“Het Suid-Afrikaners in die vreemde baie avonture met wildlewe?”, wonder ek toe ek video’s van die tragiese gebeure tydens die brande in Australië bekyk, en ook foto’s van ’n vriend op Whatsapp sien wie se paaie in Londen met ’n vos gekruis het.

As ek aan verlede jaar terugdink, sal dit vir my altyd “die jaar van die uile wees”.  Dit was wel ’n Suid-Afrikaanse avontuur, maar dalk roep dit mooi herinneringe by Wêreldwyd se lesers op.

My ma is sedert 2017 in ’n versorgingseenheid vir verswakte bejaardes in Pretoria en ek gaan kuier byna daagliks by haar.  Wanneer die kuiers laat aanhou, het ek soms ’n uil op die nok van die gebou gesien wanneer ek huis toe gaan, of die diep en sagte hooooooeeeee-hoe-hoe van iewers uit die bome in die omgewing gehoor.

Vroeg in Oktober 2019 sê een van die verpleegsusters vir my die uile broei op ’n afdak onder die hoofgebou se dak en daar is drie kuikens.  Ek gaan kyk en sien die drie jou waarlik, maar my selfoon kry nie ’n goeie foto geneem nie.

Op 10 Oktober is daar ’n baie slegte wind-en sandstorm in die omgewing en toe ek die aand oudergewoonte kyk of ek die kuikens kan sien, is daar geen spoor van hulle op die afdak nie.  Bekommerd dink ek dat hulle seker van die afdak afgewaai het.

Die 12de gaan ek by my ma kuier, parkeer voor die gebou en toe ek my motor se alarm met ’n piep-piep aktiveer, loer twee kwaai gesiggies uit die stormwatergat onder die geut voor die motor.  Ten minste twee van die uiltjies het dus oorleef!

Ek stoot my ma se rolstoel tot teen die venster agter hulle en sy is sommer in trane oor die mooi goedjies.  Die ander ooms en tannie verstom hulle net so aan die twee kordaat donskoppies.

Doodbenoud dat hulle gestrand is en deur ’n kat opgeëet gaan word, kontak ek die uilreddingsentrum (http://owlrescuecentre.org.za/Home/).  By hulle leer ek dat hierdie gevlekte ooruile is en dat ek nie bekommerd moet wees nie, want hulle moet op die grond bly voor hulle leer vlieg.  Die sentrum se webwerf verduidelik dit só:

Some species, like Spotted Eagle Owls, are sometimes wrongfully removed from their parents by the unaware public.  The owlet is found on the ground and perceived to be in trouble.  Spotted Eagle Owls spend approximately 10 days on the ground, before they can fly.  This is a natural part of their development.  The owlet learns to hunt on the ground, by chasing after smaller prey, while under the mindful care of the parents who is never more than a few feet away.

Teen dié tyd hoor ek dat die derde uiltjie ook in die omgewing rond is.  Vir die bejaardes raak “uilkyk” ’n opwindende ervaring – soms dalk selfs té veel so, soos toe een van die drie vroeg op die Sondagoggend by ’n tannie in haar kamer probeer intrek …

Na enkele dae maak hulle hulle tuis op die oprit na die ontspanningsaal en sit meeste van die tyd daar en dut.  Sommige mense waag dit tot naby hulle, maar hulle steur hulle nie veel hieraan nie.  Die ouers is deurentyd iewers in die omgewing sigbaar en hou ’n wakende ogie oor die kroos.

Ek handhaaf maar ’n gesonde afstand, want ’n mens respekteer hulle spasie – hulle is immers wilde voëls en moet nie aan onnodige spanning onderwerp word nie.  Tog kom hulle so na aan ons dat selfs ek mooi foto’s geneem kry!

Die uiteenlopende persoonlikhede raak ook duidelik.  Een is baie aggressief en pof hom op en sis vir al wat beweeg.  Een is kleiner en skamer en hou dikwels eenkant.  Nommer drie is iewers tussen die twee, nie té kwaai nie, maar beslis ook nie teruggetrokke nie.

Dinge wat opval is die wollerige bene en pote, skerp kloue, heldergeel oë en die kenmerkende gevlekte veredos wat mettertyd die donsvere begin vervang.  Ek verbeel my later ook ek kan die begin van die “ore” op hulle koppe sien.

Hulle beleef die eerste reënbui daar en krys verontwaardig toe hulle nat word!

Teen 23 Oktober begin hulle flap-flap met die vlerke en toe skielik kan hulle vlieg!  Die eerste vliegslae is redelik onelegant, dit krys en flap en stort met ’n plofslag op al wat dak is neer, net om weer op te styg en verder te gaan.  Vol plesier in die nuut-ontdekte talent!

En toe is hulle weg …

Ek het nog nie weer die kuikens of die ouers gewaar nie.  Soms hoor ’n mens hulle (of ander familielede) wel in die vroegskemeraand roep.  Die bejaardes bespiegel onder mekaar hoe dit met hulle gaan en almal van ons hou die afdak dop met groot verwagting dat die ouers dalk weer daar sal kom broei.  En dat die avontuur, wat ons so bevoorreg was om te kon deel, dalk weer van nuuts af aan sal begin.

Alana Bailey
Alana Bailey
Alana Bailey is Hoof van Kultuursake by AfriForum.

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest