Leesvordering:

Belastingbetalers met ’n hoë inkomste en hul geld verlaat die land vir altyd

Mei 20, 2021

Deur Amanda Visser

Topvaardighede en baie geld verlaat Suid-Afrika daagliks. Om nooit terug te keer nie. ’n Klein Wes-Kaapse immigrasiefirma wat tien jaar gelede nog nie een enkele emigrasie-aansoek hanteer het nie, help nou ten minste een gesin per maand om die land te verlaat.

Hugo van Zyl, onafhanklike belasting- en valutabeheerspesialis, sê hy het al meer as 3 000 kliënte oor emigrasie geadviseer en minstens 500 gehelp om die proses deur te voer. Sommige van hierdie kliënte neem R20 miljoen per paartjie uit die Suid-Afrikaanse ekonomie. Ongeveer 60% van sy kliënte wat finansieel emigreer, is professionele persone, akademici of hoogs bekwame tegnici wat die land verlaat het vir werksgeleenthede. Nog 10% is afgetredenes en ongeveer 30% het die land baie jare gelede verlaat of is in die buiteland gebore en emigreer nou vir belastingdoeleindes. “Belasting en formele emigrasie is nie ’n aanduiding van tydelike vertrek nie. Dit is ’n aanduiding dat mense nie van plan is om terug te keer nie of dat hulle dit onmoontlik gevind het om terug te keer, hetsy weens misdaad, swart ekonomiese bemagtiging of ouderdom.”

Van Zyl sê daar is ’n merkbare toename in swart, Indiër, bruin en Chinese mense wat die land verlaat. Misdaad word as die hoofrede genoem. Tweedegenerasie-ekspats het in die laat 90’s baie optimisties as dubbele burgers na Suid-Afrika teruggekeer. Hy het hulle in 2003 bygestaan met die belasting- en valutabeheer-amnestie. Nou staan die meeste van hierdie amnestiekliënte op vertrek of het reeds vertrek. Van Zyl sê een van sy kliënte emigreer om aan die sogenaamde swart belasting te ontsnap.

Vir die geld

Tania Copeland, direkteur van Ties Immigration, sê daar is ook ’n toename in jong gegradueerdes wat die land verlaat vir beter geleenthede en gesinne wat ter wille van veiligheid verhuis. Ongeveer die helfte van die gesinne wat hulle met die emigrasieproses help, beplan om ’n onderneming in hul nuwe tuisland te begin en elders nuwe werksgeleenthede te skep. Haar firma het net twee afgetredenes gehelp wat na die Filippyne vertrek het om te trou.

Volgens Copeland sien hulle al hoe meer jong gegradueerdes vertrek kort nadat hulle hul studies voltooi het. Jong professionele persone verdien meer as R50 000 per maand in die buiteland. Gesinne wat vertrek, vee hul finansiële voetspoor in Suid-Afrika uit. Volgens haar ervaring – gegewe die huidige wisselkoers – verlaat minstens R3 miljoen per gesin die land.

Belastingemigrasie

Die regsfirma Bowmans sê emigrante wat ophou om belastinginwoners te wees en tussen R1 miljoen en R10 miljoen oorplaas, moet aansoek doen om ’n belastingvoldoeningsertifikaat. Onder die ou emigrasiereëls is ’n paartjie toegelaat om R20 miljoen per jaar landuit te neem sonder die SAID se goedkeuring.

“Dit is baie moontlik dat ons nou baie groter bedrae die land sal sien verlaat en ’n toename in mense wat amptelik finansieel emigreer,” sê Van Zyl.

Afgetredenes en tweedegenerasie-ekspats wat finansieel wil emigreer, moet nou noodgedwonge enige bedrag geld uit Suid-Afrika ingevolge die pas aangekondigde proses vir belastingemigrasie oorplaas. Die toenemende aantal belasting-emigrasies is almal ekspats wat al ’n geruime tyd in die buiteland is.

Veranderinge in die heffing van belasting op hul buitelandse verdienste van meer as R1,25 miljoen het daartoe gelei dat ekspats gebruik maak van die voordele van belastingooreenkomste. Hulle verskuif hul gewone huis of “leefsentrum” na ’n land soos Nieu-Seeland, Spanje of Portugal met wie daar ’n belastingooreenkoms is. Dit stel hulle in staat om aan die Suid-Afrikaanse belastingnet te ontsnap.

Voorerfenisbeplanning

Van Zyl sê baie Suid-Afrikaners doen nou voorerfenisbeplanning. “Hulle plaas geld direk en indirek oor na hulle kinders in die buiteland om die eiendom of familiebesigheid in Suid-Afrika te koop. Ekspats wil graag die belasting nou betaal en hul administratiewe voetspoor uitvee, aangesien hulle die Suid-Afrikaanse burokrasie as die ergste op die vasteland beskou.”

Meer oor die outeur

Amanda Visser

Amanda Visser werk sedert 1986 as ’n joernalis vir radio en televisie, asook gedrukte en aanlyn media. Sedert 2003 lê sy haar op finansiële joernalistiek toe en was nog nooit spyt nie. Sy spesialiseer in belasting en het al oor handelsreg, mededingingsreg en regulatoriese kwessies geskryf.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest