Leesvordering:

Bali: Tien dae van son, see en sand

Jun 18, 2018

deur Quanette Kapp

 

Die opwinding is groot … Die vakansie waarna ek seker die heel meeste uitgesien het, is hier. Hoe pak ’n mens jou bagasie as jy nie weet waarnatoe jy vir die volgende 10 dae gaan nie? My riglyn was: “Pak asof jy Durban toe gaan …”

Bali in Indonesië is vol kultuur, eilande met wit strande, die vriendelikste mense en die interessantste kos. Ná ’n vlug van amper 12 uur via Singapoer het ons uiteindelik op Denpasar in Bali geland, min wetend wat op ons wag. Op pad na die eerste hotel praat ek en Jurgens nie ’n woord met mekaar nie – ons verkyk ons aan alles. Duisende mense op motorfietse, in party gevalle is daar tot vier mense op ’n motorfiets. Een motorfiets het seker 40 bokse eiers vervoer.

Seminyak, die hoofstad van Bali, is propvol winkels en restaurante en het die mooiste strande met gekleurde sambrele en sitplekke op die strand. Die hotel lyk soos iets uit ’n glanstydskrif. Ons kamer loop uit op die swembad op ons voorstoep. Jy dink net aan iets om te drink, dan word jy bedien met ‘n yskoue drankie. Wat ’n fees!

Die volgende dag is ons op pad na die volgende plek. Dié keer reis ons per boot. Ons klim heel braaf tot op die dek van die boot. Baie vriendelik deel hulle seesiekpilletjies uit. Bang dat ons een oomblik van die avontuur gaan mis, sluk ek en Jurgens sonder om twee keer te dink. Soos die golwe erger word, word ek en Jurgens al hoe stiller. Ons kan nie ons oë oophou nie. Al ons padkos is binne ‘n paar minute opgeëet met die hoop dat ons gaan wakker bly. Ons bootrit word toe vir ons meer van ’n slaaprit. Twee uur later word ons wakker, betyds vir die mooiste prentjie.

Gilli Trawangan is ons volgende bestemming. ’n Klein eilandjie in die middel van niks en nêrens. Daar is geen enjingedrewe voertuie nie, net fietse en perdekarre (cidomos, soos die inwoners dit noem). Dit is idillies. #Islandvibes het skielik vir my sin gemaak. Wit strande, deurskynende seeblou water, palmbome en tropiese plantegroei.

Die eerste oggend op die eiland is ons vroeg by die hotel se buffetontbyt om die dag ten volle te benut. Elke bak kos wat ons oopmaak, is iets vreemds. Die Balinese hou van sous, jellierige goed en, natuurlik, “catch of the day”. Heel braaf proe ons aan elke liewe bak. Die kos se geure is ongelooflik. Ons het ons vingers afgelek. Kort ná die ontbyt het ons elkeen ’n fiets gekry en die eiland gaan verken. Wat merkwaardig was van die strukture op die eiland, is hoe baie hulle al kon regkry met die beperkte hulpbronne wat hulle op die eiland het. Die meeste van die materiaal wat hulle nie op die eiland self kan kry nie, kom van Lombok, die naaste groot eiland aan Gili T. Hotelle en verblyf vir die toeriste is aan die buiterand van die eiland, en die plaaslike gemeenskap woon in die middel van die eiland. Dit het ons ongeveer 40 tot 50 minute geneem om reg rondom die eiland met die fietse te ry.

Ons eerste ekskursie is op ’n glasbodemboot wat ál drie eilande (Gili Air, Gili Meno en dan Gili T) besoek. Standbeelde van dansende vroue is op die bodem van die see naby Gili Meno geplant, die kleinste eiland van die drie. By Gili T is daar skepe wat gesink het op Wreck Point by Mentigi-strand. Die seelewe bestaan uit duisende gekleurde vissies en massiewe skilpaaie. Ons het ure lank gesnorkel en die seelewe bewonder.

Gili T is ook bekend as die partytjie-eiland, die eiland wat nooit slaap nie. Daar is ’n verskeidenheid plekke waar jy kan gaan uithang. Van Reggae tot TechNo en popmusiek word in die plekke gespeel. Die dansbaan is op die strand, en ’n string liggies flikker bo jou tussen die palmbome. Diegene wat van ’n spabederf hou, kan bo in sommige van die klubs verskillende behandelings kry teen ’n breukdeel van die prys wat jy in Suid-Afrika sou betaal (perfek vir as jy die hele dag fiets gery het of jou voete deurgeloop het).

Vyf dae op die eiland het verbygevlieg. Terug in Seminyak het ons weer by dieselfde hotel aangesluit, waar daar ’n groot verrassing op ons gewag het. Familie uit Londen het ons kom verras deur die laaste drie dae saam met ons deur te bring. Hulle het ons geneem op ’n dagtoer deur Ubud, die kulturele gedeelte van Bali. Ons het verskeie standbeelde, die paleis van die koninklike familie, ryslande en plaaslike markte besoek.

In kort: ’n Vakansie wat ek nie sal omgee om oor en oor te hê nie. Bali sien ons gou weer.

Wenke:

  • Maak seker dat jou vlugte só geskeduleer is dat daar genoeg tyd is om van een terminus na die volgende te gaan.
  • Onthou om ’n plastieksakkie met jou vloeistowwe (parfuum, ens.) in jou handsak/reissak te hou.
  • Vat vir jou ’n kussing saam – die vlug is baie lank en kan baie ongemaklik raak indien die persoon langs jou sy kop op jou skouer laat lê.
  • Trek kouse aan indien jy deur die nag vlieg. Dit help dat jou voete nie so vreeslik swel nie.
  • Ruil jou rande in Suid-Afrika om vir dollars. Dit is baie makliker om geld vanaf dollars na Indiese roepees te ruil. Ons het ’n veel beter ruiltransaksie gekry.
  • Reël vooraf vir jou vervoer van die lughawe na jou hotel. Die vervoer kan baie duur word as jy nie vooraf bespreek het of op ’n prys ooreengekom het nie.
  • Moenie sommer enige seesiekpille drink nie – vat eerder jou eie saam as jy weet jy gaan per boot reis.
  • Vat baie sonblok saam. Ons het drie bottels in een week op gebruik.
  • Dames, los julle handsakke by die huis en gebruik eerder ’n rugsak.
  • Waar jy kom, Google wat om jou is. Jy sal verbaas wees watse oulike plekkies daar om jou is wat jy graag sal wil besoek.
  • Moenie bang wees om in klein paadjies af te dwaal nie. Mens ontdek só die mooiste plekke.
  • Moenie skrik vir die toilette nie. Jy mag in verskeie plekke in Bali glad nie papier spoel nie. Daar is ’n klein houertjie waar jy alles moet ingooi. Dit is verbasend skoon.
  • Pasop vir die klein offergawes wat orals (op die standbeelde, voor tempels, by die ingang van die restaurante, ens.) neergesit word. As jy dit raak skop, sit dit maar net weer neer soos dit was.
Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

In ’n wêreld vol onbekendes is daar een bekende: Afrikaans is Groot. Dis ’n saamkomplek omjou taal, jou kultuur en jou menswees te vier. En die jaar is geen uitsondering wanneer diegrootste familie-reünie nóg vanaf 8 to 17 November 2024 in die SunBet Arena in...

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum, ’n organisasie wat vandag meer as 315 000 lede in elke uithoek van die land verteenwoordig, vier vandag sy agtiende bestaansjaar. Dié burgerregteorganisasie is op 26 Maart 2006 vir die eerste keer aan die publiek bekendgestel in ’n berig oor sy...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest