Leesvordering:

BAK se potjiekoskompetisie en boeresportdag

Mei 31, 2021

Deur Johann de Beer

JOU BIESIEPOL!

Laat my toe om sommer ter aanvang die “Jou Biesiepol!”-uitdrukking hier bo te verduidelik: Dit is ‘n uitroep van BEWONDERING! En dit is voorwaar ‘n raak beskrywing van BAK (Brisbane Afrikaanse Kerk) se potjiekoskompetisie – deur ‘n ieder en ‘n elk bewonder!

Dit was die heel eerste potjiekoskompetisie en boeresportdag wat BAK gereël het. Die groot dag was op 15 Mei 2021 op die Mount Gravatt-skouterrein. Die hele wêreld was omtrent daar. Afrikaners het uit alle hoekies en gaatjies gekom om met stem en snare aan die feesviering deel te neem.

Nou moet ek egter dadelik ‘n sakie duidelik stel: ‘n Potjiekoskompetisie verg weke, selfs maande, se voorbereiding en beraadslaging. Dis nie ‘n kwessie van raap en skraap nie; nee, daar word deeglik beplan, gedink, nagelees en voorberei vir hierdie uitdagende geleentheid. ‘n Potjiekoskompetisie is beslis nie in dieselfde kategorie as die plaaslike afgewaterde, meelgestopte, slap ossie-sossie wat in ‘n paar sekondes swart verbrand word nie.

Potjiekos en boeresport kom uit toeka se dae, en gedurende die weeklange voorbereidings en beraadslagings:

  • het die poppe behoorlik gedans;
  • het die 12 mededingers mekaar skerp aangegluur (met broederlike liefde, natuurlik?);
  • het elke deelnemer sy of haar beste voetjie voorgesit (en almal in die huis en omgewing moes dit aanhoor!);
  • het sekere potjiemakers in die vuis gelag het as hulle na hulle mededingers verwys het;
  • is daar geswyg oor spesiale resepte en bybehore; en
  • was mededingers soms tuis so parmantig soos ‘n kalkoenmannetjie (let op die manlike vorm).

‘n Bekende refrein het tydens die kompetisie by al 12 potjies die rondte gedoen: “Hulle potjie kom nie naby ons s’n nie!” Maar op die ou end was al 12 potjies watertandlekker en kon elkeen wat geëet het maar net sê: “Dis vinkel en koljander – die een is so goed soos die ander”.

Potjiekos gaan oor geurigheid, geselligheid, geselskap, vriendskap en ure se toewyding, want potjiekos is kuierkos en die ongeveer 200 gaste het ‘n hond of twee uit ‘n bos uit geklets en gekuier.

Uiteindelik, na maande se voorbereidings, het die groot oomblik aangebreek. Die 12 potjiespanne het teen tienuur die oggend hulle vure vir die boepenspotjies begin stook, want almal weet die vuur kan ‘n potjie maak of breek. Terwyl die vuurtjies geknetter het, het die geselskap en grappies luidrugtig weerklink en nuwe vriendskappe is gesmee. Maar die potjiemanne en -vroue se oë was net gerig op die groot uitdaging om as wenners aangewys te word. Almal wou wen! Dit het soms ook stil geraak, want elke potjieman en -vrou se hart het in hulle keel gesit toe die drie beoordelaars onder leiding van ds. Gawie Cloete begin vrae vra.

Die speserye en ander geheime toorgoed is by die vleisies gevoeg. Party manne en hulle vroue-helpers het geblaas soos stoommasjiene en ander soos kwaai pofadders … Ek het by Nico en Marita Blignaut aangesluit en sou later weet dat dit ‘n bevoorregte plekkie was, want hulle is gekroon as die potjiekonings; ek het dus spreekwoordelik naaste aan die vuur gesit.

Teen drieuur was almal vaal van die honger, want om met jou oë te eet maak jou net al hongerder. Net ds. Gawie en sy twee medebeoordelaars het al dikker geword terwyl hulle hul rondtes doen. Al 12 potjies was so smaaklik dat die geëerde beoordelaars nie kon ophou proe nie. (Party mense oordoen ook altyd ‘n ding!)

Intussen het die kinders en jongelinge geesdriftig aan die boeresport deelgeneem. Seker ‘n eerste vir Brisbane! Hulle het ‘n bombalie opgeskop en bokspronge gemaak, mal streke uitgehaal en natuurlik flikkers gegooi. Tommy van Jaarsveld en Piet-Louw Strauss, die bokspringkampioene, was uitstekende organiseerders. Daar was sakresies, eier-in-die-lepel-naellope en oorgenoeg ander geleenthede om soos resiesperde en windhonde te hardloop. ‘n Aantal talentvolle boeresportatlete het aandag getrek omdat hulle soos vetgesmeerde blitse hardloop. Ander was weer so wild soos hase vir ‘n woeste hond, maar selfs diegene wat kort-kort soos ou osse neergeslaan het, het die boeresport terdeë geniet.

Uiteindelik, nadat al 200 besoekers klaar gesmul het en behoorlik versadig was, het ds. Gawie verhoog toe gegaan om die wenners aan te kondig. Ek wou my verbeel dat hy effens gesukkel het om op die verhoog te kom … Dalk te veel geproe?

Die wenners van BAK se potjiekoskompetisie 2021 is:

In die derde plek: Johan Steyn van span BBBEE (compliant) – Bakgat Bosveld Boerepot Ens. Ens. – met sy sjerrie-room-hoenderpotjie
In die tweede plek: Paul en Tia Niewoudt met hulle heerlike beeskortribpotjie.
In die eerste plek en WENNER van Potjiekoskompetisie 2021: Nico en Marita Blignaut van SA Potjie Paleis. Hulle het twee potjies voorgesit, maar hulle Marokkaanse lamstajine met pruime was beslis die wenpot.

Die prys vir die beste tema en spangees en is toegeken aan Raino en Illanah Botha met hulle voorstelling van ‘n aand in die Bosveld.

‘n Besonderse woord van dank en gelukwense aan die organiseerders Derek en Sunel van Renen. Vir twee sulke ervare organiseerders was die reëlings so maklik soos pyp opsteek, maar ons besef dit het vooraf en tydens die geleentheid weke se harde werk en baie sweet gekos! Hulle is inderdaad baie goeie spanmaats, en vir hulle wil ek ook sê: JULLE BIESIEPOLLE!!

 

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest