Hierdie artikel is geskryf deur Michelle Krüger en Emily Liew, twee van die JET-studietoerlede.

“Ná ʼn groot aardbewing het ʼn 15 meter hoë tsunami op 11 Maart 2011 die kragtoevoer na en verkoeling van drie reaktors op die Fukushima Daiichi-aanleg buite werking gestel en ʼn kernongeluk veroorsaak.”

Ses maande gelede het ek Japan toe gekom en is in die Fukushima-prefektuur (-provinsie) geplaas. My familie en vriende het meestal soos volg gereageer: “Is dit veilig om daar te woon?” En: “Is dit nie onbewoonbaar nie?” Of: “Wat van die bestraling?”

Mense se onkunde verstom my soms – baie van hierdie opmerkings het van geleerde mense gekom wat ongelukkig onkundig is oor wat in Maart 2011 gebeur het. Baie van my familie en vriende besef waarskynlik nie eens dat ek Fukushima gekies het toe ek moes aandui waar ek wil woon nie, want ek wou sien en ervaar wat hierdie mense beleef het.

Op 12 en 13 Januarie 2018 was ek so gelukkig om dele daarvan te ervaar toe ek en 23 ander ALT’s die Fukushima Daiichi-kernkragsentrale, die Naraha Remote Technology Development Centre (Naraha-sentrum) en dele van die uitsluitingsone kon besoek. Ons is die geleentheid gegun om met professionele persone in die veld te praat en hulle het vir ons verduidelik wat op daardie verskriklike dag gebeur het.

Ons het met plaaslike inwoners gesels en tyd in Namie bestee om te probeer verstaan watter probleme baie mense nog steeds in die gesig staar en hoe hulle uit die samelewing verdring is. Die mense van Fukushima word steeds binne en buite Japan fyn dopgehou en ek is baie bly dat ek dit ná die naweek beter verstaan.

Die studiereis was nie net daarop gemik om vir buitelanders en buitelandse inwoners aan Japan te wys watter skade die aardbewing, tsunami en kernkragramp in 2011 aangerig het nie, maar ook die pogings tot herstel wat tans aangewend word ten spyte daarvan dat hulle nie met die hoofstroommedia in aanraking kom nie.

Een van die redes waarom ek Japan, en spesifiek Fukushima, toe gekom het, was om die uitsluitingsone te besoek en meer oor die ramp van 11 Maart 2011 te leer. Ek besef nou eers hoe gelukkig ek was om hierdie geleentheid te kry. Dit was ʼn voorreg om toegelaat te word op die perseel van die kernkragsentrale in Fukushima Daiichi en om die gebied in Okuma te besoek waarheen mense net met moeite kan terugkeer asook die voorheen ontruimde gebiede in Naraha, Tomioka, Namie en Odaka.

Die Fukushima-prefektuur het binne en buite Japan ʼn slegte reputasie as gevolg van die kernramp, maar dit is belangrik om te onthou dat alles wat jy hoor waarskynlik nie waar is nie.

Hierdie jaar is die sewende herdenking van die driedubbele ramp.

Dag een

Die ALT’s het van verskeie plekke in die prefektuur gekom en mekaar in Tomioka vir ʼn inligtingsessie ontmoet voor ons na die Fukushima Daiichi-kernkragsentrale vertrek.

Tydens die inligtingsessie is ons presies vertel wat in die reaktors gebeur het om hulle te laat ontplof. Ons het ook gehoor van die opruimingsprosedures wat tans in plek is, wat reeds gedoen is en die planne wat gevolg word om die reaktors te herbou en skoon te maak. Dit is nie ʼn proses wat binne die volgende maand of twee afgehandel kan word nie, maar eerder ʼn langtermynprojek.

Karin Taira, een van die organiseerders van die studiereis, het ʼn Geiger-teller (ʼn toestel wat radioaktiwiteit meet deur ioniserende deeltjies op te spoor en te tel) en sy moes dit vir die twee dae vir die groep leen. Cormac, ons plaaslike wetenskaplike, het die geleentheid gretig aangegryp en aangebied om dit by hom te hou. (Ek glo eerlikwaar nie enigiemand anders sou ʼn idee gehad het hoe om dit te lees nie, laat staan nog wat om daarmee te doen!) Cormac was egter in ekstase om die speelding vir twee dae te hê en het ons almal voortdurend op hoogte gehou van die radioaktiwiteit in elke gebied. Ek is redelik seker baie min mense weet wat die getalle beteken, want hulle het net saamgestem of hulle koppe geskud. Dit was gerusstellend om te weet ons het iemand met ʼn geweldige passie en liefde vir die wetenskap by ons en dat hy ons beslis sou inlig as ons onveilig is.

Die prent hier bo toon die uitsluitingsone sedert 2015. Dit het intussen kleiner geword, maar die rooi area is steeds dieselfde. Die rooi dele word beskou as gebiede waarheen moeilik teruggekeer sal kan word, en dit sal ʼn aansienlike tyd duur voordat hierdie gebiede weer bewoonbaar is.

Ons volgende stop was die Fukushima Daiich-kernkragsentrale.

Ons is versoek om alle fone en metaalitems by die inligtingsfasiliteit te los. Ter wille van vertroulikheid is ons nie toegelaat om self foto’s te neem nie, maar ons is later voorsien van foto’s wat deur die toerorganiseerders geneem is.

Die beeld hier onder toon die toestand van die seegebied om die kragstasie. Wetenskaplikes moniteer die radioaktiwiteit rondom die aanleg selfs nou ná sewe jaar nog steeds voortdurend.

By die kragsentrale is na binne geneem en het ons toegangskaarte gekry. Ons moes deur sekuriteit gaan en is toe na ʼn ander inligtingsvertrek geneem waar ons opdrag gegee is om die baadjies aan te trek wat hulle ons gee. Elkeen van ons het ook ons eie Geiger-teller gekry om by ons te hou om seker te maak ons word nie aan gevaarlike stralingsvlakke blootgestel nie.

Daarna het ons almal op die toerbus geklim om die fasiliteit te verken. Ons is direk na die hartjie van die ongeluk geneem, na reaktors 1, 2 en 3. Slegs Reaktor 2 het nie ontplof nie, want die waterstofgas het deur die uitlaatpaneel ontsnap; reaktors 1 en 3 het egter gesmelt. As gevolg van instandhoudingswerk aan reaktors 4, 5 en 6 op daardie spesifieke dag was hulle afgeskakel en is nie deur die tsunami geraak nie. Ons kon die skade sien wat deur die ontploffing veroorsaak is; dis selfs sewe jaar ná die tyd nog net so ontstellend om te sien. Die skoonmaakproses is stadig en versigtig, want ʼn mens kan nie die gebied vir lang tydperke binnegaan nie. Langdurige tydperke van blootstelling aan bestraling kan nadelig wees vir jou gesondheid en moontlik selfs dodelik. Binne die kragsentrale werk werkers onverpoosd om die aanleg uitmekaar te haal. In baie dele van die aanleg is die puin nog nie opgeruim nie. Hulle gebruik ook robotte om die gebied te help opruim.

Ons het die waterlyne gesien tot waar die tsunami later getref het (17 m hoog).

 

In die fasiliteit het ons ook bergingskompartemente gesien waarin die brandstofstawe van die reaktors gehou is. Die brandstofstawe moet heeltemal afkoel voordat die houers waarin hulle gehou word verseël word. Omdat hierdie brandstofstawe nog steeds radioaktief is, kan hulle nie aan lug blootgestel word nie.

Die prent hier bo toon vier van die ses kompressiekamers. Al 1 535 van die brandstofstawe is suksesvol herwin en uit die kompressiekamers verwyder.

Ons het ook die nuwe verkoelingstelsel gesien wat nou vir die reaktors in plek is en gehoor watter maatreëls getref word om nog ʼn ramp te voorkom. Die nuwe verkoelingstelsel bestaan uit verkoelde soutwater wat teen -30 °C gepomp word. Die soutinhoud verhoed dat die water vries, maar dit bevries die water in die omliggende grond en dit skep ʼn bevrore grondgrens wat nie deur normale grondwater binnegedring kan word nie.

Op die perseel het ons baie wit bokse tussen die puin gesien. Dit het aanvanklik vir ons soos kantoorkaste gelyk, maar ons het gou agtergekom hulle is daar uitsluitlike doel om later verbrand te word. In hierdie kantooragtige kaste is die werkers se handskoene, beskermende klere en stewels. Dié kledingstukke moet verbrand word omdat hulle vir lang periodes aan bestraling blootgestel is en nie weer gedra kan word nie.

ʼn Ander vreemde verskynsel wat ons in die fasiliteit gesien het, is meer as 800 motors. Die motors word meestal nie gebruik nie omdat hulle as gevolg van die ontploffing en waterbesoedeling aan bestraling blootgestel was. Die meeste van die motors sal moontlik nooit weer gebruik word nie. Alhoewel sommige voertuie in die fasiliteit gebruik word, mag hulle nie uitgaan nie. Die hoeveelheid tyd wat nodig is voordat hierdie voertuie nie meer radioaktief sal wees nie, beloop ongeveer 500 jaar. Die motors kan natuurlik in kleiner stukke opgebreek en verbrand word, maar dit is nie tans ʼn opsie nie. Die kragsentrale se personeel weet ook nie presies wat om met die motors te doen nie, want hulle kan nie vir vervoer gebruik word nie. Op die oomblik word hulle net op die perseel gestoor.

Die volgende stop vir die dag was die Naraha-sentrum. Die afstandbeheerde tegnologie wat benodig word om die aanleg uimekaar te haal, word by hierdie fasiliteit ontwikkel en getoets. Ons groep het die geleentheid gekry om te sien waaraan hulle sedert die ramp in 2011 werk.

Die volgende foto toon ʼn beskrywing van die Naraha-sentrum en wat hulle doen. Dit beskryf sommige van die groot projekte wat tans ontwikkel word om die aanleg mee uitmekaar te haal.

In die fasiliteit is daar ʼn nagebootste toetsarea wat ʼn replika is van een van die komponente van die oorspronklike reaktor. Aangesien ʼn groot gedeelte van die puin in die reaktors nog onder water is, is ʼn onderwaterrobot ontwikkel en word die vermoë daarvan om inligting van binne die reaktor te versamel tans getoets.

Nog ʼn robot wat tans getoets word, is een wat kan trappe klim. Virtuele stelsels is ook in plek om die werklike toestand in die reaktor te verken sodat daar beplan kan word hoe om uiteindelik meer inligting oor die binnekant van die reaktors te bekom. Die mense by die fasiliteit het ons opgewonde gewys waaraan hulle werk. Hulle is hoopvol vir die toekoms en – ná alles wat ons gesien het – ʼn aangename belewenis.

Wat nie hier te siene is nie, is die onderwatertoetskamer en robotte wat op die terrein was. Navorsers het daarin geslaag om ʼn robot te skep wat onder water kan werk. Hoewel die onderwaterrobot taamlik swaar is, is die gravitasie daarvan verrassend genoeg laer as dié van die water waarin dit werk. As die kragkabel dus afgesny word of dit ophou funksioneer, sal die robot na die oppervlak styg vir maklike herwinning.

Die poel waarin die robotte getoets word, is ʼn groot metaaltenk wat 4,5 m in deursnee en 5 m diep is. Die robot moet in die water van wisselende temperature en in soutwater kan werk omdat seewater gedurende die tsunami in 2011 in die primêre opgaartenks ingesyfer het. Die laaste robot wat ons gesien het net voordat ons by die fasiliteit weg is, was ʼn hommeltuig.

Hommeltuie word gebruik om die reaktors te ondersoek en die skade te bepaal wat deur die ontploffing veroorsaak is. Hulle neem foto’s en gee die tegnici ʼn goeie idee van die gebied sodat hulle beter kan beplan.

Die volgende stop vir die dag was die Tenjin Cape Sports Park in Naraha. Die park bied ʼn duidelike uitsig op die kuslyn. Daar is ook inligtingskaarte wat wys tot hoe ver die tsunami in 2011 in die binneland ingegaan het. By Tenjin Cape Sports Park kan jy ook die tweede Fukushima-kernkragsentrale en seemure sien wat gebou is om die kus te beskerm.

Die eienaar van die Futabaya Ryokan is ʼn vrou genaamd Tomoko Kobayashi. Sy was een van die eerste inwoners van die Odaka-gebied in die stad Minamisoma wat in 2013 begin het om daagliks terug te keer toe die regering voormalige inwoners toegelaat het om die gebied gedurende die dag te besoek.

Tomoko Kobayashi is ʼn wonderlike vrou wie se krag, hoop en konstante glimlag ʼn diep indruk op ons almal gemaak het. Tomoko het die afgelope vyf jaar konsekwent en sonder ophou gewerk om lewe na die Odaka-gebied terug te bring, en so het sy, sonder dat sy dit beplan het, die toonbeeld van herlewing in die Odaka-streek geword. Sedert die ramp in 2011 het Tomoko Tsjernobil in die Oekraïne al drie keer besoek om meer oor daardie kernramp te leer.

Tomoko is ook ʼn innoverende entrepreneur. In haar strewe na “ʼn dorp vol lewe” het sy enkele dae nadat inwoners die gebied bedags kon begin besoek begin om blomme buite die toe nog verlate Odaka-stasie te plant. Daarna het sy die ryokan wat haar ouers besit het weer op die been gebring sodat mense ʼn blyplek kon hê as hulle na die gebied terugkeer. Sy bedien heerlike kos wat van plaaslik gekweekte bestanddele berei word om te wys dat die plaaslike produkte veilig is om te eet. Sy het selfs vir al 24 van ons wat by die herberg gebly het aandete en die volgende dag se ontbyt voorberei. Om die heropbou van die gebied te bevorder, het sy ook ʼn slaaisoushandelsmerk begin met raapsaadolie van blomme wat in die omgewing gekweek word. (Lees meer hier: https://uk.lush.com/article/soapbox-minamisoma-rapeseed-project)

Nadat Tomoko haar getuienis met ons gedeel het, het die kamer heeltemal stil geword en stil gebly. Tomoko het net gelag en gesê ons moet ook glimlag en lag, want dit is klaar so stil in die dorp. Sy wil die ryokan vul met die gelag van mense wat die lewe geniet. Ek het vir Tomoko gevra wat haar visie vir die volgende agt jaar is en wat sy graag wil sien as sy afgetree het en op haar stoep sit. Haar antwoord was: “Ek wil graag mense in die dorp sien rondstap, kinderstemme hoor en sien hoe bejaardes soos ek die lewe ten volle geniet.”

Gaan kyk gerus na die video op hierdie bladsy om meer van Tomoko se verhaal te hoor: http://www.pbs.org/pov/fukushima/stories/01_tomoko/

Vir meer inligting: http://odaka-futabaya.com/

 

 

 

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Michelle Krüger
Michelle Krüger

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest