Leesvordering:

AfriForum stel omvattende verslag oor Knysna-brande bekend

Aug 25, 2017

AfriForum het sy omvattende verslag sowel as ʼn dokumentêr, Knysna uit die As, oor die onlangse brande wat op 7 Junie verwoesting in dié gebied gesaai het, bekend gestel.

Dié verslag is deur dr. David Klatzow, ʼn forensiese wetenskaplike, saamgestel nadat AfriForum hom versoek het om ’n onafhanklike ondersoek na die oorsake van die brande te doen.

Klatzow het tydens ’n mediakonferensie gesê dat daar oënskynlik meer as een brand was wat in die Knysna-omgewing gewoed het, wat sy ondersoek bemoeilik het. “Om brandskade te ondersoek, is een van die grootste uitdagings van forensiese wetenskap omdat elke stukkie bewys ʼn belangrike rol speel om te verstaan wat die brand veroorsaak het.”

Hy het ook genoem dat die oorsake van brande gewissel het van menslike bedrywighede, ʼn weerligstraal, sterk winde en warm lug.

Tydens sy ondersoek is daar onder meer gekyk na wat die oorsaak van die oostelike brand by Dam se bos was. Hy voer aan dié vure is deur menslike bedrywighede veroorsaak en is deur sterk winde aangeblaas in ʼn oostelike rigting.

Die brande in die westelike gedeelte van die Knysna-strandmeer en Elandskraal-omgewing, wat langs Buffelsbaai gewoed het, is volgens Klatzow onverwant aan die vuur wat by Dam se bos begin het. Hy meen dié westelike vuur is veroorsaak deur ʼn ander smeulende vuur in Karatara, wat veroorsaak is deur ʼn weerligstraal, en later oor die Koppe gespring het na Pezula.

Gevolglik het die brande by Dam se bos en Elandskraal die aand van die 7 Junie by Pezula ontmoet en versprei na Plettenbergbaai.

AfriForum het verlede week ook met Helen Zille, Wes-Kaapse premier, en haar span ontmoet om die aangeleentheid te bespreek nadat ʼn ondersoekspan van die Knysna-munisipaliteit vroeër bevind het dat slegs menslike bedrywighede verantwoordelik was vir die brande.

Die burgerregte-organisasie se verslag verskil van die van die ondersoekspan en volgens Klatzow berus die Knysna-brandweer se bevindings op verkeerde en vals afleidings wat gemaak is. Hy meen die munisipaliteit moes ʼn onafhanklike ondersoek ingestel het.

Twee ander onafhanklike groepe het na bewering óók uiteenlopende verslae oor die oorsaak van die brande saamgestel.

Die burgerregte-organisasie het gister hul verslag aan Zille gestuur en in ʼn skrywe versoek dat ʼn kommissie van ondersoek ingestel word om al die verskillende verslae te ondersoek.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het tydens die konferensie gesê dat hul ontmoeting met Zille vrugte afgewerp het. “Meer as ’n duisend huise en 25 toeristebestemmings is verwoes tydens die Knysna-brande. Beide AfriForum en die Wes-Kaapse regering se oorkoepelende doelwitte is om te verhoed dat só iets weer gebeur.”

Benewens die verslag en dokumentêr het AfriForum ook in samewerking met Solidariteit Helpende Hand hul noodfonds uitgebrei en bystand aan slagoffers in brandgeteisterde gebiede gelewer deur verskeie benodigdhede aan te koop en te skenk.

AfriForum Trauma, ’n eenheid van dié burgerregtewaghond wat op trauma-ontlonting, -berading en –ondersteuning fokus, het ook berading aan slagoffers van die brande gebied. Nantes Kelder, hoof van AfriForum Trauma, het tydens die konferensie gesê dat die eenheid verlede week ʼn opvolgbesoek met slagoffers gehad het en dat dit positief was om te sien hoe sekere mense die trauma wat hulle ervaar het op ʼn positiewe manier aanpak. “Die pad vorentoe gaan nog baie lank wees, maar baie mense wil vorentoe beweeg.”

Lede van die publiek wat steeds ʼn bydrae wil lewer kan http://www.noodfonds.co.za/ besoek vir meer inligting.

Besoek www.afriforum.co.za en AfriForum se Facebook-blad om die volledige verslag te lees en na die dokumentêr te kyk.

Skryf deur Jhua-nine Wyrley-Birch vir Forum Nuus.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

In ’n wêreld vol onbekendes is daar een bekende: Afrikaans is Groot. Dis ’n saamkomplek omjou taal, jou kultuur en jou menswees te vier. En die jaar is geen uitsondering wanneer diegrootste familie-reünie nóg vanaf 8 to 17 November 2024 in die SunBet Arena in...

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum, ’n organisasie wat vandag meer as 315 000 lede in elke uithoek van die land verteenwoordig, vier vandag sy agtiende bestaansjaar. Dié burgerregteorganisasie is op 26 Maart 2006 vir die eerste keer aan die publiek bekendgestel in ’n berig oor sy...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest