Twee prominente leiers van die voormalige Boererepublieke is albei op 14 Julie oorlede, presies 16 jaar uitmekaar. Meer as 100 jaar gelede, op 14 Julie 1888, is die vierde president van die Oranje-Vrystaat, Johannes Henricus Brand, oftewel Jan Brand, oorlede. Sestien jaar later sou die mees prominente Boereleier van sy tyd, president Paul Kruger, ook op 14 Julie in 1904 in Clarens, Switzerland sterf.

Tog is die nalatenskap van Brand iets wat grootliks in die vergetelheid geraak het.

Brand is op 6 Desember 1823 in Kaapstad gebore en op 14 Julie 1888 in Bloemfontein oorlede. In sy leeftyd was Brand – in teenstelling met wat dikwels van Boereleiers geglo word – hoogs geleerd. Hy was ’n gekwalifiseerde prokureur en ook ’n gesoute politikus. Brand het sy regsopleiding aan die South African College in Kaapstad voltooi en later ook sy studies in Leiden in Nederland voortgesit, waarna hy ook in Brittanje verder studeer het. Hy het ná sy studies na Kaapstad teruggekeer en as ’n advokaat in die hooggeregshof in Kaapstad gepraktiseer. As ’n hartsaak het Brand besluit om in die 1860’s na die Oranje-Vrystaat te emigreer, waarna hy in 1863 as president verkies is. Hy was aan die stuur van die Vrystaat in die tyd van ernstige konflik met die Basotho’s. Dié konflik word deur sommige kenners as ’n ernstige verarming van die Vrystaat beskou en is uiteindelik onder Brand se leierskap beëindig.

Die ontdekking van diamante langs die Vaalrivier en Kimberley sou ongekende voordele vir die Vrystaatse republiek inhou. Dit het egter tot hewige geskille gelei met Brittanje, die Griekwas (onder hoofman Nicolaas Waterboer) én die Vrystaters wat aanspraak op gedeeltes van die diamantvelde gemaak het. (Oor diamantvelde noord van die Vaalrivier het die Transvalers en plaaslike hoofmanne ook geskille oor eienaarskap gehad.) Arbitrasie oor die diamantveldkwessie het uiteindelik in die guns van die Griekwas beslis, hoewel die Britte minder as twee weke ná dié beslissing Britse gesag oor die gebied (later bekend as Griekwaland-Wes) geproklameer het. Dit is duidelik dat die Vrystaters die grootste verloorders in dié verwikkelinge was. In reaksie hierop vertrek Brand in 1876 na Brittanje en eis vergoeding vir die onwettige anneksasie van die Vrystaatse diamantvelde. As blyk van versoening bied Brittanje £90 000 aan die Vrystaters – ’n aanbod wat Brand namens die Vrystaat aanvaar het. Die kompensasie is wys spandeer en volgens die historikus Hermann Giliomee veral gebruik vir die oprigting van ’n staatsbank en het sodoende groter onafhanklikheid vir die republiek bewerkstellig.

Die diamantveldkwessie het Brand tot die besef gebring dat die twee Boererepublieke ’n verenigde front teen Brittanje moet inneem. Dit het onder meer in 1872 tot die sluiting van die Transvaal-Vrystaat Vriendskapsverdrag gelei. (Dié verdrag het nouer bande tussen die twee republieke, in onder meer gevalle van vyandelikhede teen die Boererepublieke, bewerkstellig.)

Pres. Brand se bestuur het verskeie ander voordele vir die Vrystaatse republiek ingehou. Hy het onder meer “klem gelê op ’n sterk regstelsel om handel en beleggings te lok en het ook opgetree teen korrupsie”, skryf Giliomee.

Dié leier se nalatenskap is vandag nog in hierdie Vrystaatse provinsiale hoofstad te sien – of dit nou is by die historiese boomtuin waarvan die eerste twee bome deur Brand self in 1879 geplant is, of die ou presidensie wat die presidensiële tuiste van die laaste drie Vrystaatse presidente Brand, Reitz en Steyn was. Die Vrystaatse dorp Brandfort wat in 1866 gevestig is, is ook na hierdie legendariese president vernoem. Brand was tot en met sy dood in 1888 president van die Vrystaat.

President Brand – sekerlik een van die grootste leiers wat die Vrystaat opgelewer het, se nalatenskap verdien bewaring, terwyl sy bekende filosofie vandag nog met reg nagestreef kan word – “Alles sal regkom as elkeen sy plig doen.”

Lees ook: Lizzie van Zyl – en ander soos sy

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Ilze Nieuwoudt
Ilze Nieuwoudt
Ilze is die publikasie bestuurder by Kraal Uitgewers.

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest