Leesvordering:

Biometriese verblyfpermitte – wat jy alles moet weet

Apr 22, 2022

Breytenbachs Immigration Consultants kry baie navrae oor biometriese verblyfpermitte (“biometric residence permits”, ook bekend as BRP’s) in die Verenigde Koninkryk (VK). Die konsultante by Breytenbachs het dus ’n lys saamgestel met handige inligting oor BRP’s.

Waarvoor word die BRP gebruik?

Mense met ’n BRP kan die kaart gebruik om hul identiteit te bevestig, asook die reg om te studeer en om toegang te kry tot openbare dienste en voordele (waar van toepassing).

’n BRP kan nie meer gebruik word om jou reg om te werk of te huur te bevestig nie. Jy moet dit aanlyn bewys by die onderstaande skakels:

Prove your right to work to an employer – GOV.UK (www.gov.uk)

Prove your right to rent in England – GOV.UK (www.gov.uk)

’n Mens hoef nie jou reg te bevestig om te mag huur in Wallis, Skotland of Noord-Ierland nie.

Wie kwalifiseer om ’n BRP te ontvang?

Die regering van die Verenigde Koninkryk verskaf gewoonlik ’n BRP in die volgende gevalle:

  • as jy ’n VK-visum ontvang om vir langer as ses maande na die VK te kom
  • vir mense wat hul visum verleng tot ’n tydperk van langer as ses maande
  • mense wat aansoek doen om hulle in die VK te vestig
  • in gevalle waar iemand se visum na ’n nuwe paspoort oorgedra moet word
  • mense wat aansoek doen vir reisdokumente by die Kantoor van Binnelandse Sake (Home Office)

Neem kennis dat jy nie apart vir jou BRP-kaart aansoek hoef te doen nie.

Inligting oor die BRP

’n BRP sal die volgende inligting bevat:

  • naam
  • geboortedatum en -plek
  • die kaarthouer se vingerafdrukke en foto
  • immigrasiestatus en voorwaardes vir verblyf in die VK
  • inligting oor of die persoon toegang het tot openbare fondse soos gesondheidsdienste
  • party mense se NI-nommer sal agterop die BRP gedruk wees  

Hoe om biometriese inligting te verskaf vir jou biometriese verblyfpermit

Die Kantoor van Binnelandse Sake sal jou vingerafdrukke en ’n foto nodig hê vir jou BRP. Hulle sal ’n digitale foto van jou gesig neem en jou vingerafdrukke digitaal skandeer op ’n glasskerm. Die proses vorm deel van jou visumaansoek.  

Iemand wat in die VK is, sal gewoonlik na ’n “UK Visa and Citizenship Application Services” (UKVCAS)-dienspunt toe gaan of na ’n diens-en-ondersteuningsentrum (“Service and Support Centre” (SSC)).

As jy van buite die VK vir ’n visum aansoek doen, sal jy versoek word om jou biometriese inligting by ’n visumaansoeksentrum (Visa Application Centre (VAC)) te verskaf.

Kinders onder die ouderdom van 16 moet deur hul ouer of wettige voog vergesel word wanneer hulle hul biometriese inligting verskaf.

“National Insurance”-nommer en BRP

Sommige mense se NI-nommers sal agterop hul biometriese verblyfpermit gedruk wees.

As jou NI-nommer nie agterop jou BRP gedruk is nie en jy nog nie een het nie, sal jy vir jou NI-nommer moet aansoek doen. Jy hoef net vir ’n NI-nommer aansoek te doen as jy van plan is om te werk, voordele te eis, vir ’n studentelening aansoek te doen of Klas 3 vrywillige bydraes wil lewer.

Jy kan slegs aansoek doen as jy alreeds in die VK is.

Doen aansoek vir jou NI-nommer by hierdie skakel: Apply for a National Insurance number – GOV.UK (www.gov.uk)

Biometriese verblyfpermitte (BRP’s) vs biometriese verblyfkaarte (BRC’s)

Daar is ’n verskil tussen ’n biometriese verblyfpermit (BRP) en ’n biometriese verblyfkaart (BRC).

BRC’s het die woorde “residence card” daarop gedruk. Die VK-regering gee BRC’s aan mense in die VK wat familie is van iemand van die EU, Switserland, Noorweë, Ysland of Liechtenstein.

Biometriese verblyfpermitte wat slegs tot Desember 2024 geldig is

Daar is baie kliënte wat bekommerd is omdat hul BRP’s aandui dat dit slegs geldig is tot 31 Desember 2024, ten spyte daarvan dat die tydperk wat hulle in die VK mag bly later is as dié datum.

Die Kantoor vir Binnelandse Sake het aangedui dat UKVI die inligting oor hoe om BRP’s op datum te bring in 2024 sal bywerk.

Kliënte hoef self niks te doen nie. Die datum op die BRP sal nie mense se immigrasiestatus beïnvloed nie, en ook nie hul reg om te werk, toegang tot dienste of voordele, of hul reg om te reis nie.

Die rede vir die afsnydatum van 31 Desember 2024 is eenvoudig dat die VK-regering beplan om nuwe tegnologie bekend te stel. Die huidige kaarte gaan dus teen 31 Desember 2024 vervang word.

Ontvangs van jou BRP as jy in die VK aansoek gedoen het vir ’n visum

Mense wat in die VK aansoek gedoen het vir ’n visum sal die BRP ontvang by die adres wat hulle in hul visumaansoek aangedui het. Hulle hoef nie die BRP te gaan afhaal nie.  

Hoe om jou BRP te kry as jy van buite die VK vir ’n VK-visum aansoek gedoen het

Mense wat van buite die VK vir hul VK-visums aansoek gedoen het moet hul BRP gaan afhaal sodra hulle in die VK aanland. Jy moet gewoonlik jou BRP afhaal voordat die vignette-plakker in jou paspoort verval, of binne tien dae nadat jy in die VK aangekom het, watter datum ook al later is.

Instruksies oor waar jy die BRP moet afhaal, sal vervat word in die brief wat aandui watter besluit oor jou visum geneem is. Die poskantoor-tak sal daarin aangedui word of die BRP sal by jou borg afgelewer word as dit die opsie is wat jy op jou visumaansoek gekies het.

Persone moet ouer as 18 jaar wees om hul BRP te gaan afhaal. Jy moet genomineer word om ’n kind se BRP af te haal, selfs al is jy die kind se ouer. Jy hoef egter nie genomineer te word as jy ook jou eie BRP gaan afhaal en jou naam op jou kind se vignette-plakker verskyn nie.

As jy weens ernstige siekte of ongeskiktheid nie jou BRP kan afhaal nie, kan jy iemand nomineer om dit namens jou te gaan afhaal. Jy sal moet bewys dat jy nie self jou BRP kan afhaal nie, byvoorbeeld deur ’n doktersbrief.

Foute op jou biometriese verblyfpermit

As jy jou BRP kry en daar is enige spelfoute, ander foute, of skade aan jou kaart, moet jy dit binne tien dae rapporteer. Dit kan aanlyn gedoen word. Foute kan dinge insluit soos verkeerde inligting bv. jou naam, geslag, geboortedatum, of as die BRP beskadig was toe jy dit ontvang het.

Volgens die Kantoor van Binnelandse Sake kan dit voorkom asof jou naam afgesny is op jou BRP as jou naam lank is. Dit is vanweë beperkte spasie op die BRP-kaart.

Verlore of gesteelde BRP’s

As jou BRP weggeraak het of gesteel is, moet jy dit rapporteer. ’n Mens kan dit rapporteer hetsy jy in die VK of buite die VK is. Die Kantoor van Binnelandse Sake sal jou binne ’n dag kontak nadat jy dit gerapporteer het.

Gebruik hierdie skakel om jou verlore of gesteelde BRP te rapporteer:

Where are you now? – GOV.UK (biometric-residence-permit.service.gov.uk)

Jy kan ook aansoek doen om ’n BRP wat jou ander een vervang, maar slegs as jy in die VK is. Gebruik asseblief hierdie skakel:

Biometric Residence Permit Replacement Service (visas-immigration.service.gov.uk)

Meer oor die outeur

Breytenbachs Immigration Consultants

Breytenbachs Immigration Consultants, of BIC soos ons algemeen bekend staan, spesialiseer in Britse en Suid-Afrikaanse immigrasie. Vanuit ons hoofkantoor in Londen en drie susterkantore in Suid-Afrika – Pretoria, Kaapstad en Durban – help ons kliënte in beide lande.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Onderneming in die Kollig: Wolkskool

Onderneming in die Kollig: Wolkskool

Hierdie week se kollig is op Wolkskool. Wolkskool is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom om ’n gemeenskap te vorm. Op dié manier raak...

Uit en tuis: ’n e-pos uit Malta

Uit en tuis: ’n e-pos uit Malta

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Renzo Harmse, wat...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest