Sedert die begin van April sluk alle Suid-Afrikaners die bitter pil van veelvoudige belastingverhogings. Die grootste impak vir belastingbetalers was egter die verhoging in Belasting op Toegevoegde Waarde (BTW) se koers, van 14% na 15%. Hierdie was die eerste verhoging in 25 jaar.

Suid-Afrikaners in die buiteland – wat dan nie-inwonende burgers in Suid-Afrika bly – sal ook die knyp van hierdie verhoging voel, sê Charles de Wet, hoof van indirekte belasting by PricewaterhouseCoopers (PwC).

Baie Suid-Afrikaners wat in die buiteland op sekonderings of langtermynkontrakte bly en werk, gaan voort om sommige dienste van plaaslike verskaffers te gebruik, insluitend versekeringskontrakte op ’n gesinshuis of voertuig of selfs huishoudelike items wat gestoor word. Sommige kon selfs hul kontrakte met selfoondiensverskaffers behou het. Soos ander Suid-Afrikaners sal hulle nou die verhoodge tarief van 15% op hierdie dienste moet betaal. Die enigste geval waar ’n diensverskaffer nie by magte is om die tarief te verhoog nie, is wanneer die kontrak stipuleer dat die BTW-tarief op 14% bly vir die duur van die kontrak.

In sy Februarie-begroting het die Nasionale Tesourie gesê dat dié verhoging nodig is om nuwe bestedingsverpligtige na te kom – soos die aankondiging van gratis tersiêre onderrig – en om die verdere “erosie van openbare finansies” te voorkom. Die tesourie het erken dat die BTW-verhoging die lewenskoste vir alle huishoudings (diegene wat beide binne en buite Suid-Afrika woon) sal verhoog. Die rykste 30% van huishoudings dra egter tot die meerderheid (85%) van BTW-wins by, aldus die tesourie in Februarie.

De Wet sê dat besnoeiings aan die toonaangewende repokoers (die koers waarteen die Suid-Afrikaanse Reserwebank geld aan handelsbanke uitleen) verligting sal bied vir huishoudings met maandelikse huis- en voertuigpaaiemente. Die repokoers is met 25 basispunte besnoei, na 6,5%. Belastingbetalers wat in die buiteland woon, en wat steeds skuldafbetalingspligte in Suid-Afrika het, sal baat by dié laer leenkoers. Baie mense het hul gesinshuis en -voertuig behou en diegene wat steeds die verband en die maandelikse afbetalings op huurkope betaal, sal by hierdie tariefbesnoeiing baat.

Verder verduidelik De Wet dat die koste van diensskuld verlig sal word, wat meer geld in mense se sakke sal laat om die BTW-tariefverhoging te balanseer. Die feit dat daar reeds ’n onderneming is om belastingvrye items te hersien, sal verligting vir armer huishoudings bied. De Wet noem dat wanneer ’n diens fisies buite Suid-Afrika gelewer word, dit vir belastingdoeleindes vrygestel is van aanslag. Die verhoging in die BTW-tarief raak dus nie die nulkoerslewering van dienste wat buite Suid-Afrika gelewer word nie.

Vir boedels ter waarde van R30 m of meer sal Suid-Afrikaners wat in die buiteland woon maar wat steeds nie-inwonende burgers bly ook deur die verhoging van boedelbelastingtariewe van 20% na 25% geraak word.

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Wêreldwyd
Wêreldwyd

Pin It on Pinterest