Deur Amanda Visser

Suid-Afrikaners maak al meer gebruik van hul diskresionêre en buitelandsebeleggingtoegewings om fondse na die buiteland te skuif. Die Suid-Afrikaanse Reserwebank beheer die in- en uitvloei van kapitaal deur valutabeheermaatreëls. Dié regulasies is oor die jare heen verslap, en Suid-Afrikaners kan nou R11 miljoen per jaar uit die land neem.

Vir valutabeheerdoeleindes is daar twee toegewings beskikbaar vir Suid-Afrikaners wat ouers as 18 jaar is, in Suid-Afrika woon of wat tydelik oorsee woon: Hulle kan óf diskresionêre toegewing van R1 miljoen gebruik, óf die buitelandsebeleggingtoegewing van R10 miljoen.

Hugo van Zyl, ’n onafhanklike belastingspesialis en lid van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters se valutabeheerkomitee, sê dat mense wat meer as die toegelate R11 miljoen wil oorplaas (om byvoorbeeld buitelandse eiendom te bekom) toestemming van die Reserwebank moet kry, asook ’n belastingklaringsbewys van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID). Die eiendom of belegging moet egter in die persoon se naam voltrek word en mag nie gebruik word om ’n trust te skep wat dié eiendom of belegging besit nie.

Belangrike oorwegings

Om die R1 miljoen- diskresionêre toegewing oor te plaas, het jy slegs ’n groen ID of slim-ID-kaart nodig.

Om die R10 miljoen-buitelandsebeleggingtoegewing oor te plaas, moet jy ’n persoonlike identifikasienommer (PIN) vir ’n belastingklaringsertifikaat van SAID hê om jou belastingnakoming te bevestig.

Van Zyl merk ook op dat buitelandse beleggings wat gereguleer is in die buiteland mag bly. As die belegger egter dié belegging aan kinders nalaat wat volgens valutabeheermaatreëls Suid-Afrikaanse residensiestatus het, moet dié kinders óf die geld ná afsterwe van die belegger na Suid-Afrika terugbring, óf toestemming van die Reserwebank verkry om die belegging in die buiteland te behou. Sou iemand geld van ’n buitelander of Suid-Afrikaanse emigrant erf, mag dié geld in die buiteland bly.

Suid-Afrikaners wat hul buitelandse beleggings bemaak aan kinders wat in Suid-Afrika woon, behoort liewer ’n donatio mortis causa oorweeg. Dit kom daarop dat die buitelandse belegging ná die persoon se dood dan as skenking geag word en deel van die boedel in Suid-Afrika word.

Dit is raadsaam om regsadvies te bekom as die R1 miljoen-toegewing oor die jare heen redelik gereeld gebruik is.

Belangrike verskille

Volgens Van Zyl mag mense die R1 miljoen-toegewing gebruik om geld aan vriende of familie leen wat oorsee woon om óf te studeer, óf te reis, óf as buitelandse belegging óf as onderhoud. Daarenteen kan die R10 miljoen-toegewing nie vir lenings gebruik word nie. Dié toegewing is uitsluitlik vir beleggingsdoeleindes beskikbaar, maar mag aan ’n buitelandse entiteit of trust voorgeskiet word.

Daar is geen beperkings in terme van die tipes beleggings wat gemaak kan word nie; dit is egter ontoelaatbaar om dit via ’n ander entiteit (sogenaamde “loop structures”) weer in Suid-Afrika te herbelê nie.

Belastingoorwegings

Wanneer individuele belastingbetalers geld aan iemand in die buiteland leen (via die R1 miljoen- diskresionêre toegewing), moet hulle verseker dat die papierwerk dit duidelik wys dat dit ’n lening is en nie ’n verskuilde skenking nie.

Indien dit as ’n skenking beskou word, kan die belastingbetaler vir skenkingsbelasting aanspreeklik wees – wat tans teen 20% of 25% van die skenkingsbedrag aangeslaan word.  Bedrae meer as R100 000 per jaar sal vir skenkingsbelasting aangeslaan word.

“Daar moet een of ander leningsooreenkoms bestaan – en dit beteken dat die persoon wat die bedrag by jou geleen het dit ná jou afsterwe sal moet terugbetaal,” sê Van Zyl.

Belastingbetalers wat geld aan ’n buitelandse trust leen, moet bestaande verrekeningsprysingteenvermydingbelastingreëls in ag neem. Hulle sal aanspreeklik wees vir belasting in Suid-Afrika op die gerekende rentebelasting indien geen rente gehef word nie, of wanneer die rente laer as die armlengte-koers is.

Verrekeningsprysing is veral toepaslik op individue – en nie net maatskappye nie – wat by oorgrenstransaksies betrokke is.

Internasionale loterye

Suid-Afrikaners mag nie hul Suid-Afrikaanse kredietkaarte, hul diskresionêre of buitelandsebeleggingtoegewings gebruik om aan internasionale loterye.

Buitelandse beleggings

Van Zyl sê dat, wanneer mens die land se broodnodige behoefte aan buitelandse direkte belegging in ag neem, die regering moet oorweeg om die voorbeeld van ander jurisdiksies te volg wat beleggings aantrek deur buitelanders toe te laat om residensie op te neem deur middel van beleggersvisums. “Vele mense sal betaal vir die sonskyn en goeie weer wat Suid-Afrika bied,” sê hy.

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Wêreldwyd
Wêreldwyd

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest