Leesvordering:

Alles wat jy moet weet om geboorte te gee in Engeland– Deel 1

Nov 1, 2023

Deur Andri Johnston

Jy kan dit nog steeds nie glo nie: Die blou strepie op die swangerskaptoets het positief gewys en oornag jou hele wêreld verander. Die opwinding loop hoog en daar is so baie om aan te dink en te beplan. Een ding waaroor alle buitelanders onseker is, is hoe presies die geboorteproses in ’n vreemde land werk. En laat ek jou vertel, om in Engeland geboorte te gee, verskil hemelsbreed van dit waaraan jy en jou familie in Suid-Afrika gewoond is. So hier is alles wat jy moet weet.

Terwyl ek hier skryf, is ons dogtertjie drie maande oud. Ek het gesukkel om die geboorteproses met behulp van die Britse National Health Service (NHS) te verstaan. Alles was vreemd en het my gefrustreer. En om vir my familie in Suid-Afrika te verduidelik hoe ’n stelsel met vroedvroue (“midwives”) werk, was nog moeiliker. Dis hoekom ek ’n hoe-om-te-lysie wil maak vir toekomstige Suid-Afrikaanse mammas wat in Engeland moet geboorte skenk. Dalk kan dit die proses vir julle ’n bietjie minder stresvol maak.

LET WEL: Die NHS in Engeland se prosesse wat hier beskryf word, verskil van dié in Wallis en Skotland.

Jy is swanger. Wat nou?

Die eerste ding wat jy van swangerskap en geboorte in Engeland moet weet, is dat jy nie ’n ginekoloog gaan sien tydens jou swangerskap nie. Al jou ondersoeke en alle ondersteuning word deur ’n vroedvrou verskaf.

Om ’n vroedvrou met alles te vertrou as jy aan ’n ginekoloog gewoond is, is nogal moeilik. Van hul prosedures is vreemd en kan so ’n bietjie uit die oude doos voel. Hulle meet byvoorbeeld jou maag met ’n maatband.

So, hoe en waar ontmoet jy die vroedvrou? Die eerste ding wat jy moet doen wanneer jy uitvind jy is swanger, is om jou huisdokter te bel. Jy sal dan die nommer van jou area se vroedvrou kry en jy moet haar bel en jou eerste afspraak maak. Sy sal jou vra hoe ver jy swanger is en jou na jou naaste hospitaal verwys. Jy moet self die hospitaal per telefoon of e-pos kontak en ’n afspraak maak vir jou 10 weke afspraak. Op 10 weke praat jy die eerste keer met ’n vroedvrou en besoek die hospitaal waar jy gaan geboorte gee. Dit is nie jou area se vroedvrou wat jy elke maand moet besoek nie; dit is ’n algemene vroedvrou wat in die hospitaal werk.

Jy gaan baie verskillende mense sien, en die meeste van hulle gaan jy net een keer gedurende jou hele swangerskap sien. Ek het dit nogal onpersoonlik gevind en nie daarvan gehou om elke keer my hele storie vir ’n nuwe persoon te vertel nie, maar stadig maar seker bou jy ’n geskiedenis op in jou groen lêer.

Wat is jou groen lêer?

Jou groen voorgeboortelêer is jou belangrikste besitting van die dag van jou eerste hospitaalbesoek en skandering totdat jy ná die geboorte van jou baba ontslaan word. Dit bevat al jou persoonlike inligting, mediese geskiedenis en inligting oor elke mediese besoek wat jy reeds gehad het en wat jy nog moet hê, alle toetse en skanderings wat jy reeds ondergaan het en nog moet ondergaan – letterlik alles wat met jou swangerskap te doen het.

Dit is die een ding wat jy te alle tye by jou moet hê, veral as jy reis. Jy gaan dié lêer gebruik tot die dag ongeveer twee weke na jou baba se geboorte wanneer jou vroedvrou jou ontslaan en dit word vir 25 jaar bewaar sodat jy of jou dokter later weer op enige aspek van jou swangerskap kan ingaan. As jy ná ’n slegte of traumatiese geboorte ’n geboorte-ontlonting wil ondergaan, kan jy ook vra om die notas oor die geboorte te sien.

Jou vroedvrou is jou alles

Dit is regtig waar. Jou vroedvrou is die persoon met wie jy die meeste in kontak gaan wees gedurende jou swangerskap. As alles daarop dui dat jou geboorteproses ’n lae risiko inhou en jy besluit om natuurlik geboorte te gee (nie met ’n keisersnee uit eie keuse nie), gaan dit ook ’n vroedvrou wees wat jou bystaan. Hulle kan jou in die hospitaal se vroedvrou-eenheid ondersteun of by die huis as jy ’n tuisgeboorte verkies.

Elke NHS-vereniging of -area het verskillende reëls rakende vroedvroue. Party het ’n groep vroedvroue en jy sal elke keer iemand anders sien. By ander kan jy, as jy gelukkig is, een vroedvrou kry wat jy regdeur jou swangerskap sal bystaan.

Wenk: Jy het die volste reg om vir ’n ander vroedvrou te vra as jy nie oor die weg kom met die een wat aan jou toegewys is nie of selfs al laat sy jou net ongemaklik voel. Ek het dit in die middel van my swangerskap gedoen en dit het die wêreld se verskil gemaak aan die ondersteuning wat ek in die laaste deel van my swangerskap en tydens my nageboortesorg ontvang het.

Swangerskapsorg deur ’n vroedvrou

Jy kan onder andere die volgende tydens jou swangerskap van jou vroedvrou verwag:

  • Van 28 weke af kan jy haar een keer per maand besoek as dit jou eerste baba is; vir daaropvolgende babas kan jy haar minder gereeld besoek.
  • Sy sal jou maag tydens elke besoek met ’n maatband meet. As sy voel dis te klein, sal sy jou verwys om binne 48 uur vir ’n skandering te gaan.
  • Sy sal met elke besoek na jou baba se hartklop luister.
  • Onthou om elke keer jou groen lêer saam te vat sodat sy daarin kan notas maak.
  • Sy sal met elke besoek ’n urinetoets doen.
  • Sy kan jou na enige ekstra NHS-dienste verwys, soos fisioterapie of ondersteuning vir jou geestesgesondheid.
  • Sy sal al die geboorte-opsies met jou bespreek. Moet jou nie laat beïnvloed om enigiets te kies wat jy nie wil doen nie.
  • Gewoonlik gee sy haar nommer vir jou sodat jy enige tyd vir haar ’n boodskap kan stuur as jy onseker is oor iets. As dit ernstig is, sal sy jou na noodsorgprioriteitsbepaling (“triage”) verwys.

Nageboortesorg deur ’n vroedvrou

Die hospitaal sal jou vroedvrou in kennis stel wanneer jy uit die hospitaal ontslaan word en sy sal jou die volgende dag by die huis kom besoek. As jy ’n tuisgeboorte het, sal sy jou die dag ná die geboorte ook besoek. Sy sal jou dan weer vyf dae later en twee weke ná die geboorte van jou baba besoek. As daar geen komplikasies is nie, sal die vroedvrou se dienste ’n maand ná jou baba se geboorte beëindig word. Dan skuif die fokus na die versorging van die baba en ’n tuisverpleër (“health visitor”) sal jou besoek.

Jy kan onder andere die volgende ná die geboorte van jou baba van jou vroedvrou verwag:

  • Sy sal met jou pers nageboortelêer begin. Bewaar dit saam met jou groen lêer.
  • Sy sal jou oor jou wonde uitvra om vas te stel of jy steke moes kry of ’n keisersnee gehad het, en sy kan dit ondersoek as jy wil hê sy moet.
  • Sy sal jou inlig hoe om jou baba veilig te laat slaap.
  • Tydens haar besoek vyf dae ná die geboorte of vyf dae nadat jy tuisgekom het, sal sy jou baba weeg en jou raad gee oor jou baba se voeding.
  • Indien sy die nodige kennis het, kan sy jou raad gee oor borsvoeding. Indien nie, sal sy jou na ’n borsvoedingspesialis in die NHS verwys as jy raad daaroor nodig het.
  • As jou baba aan “tongknoop” of ankiloglossie ly, kan jou vroedvrou, die borsvoedingspesialis of jou tuisverpleër jou na die NHS se tongknoopdiens verwys.
  • Jou vroedvrou sal jou baba se hak tydens haar besoek vyf dae ná die geboorte prik en die bloed vir ’n aantal babasiektes laat toets.
  • Sy sal jou geestestoestand met jou bespreek en jou vir behandeling van nageboortedepressie verwys as jy ondersteuning nodig het.

Wenk: Selfs al voel jy dalk net ’n bietjie “af” ná jou baba se geboorte is dit die moeite werd om te vra om na die postnatale of nageboortesorg verwys te word. Hulle sal jou ondersteun deur met jou te gesels en jou wenke te gee om jou situasie te verbeter. Hulle kan jou ook help om medikasie vir nageboortedepressie te kry.

Jou geboorteplan

Die vroedvrou gaan jou vra om jou geboorteplan (“birth plan”) in die aanloop tot jou baba se geboorte neer te skryf. Dit is eenvoudig jou voorkeure en hoe jy graag wil hê alles moet tydens die geboorte gedoen word. Dit was vir my ’n nuwe konsep, want dis nie iets wat in Suid-Afrika gebeur nie aangesien jou ginekoloog jou adviseer en eintlik jou geboorteplan vir jou uitwerk. Maar omdat jy in Engeland tydens jou swangerskap deur so ’n menigte mediese personeel hanteer word en ook nie noodwendig die vroedvrou of dokter wat jou tydens die geboorte bystaan, ken nie, is ’n geboorteplan jou manier om te verseker dat daar aan jou wense voldoen word. Skryf alles neer soos jy deur jou swangerskap vorder en bespreek dit tydens jou laaste afspraak met die vroedvrou. Natuurlik sal dit waar nodig aangepas word om jou en jou baba se veiligheid te verseker, maar die vroedvrou of dokter sal enige intervensie wat nie deel van jou geboorteplan is nie eers met jou en jou ander helfte bespreek.

LEES OOK: Alles wat jy moet weet om geboorte te gee in Engeland – Deel 2

Meer oor die outeur

Andri Johnston

Andri Johnston het in 2018 saam haar man na die Verenigde Koninkryk verhuis met die plan om 18 maande daar te bly. Bykans vyf jaar later is hulle steeds daar. Sy werk in die akademiese uitgewerswese as ’n spesialis in digitale volhoubaarheid. Haar passie vir ’n volhoubare leefstyl deel sy ook in haar vrye tyd op haar blog en sosialemediaprofiel The Sustainable Library. Wanneer sy nie skryf en lees nie, geniet Andri tuinwerk, lang hardloopsessies met hul aangenome husky Ace en fietsry.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Erfenisjuwele 1 – Mostert se Meule maal weer

Erfenisjuwele 1 – Mostert se Meule maal weer

Alana Bailey Erfenisjuwele is ’n nuwe reeks waarin AfriForum die lig werp op erfenisbakens in die land waar gemeenskappe self inspring om ons unieke kultuurhistoriese nalatenskap te bewaar.  Daar is baie negatiewe berigte oor erfenis – dink maar aan die nasionale...

Wêreldgids in fokus: Nederland

Wêreldgids in fokus: Nederland

AfriForum Wêreldwyd is hier om jou te help deur al die uitdagings om aan te pas in ’n nuwe land. Die beste manier om te verseker dat jy die beste jy is wat jy in ’n nuwe omgewing kan wees, is deur ’n netwerk te bou. Netwerke is nie net vir sakelui nie; dit is ook ’n...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest