My naam is Esmarie Yssel. Ek is ’n joernalis en omroeper by die radiostasie Pretoria FM.

Ek het Joernalistiek aan die destydse Technikon Pretoria studeer. As plaasmeisie van Donkerhoek het ek uit ’n plaasskool en Afrikaanse hoërskool by die Technikon ingestap, ietwat onkant betrap toe die wêreld om my skielik Engels lag, praat en leer. My brein het egter in sesde rat geleer werk om al my studiemateriaal in Afrikaans te vertaal, sodat ek my take in Afrikaans kon indien en my eksamens in Afrikaans kon aflê. Daaroor is ek tot vandag toe nie spyt nie. Afrikaans is nie net my families (ek is ’n nooi Prinsloo) se taal nie, maar my hart het gekies om gemaklik in Afrikaans te klop.

My loopbaankeuse het daartoe gelei dat die hoofbestanddeel van my werk taal is. Ek het my loopbaan as televisienuusverslaggewer by SAUK-nuus begin, en hoewel ek hoofsaaklik in Engels gewerk het, wat wéér vir dié plaasmeisie ’n nuwe leerkurwe was, het ek ook vir die Afrikaanse nuusbulletin stories verpak, wat my taalvermoë onder die leiding van die bulletin se gesoute taalpuriste tot ’n ander vlak ontwikkel het.

Afrikaans het dit vir my moontlik gemaak om tydens hofsake nader aan slagoffers én beskuldigdes se geliefdes te beweeg en stories te kry wat andersins ’n pad vol duwweltjies sou wees.

Ek het die verdwyning en later die moordsaak van die 7-jarige Sheldean Human van Hercules in Pretoria-Wes van die begin af tót by vonnisoplegging vir SAUK-nuus gevolg. Ek het die vertroue van Sheldean se ma Elize, haar pa Wikus en hul naasbestaandes gewen deur net geselsies aan te knoop in ’n hofsaal of buite op ’n bankie wanneer ons wag vir die hofverrigtinge om te begin. Daar het later – deur die verloop van die hofsaak – verskeie aantygings na vore gekom oor dié blonde klein slagoffer se ma, en ons nuuskantoor moes dit ondersoek. Dit het my een oproep na mev. Human gekos vir haar om my in haar huis, in haar rou gemoed en by Sheldean se graf toe te laat. Ek wonder tot vandag toe of ek die enigste joernalis is wat ’n pienk T-hemp met Sheldean se gesiggie en breë glimlag daarop gekry het (wat ek steeds soos goud bewaar) …

Dié onderhoud is in ’n 3-minute-storie vir die nuusbulletin verpak, nie net vir Afrikaanse kykers nie, maar ook vir Engelse gehore. Een en ’n half minuut langer as die gemiddelde hardenuusstorie.

Te danke aan Afrikaans kon ek die mure om ’n ouer afbreek wie se enigste kind se lewe deur ’n kinderroofdier kortgeknip is.

My Afrikaans het my – met mikrofoon in hand – in staat gestel om mense se harte te hoor en met enigeen van prostitute tót die oudpresident te praat.

Afrikaans breek nie net mure af nie, maar bou terselfdertyd brûe en het vir my die deur oopgemaak op my loopbaanreis Pretoria FM toe. By dié stasie werk jy ín Afrikaans vir ’n gehoor wat gehalte-Afrikaans verwag.

Ek het as joernalis by Pretoria FM begin werk, maar ek is gou as nuusleser en kort daarna as omroeper aangewend. Dit het my gedwing om ’n gemaklike aanbiedingstyl aan te neem wat die veelsydigheid van Afrikaans vir my ontsluit het. In die nuuswêreld het ek nooit sosiale uitsaai-Afrikaans ontgin nie.

Wanneer ek egter my skootrekenaar toeslaan en my mikrofoon neersit, maak dit my gelukkig dat ek in Afrikaans kan liefhê, lees, bid, skaterlag en myself deur digkuns kan uitdruk.

Ek voel bevoorreg, want Afrikaans is soos asemhaal. En tog kom maak ongemak nes in my gemoed, omdat die gewaarwording elke dag net groter word dat ons mooiste taal onder skoot is, asook dié Suid-Afrikaners wat wit van velkleur is.

Panyaza sê Afrikaans moet gaan; Ace sê wittes is buitelanders wat geteiken moet word; Malema sê: Moor die boer!; en studentebewegings wil hê dat Afrikaans op kampusse sneuwel.

Tog glo ek dat Afrikaans sterk staan, want die taal se sprekers is sterk en die geskiedenis bewys dat dié groep uit die as kan herrys.

Ek het ’n skamele bydrae te lewer, maar ek sal die taal met al sy kosbare skatte oordra aan elke oor wat luister. Ek is opgewonde om te sien hoe Afrikaans my lewe verder gaan verryk.

My gunsteling- Afrikaanse sanger, Elandré Schwartz, sing: “Afrikaans, jy’s meer as ’n taal, jy’s wat ons land sin maak.” Solank Afrikaans deur my en ander mense gepraat word, sal ons eie lewens én Suid-Afrika sin maak.

Hierdie blog het oorspronklik op AfriForum se webtuiste verskyn.

Esmarie Yssel
Esmarie Yssel

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest