Leesvordering:

Afstand-grootouerskap – Goeie raad vir elke generasie

Aug 5, 2021

deur Robyn Vogels

7 058 239[1]

Wat is hierdie syfer?

Dit is hoeveel dogters, seuns en kleinkinders Suid-Afrika verlaat het. Kom ons verdubbel nou daardie syfer om uit te werk hoeveel grootouers moontlik moes agterbly. Hoewel dit so is dat baie kinders hul ouers ondersteun en hulle help met migrasie en om die familie in ’n ander land te herenig, groei hierdie syfers steeds. Met COVID-19 wat alles omver kom werp het en vir almal ’n spoor van onsekerheid gelaat het, moet die verskynsel van afstandfamilies nou meer as ooit tevore erken word.

Ek het met Helen Ellis, ’n Nieu-Seelandse skrywer, navorser, antropoloog, en afstand-ouma hieroor gesels. Sy het haar Meestersgraad oor dié onderwerp gedoen – iets wat heel gepas is as ’n mens in ag neem hoe gereeld migrasie tans regoor die wêreld plaasvind. Helen is self ’n afstand-ouer en afstand-grootouer. Toe sy besef het daar is nie veel hulpbronne om families wat hulle in daardie situasie bevind te help nie, het sy besluit om ’n boek te skryf. Sy deel haar kennis en deskundigheid in die eerste van ’n reeks van drie boeke, Being a Distance Grandparent – a Book for ALL Generations.

 

Empatie is die sleutel

 

Helen sê: “As ons mekaar verstaan, word empatie ontwikkel en empatie is ’n goeie ding binne afstandfamilies. So, dit is my reusetaak. Ek is ’n empatieskepper tussen generasies!”

Haar doelwit is om afstandfamilies te help om mekaar beter te verstaan.

In ’n neutedop, om die kolletjies tussen die verskillende generasies te verbind te midde van die afstand tussen hulle!

Omdat globalisering besig om toenemend ’n al groter deel van almal se lewens te word, is dit iets waarvan ons almal bewus moet wees. Soms besef ons nie ons rol en die impak wat ons op ander het nie. Wanneer families rondgeskommel word, is daar baie verskillende soorte dinamika en dit is dan belangriker as ooit dat ’n mens elke persoon se perspektief moet verstaan.

Wat belangrik is, is duidelike en empatiese kommunikasie.

 

Die generasieverskille

 

’n Mens vind gereeld dat dit die ouer generasie is, dus die grootouers, wat “die minste moet wees”. Dit is altyd die grootouers wat moet “vat wat hulle kan kry”, soos om hulle vakansies te reël vir die tye wanneer hulle hul kleinkinders kan sien. Besoeke draai om die leefstyl van die middelste generasie. Grootouers moet gereeld hul planne herorganiseer om hul kinders en kleinkinders te akkommodeer.

Die middelste generasie het egter baie balle wat hulle op een slag in die lug moet hou – tussen werktyd, slaaptye, etenstye, ens. Dus moet grootouers – of hulle nou naby of ver is – dinge rondom hierdie skedule beplan. Vakansies is uit die aard van die saak ’n probleem omdat die noordelike en suidelike halfrond op verskillende tye somer het. “My Amerikaanse kleinkinders en my Engelse kleinkinders kan nie vir ’n lang somervakansie in Nieu-Seeland kom kuier nie, want hulle het net twee weke skoolvakansie. Familiereünies waar almal saam is tydens Kersfees en Nuwe Jaar is onmoontlik!” verduidelik Helen.

 

Wat bind mense saam?

 

Wat is dit wat mense saambind? Vra enige persoon wat getrek het en die eerste ding wat hulle moontlik sal sê is familie, gevolg deur kos. Familie en kos is kragtige faktore wat mense saambind. Wanneer families saam is, is dit kos wat hulle nog nader aan mekaar bring. Rondom ’n tafel, ’n braai, of ’n restaurant – kos verbind mense aan mekaar, maar is ook ’n verbintenis met hoe ons grootgeword het en waar ons vandaan kom. Kos gebruik so baie van ons sintuie: die geure, die geluide, om terselfdertyd ’n goeie luisteraar te wees. ’n Mens gebruik al hierdie sintuie – om te luister, te ruik, te smaak en te sien. Dit laat ’n mens ook maklik terugdink aan die tye wat reeds verby is.

“Ek dink aan die vingerafdrukkies wat ek vir ’n ruk op die glasdeur gelos het nadat my 15 maande oue kleinkind hier gekuier het … jy hou daardie vingermerkies as ’n herinnering. Of die verdwaalde kousie onder die bank se kussing wat dit nooit tot in die wasmasjien gemaak het nie. Die eerste ding wat jy doen is om daaraan te ruik! Sulke klein goedjies help ’n mens om nie so alleen te voel nie,” sê Helen.

Hierdie grootouers moet onthou dat hulle nie alleen is nie. Daar is ook ander afstand-grootouers en -ouers in hul woonbuurt, verder af in die straat of in die winkelgangetjie langs hulle.

 

Helen se belangrikste raad wat mense kan volg voordat hulle die land verlaat

 

Begin vroeg reeds daaraan dink

Ek besef jy daar is baie om aan te dink en jy het nie nog meer dinge nodig wat jou gedagtes kan besig hou nie. Vertrou my egter as ek vir jou sê dat die goed wat jy nou doen later ’n groot verskil gaan maak om dinge te vergemaklik.

Ek sou voorstel dat jy met jou ouers begin kommunikeer sodra dit lyk asof julle moontlik na ’n ander land toe gaan trek, selfs al het jy nog nie uitsluitsel daaroor nie. As jy eers wag om hulle daarvan te vertel wanneer die besluit reeds geneem is en alles gereël is, kan dit as ’n groot skok kom en hulle sal jou dalk nooit daarvoor kan vergewe nie.

Plant ’n saadjie, plant ’n saadjie, plant ’n saadjie. Begin die proses deur byvoorbeeld te sê: “So, ons het daaraan begin dink … ons weet dit is ’n groot besluit … ons is nog nie seker nie, maar dít is wat ons oorweeg.” Gun hulle die tyd om hartseer te wees, om daaroor te dink, om rond te kyk na hul vriende wat ook afstand-grootouers is en te besef dat hulle ook binnekort in dieselfde posisie gaan wees. Op dié manier gun jy hulle die tyd wat hulle nodig het om hulleself voor te berei vir dit wat voorlê, so ek wil dit regtig aanbeveel. As die planne nie uitwerk nie, sal dit geen skade doen nie. Indien die planne egter wel voortgaan, sal dit verseker dat hulle reeds tyd gehad het om met die aanpassingsproses te begin.

 

Praat uit dieselfde mond uit

As julle ’n paartjie is, is dit noodsaaklik dat julle uit dieselfde mond praat oor alles wat besig is om te gebeur. Julle gaan baie, baie keer getoets word op maniere wat julle nie verwag nie – goed sowel as sleg – maak dus seker julle praat uit dieselfde mond uit.

 

Hou die verskillende tydsones in gedagte

Begin solank dink watter tyd van die dag en watter dag van die week die beste tyd sal wees om jou ouers te bel. Julle kan selfs hierdie roetine begin toepas voordat julle vertrek. “Sagte kommunikasie”-roetines is iets wat gewoonlik werk en dit skep ’n patroon, bv. Sondagoggende Suid-Afrikaanse tyd of enige ander voorafbeplande tyd waartydens julle video-oproepe kan maak om op te vang. Oorweeg bv. faktore soos of jou ouers gewoonlik op Sondae kerk toe gaan. Dit sal nie ’n goeie tyd wees vir oproepe nie omdat dit tien teen een vir hulle ’n belangrike verpligting is en ’n noodsaaklike deel van hul ondersteuningsnetwerk vorm.

Onthou, die langafstandverhouding kom van twee kante af. Ouma en Oupa is sal gewoonlik gretig wees om jou raad te volg. Jy kan hulle help om ’n band met hul kleinkinders te smee deur hulle byvoorbeeld aan te moedig om ’n raaiselboek te koop of  op te lees oor die nuutste ontdekkings van dinosourusse, sodat hulle kan saamgesels oor wat ’n Tyrannosaurus rex is. As jy die grootouers leiding gee oor wat hulle moet doen, sal hulle wel die huiswerk gaan doen.

Daar is so baie speletjies wat ’n mens deesdae aanlyn kan speel, Scrabble, woordsoek, Candy Crush en baie meer. Jy kan ’n band met jou familielede vorm deur iets te deel wat julle in gemeen het. Hou in gedagte dat dit ouderdomspesifiek moet wees – daar is egter baie opsies tot jou beskikking.

 

Installeer die nodige sagteware

Goeie tegniese raad vir die seun of dogter wat op pad landuit is, is om TeamViewer op hul ouers se toestelle of rekenaar te installeer. Dit beteken jy kan afstandstoegang tot hul rekenaar verkry en hulle help met rekenaarprobleme of om ’n nuwe toep, musiekspeellys of iets anders af te laai. Toets die sagteware terwyl jy nog in Suid-Afrika is. Maak seker dat Ouma en Oupa weet hoe om die wagwoord te kry en te e-pos. Dit beteken vir hulle ongelooflik baie as daar ’n geliefde persoon is wat alles kan regmaak wat reggemaak moet word. Grootouers is gretig om in aanraking te bly en dus bereid om nuwe dinge te probeer.

Helen se boek is in e-boek- en sagtebandformaat beskikbaar. ’n Klankboek sal ook later in 2021 vrygestel word. Haar webtuiste se koop-blad bevat skakels na wêreldwye platforms soos loot.co.za.

As jy gaan verhuis of reeds verhuis het, koop vir jouself die boek en koop een vir jou ouers/grootouers. Dit is ’n kragtige liefdesgebaar as jy vir jou ouers kan sê: “Ek het reeds die boek geles en ek verstaan soveel beter wat jy moet deurgaan.”

Daar is verskeie goeie hulpbronne en idees op Helen se webtuiste, gaan kyk dus gerus daarna! Jy kan ook inteken op haar maandelikse e-pos-nuusbrief om meer te wete te kom oor haar beplande klankboek en haar Distance Families- reeks boeke.

Haar boek is ook aanlyn te koop op LOOT in Suid-Afrika en op Amazon wêreldwyd.

[1] https://migrationdataportal.org/regional-data-overview/southern-africa

 

Helen Ellis M.A

Outeur, navorser, antropoloog, en afstand-ouma. ’n Aanmoediger van empatie binne afstandfamilies wat uit meer as een generasie bestaan.

https://www.distancefamilies.com/

Meer oor die outeur

Hendrika Jooste en Robyn Vogels

Hendrika Jooste en Robyn Vogels is die skrywers van die Amazon-topverkoper Your DIY Move Guide to Australia. Hulle het ’n uitgawe gepubliseer wat spesifiek op Suid-Afrikaners gerig is, asook ’n uitgawe wat enigiemand kan lees. As ma’s, eggenote en suksesvolle sakevroue het die twee hul (baie!) uiteenlopende wêreldwye ervarings gekombineer om ’n omvattende hulpbron te skep wat mense kan help om die skuif te maak, te integreer en te floreer. Die Suid-Afrikaanse boek word van Durban af via Amazon versprei.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig Nuusbrief: 16 September 2021

Kollig Nuusbrief: 16 September 2021

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir Suid-Afrikaanse burgers in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die...

Die dood van De la Rey

Die dood van De la Rey

Dit is vandeesweek reeds 107 jaar sedert die legendariese genl. J.H. (Koos) de la Rey in 1914 gesterf het. Hoewel hy meestal bekend is vir sy leeueaandeel in die Boererepublieke se stryd teen die Britse magte gedurende die Anglo-Boereoorlog, bly sy dood steeds ’n saak...

Herontdek die lewe van die Leeu van die Wes-Transvaal

Herontdek die lewe van die Leeu van die Wes-Transvaal

Hy word bestempel as ’n Godsman, krygsman, patriot, praktiese leier en vreeslose vegter, maar vir die meeste mense sal Koos de la Rey verewig onthou word as die Leeu van die Wes-Transvaal. Die verhaal van die Leeu, sy lewe voor, tydens en ná die Anglo-Boereoorlog...

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Wêreldwyd vriende

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest