bethal-projekte

  • Ses watertenks is in gereedheid gekry om water aan die gemeenskap te voorsien indien Bethal se verskaffing nie voldoende is nie. Boere vanuit die omgewing vul die tenks met water, waarna AfriForum die tenks verskuif na gebiede waar dit benodig word.
  • Dertig asblikke is in die dorp se sentrale sakekern gemonteer. Dié asblikke word weekliks leeggemaak om die dorp skoon te hou.
  • AfriForum het ’n projek van stapel gestuur om Bethal se straatnaamblokke oor te verf en te herstel. Inwoners spring sommer self in met die herstelwerk, terwyl AfriForum die nodige toerusting en gereedskap verskaf.
  • AfriForum het gedurende 2019 en 2020 talle slaggate op belangrike roetes in Bethal opgevul. Meer as R300 000 se werk is reeds gedoen danksy die donasies van ondernemings en inwoners.

Nelspruit: Skoonmaakprojekte

Twee skoonmaakprojekte word maandeliks deur AfriForum uitgerol in samewerking met WeCare4Nelspruit. Tydens hierdie projekte word sowel velde as parke binne die dorp skoongemaak. Asblikke is ook in die dorp aangebring wat deur AfriForum gediens word om die strate skoon te hou.

Secunda: Noodwaterpuntprojek

Hierdie projek het ten doel om water aan die gemeenskap te verskaf tydens wateronderbrekings. Een grootmaatwaterpunt is by die Davieshof Ouetehuis opgerig.

Die water word verskaf deur bestaande boorgate wat aan drie 5 000 liter-watertenks gekoppel is. Die waterpunt het vyf waterkrane; vyf mense kan dus gelyktydig water tap. Dit neem ongeveer 18 sekondes om 20 liter water te tap, wat in teorie beteken dat ongeveer 18 000 liter water per uur verskaf kan word. Daar word egter beraam dat ongeveer 10 000 liter water per uur verskaf sal word. Ongeveer 200 mense/huishoudings sal dus 25 liter water per uur ontvang. Hierdie waterpunt sal vir ses uur of langer per dag operasioneel wees.

Sentraalstreek

Sasolburg: Grassny-inisiatief

Weens die verval van die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit het gras en bosse die groenstroke in hierdie gebied oorgroei. Dit het gevolglik tot ’n veiligheidsrisiko aanleiding gegee omdat verdagtes in die lang gras skuil. AfriForum se Sasolburg-tak het dus in 2019 ’n grassny-inisiatief op die been gebring. Tydens die eerste jaar van die projek is ongeveer 127 ha gras gesny en tot dusver in 2020 ongeveer 20 ha.

Potchefstroom en Vryburg: Slaggatherstelprojekte

AfriForum se Potchefstroom-tak vul weekliks slaggate op om die veiligheid van motoriste op die pad te verhoog. Oor die afgelope vier jaar is ongeveer 6 680 slaggate opgevul: 2 431 in 2017, 1 504 in 2018, 2 170 in 2019 en 575 tot dusver in 2020.

Die AfriForum-tak in Vryburg vul ook sedert Julie 2019 deurlopend slaggate op om die veiligheid van motoriste te verbeter. Tot op hede is reeds 2 000 m² se padoppervlak opgevul.

Bloemfontein: Reaksievoertuie

In Julie 2017 is ’n mediese reaksievoertuig, wat beman word deur vrywillige paramedici wat die gemeenskap van Bloemfontein tydens mediese noodgevalle bystaan, asook ’n reaksievoertuig wat 24 uur per dag patrolleer om inwoners te beveilig, in werking gestel.

Van Julie 2017 tot Julie 2020 het die mediese reaksievoertuig meer as 400 oproepe ontvang waarop gereageer is. 88,2% was traumaverwante noodoproepe, 10,5% medies-verwante noodoproepe en 1,3% brandverwante noodoproepe.

Margate: Noodwaterpuntprojek

Hierdie projek het ten doel om water aan die gemeenskap te voorsien tydens wateronderbrekings. ’n Waterpunt is by die N.G. Kerk Margate opgerig.

Die water word verskaf deur ’n bestaande boorgat wat aan een 5 000 liter-watertenk gekoppel is. Die waterpunt het vyf waterkrane; vyf mense kan dus gelyktydig water tap. Dit neem ongeveer 18 sekondes om 20 liter water te tap. Tydens die laaste “munisipale droogte” het die boorgat meer as 100 kiloliter water aan die gemeenskap verskaf. Die waterpunt word aan die gemeenskap beskikbaar gestel in tye van nood tussen 07:00 en 19:00.

Rustenburg: Skoonmaakprojek

Die Rustenburg Plaaslike Munisipaliteit versuim al ’n geruime tyd om gras in openbare gebiede te sny, asook om die paaie te onderhou. Dit het aanleiding gegee tot veiligheidsrisiko’s omdat verdagtes in die lang gras skuil, terwyl voertuie ook op die dorp se paaie beskadig word. Daarom is ’n skoonmaakprojek in November 2019 van stapel gestuur. Sedert die aanvang van die projek is die geskiedkundige ou begraafplaas opgeruim, terwyl die gras op die sypaadjies van strate twee keer per week gesny word. In Junie 2020 het die tak ook begin om slaggate een keer per week op te vul as deel van die projek.

Suidstreek

Stellenbosch: Tuininstandhoudingsprojek

AfriForum se Stellenbosch-tak wou ’n bydrae in die dorp lewer wat tot voordeel van die hele gemeenskap strek en het besluit om die tuin voor die aanklagtekantoor by die SAPD oor te doen. Dié projek is in Oktober 2019 van stapel gestuur. Die tak beoog om binnekort met die tweede fase van hierdie projek te begin en die tuin verder te verfraai, terwyl taklede ook die maandelikse instandhouding en onderhoud daarvan behartig.

Orania: Voedselproduksie

Tydens die voortgesette staat van inperking het talle mense tot die besef gekom dat dit noodsaaklik is om op ’n selfstandige en volhoubare wyse voedsel vir hulself te produseer. Om hierdie rede het AfriForum se Bo-Karoo-tak in samewerking met Saai groentesaad en -bakke aan die gemeenskap van Gannabos in Orania geskenk. Die doel van hierdie projek is nie net om die gemeenskap in staat te stel om vir hulself vars voedsel te produseer nie, maar ook om dit te kan ruil vir ander vars produkte of te verkoop vir ’n ekstra inkomste. Die gemeenskap neem dus eienaarskap van hierdie projek. Die tak is reeds besig om te beplan aan fase twee van hierdie projek waartydens selfs meer tipes vars produkte aangeplant gaan word.

Kuruman: Bewaringsprojek

Die Oog van Kuruman in die Kalahari is ’n natuurlike fontein wat water aan die gemeenskap van Kuruman voorsien. Die fontein is in 1992 tot ’n nasionale monument verklaar. Oor die jare het die fontein egter baie agteruitgegaan en daarom het die jeugvleuel van AfriForum se Kuruman-tak dit op 13 April 2019 tot sy voormalige glorie begin restoureer. Heelwat is tydens die aanvanklike projek gedoen: die fontein is vervang en ligte is geïnstalleer. Rainbow Systems het die arbeid en algemene goedere kosteloos voorsien, terwyl AfriForum die pype en ligte aangekoop het. Die plaaslike gemeenskap en ondernemings het ook hul gewig ingegooi om te help verseker dat die projek ’n sukses is. Die tak het ook die bosse om die terrein verwyder en/of gesnoei en dooie en ou bome wat reeds omgeval het, verwyder. Waterlelies is ook verwyder en gerehabiliteer deur dit na rehabilitasiedamme te skuif. Intussen sorg die tak deurlopend dat die fontein en die gebied daar rondom skoon en netjies bly.

Kuruman: Ontsmettingsprojek

Die AfriForum-tak in Kuruman het op 29 Mei 2020 inisiatief geneem om die hele middedorp te ontsmet om te verseker dat die inwoners wat tydens vlak 3 weer begin werk na ’n veilige en higiëniese omgewing kan terugkeer sonder om te vrees dat hulle COVID-19 sal opdoen. Die tak voer dié taak as ’n volhoubare projek uit en die dorp word drie keer per week ontsmet. Die ontsmetting word laataand gedoen wanneer daar geen motors of voetgangers is nie.

Port Elizabeth: Skoonmaakprojek

Die AfriForum-tak in Port Elizabeth het in Maart 2020 in samewerking met ’n span vrywilligers as deel van hul ankergemeenskapstrategie ingespring en die gebied wat aan die Konsentrasiekampgedenkteken grens (op die Old Greys-sportterrein) skoongemaak en opgeknap. Meer as 1,5 ton rommel en klip is verwyder en ’n nuwe tuin is gevestig. Ter ondersteuning van die landwye spekboomuitdaging is 50 spekboomsteggies in die nuwe tuin geplant. Die aanvanklike fase van hierdie projek het, ten spyte van vele hande, drie volle dae geneem. Sedert die tuin aangelê is word dit deur die tak onderhou en versorg.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest