Leesvordering:

Bly só in voeling met Afrikaans, al is jy in die buiteland

Feb 8, 2024

Deur Alize Scholtz

Dit kan moeilik raak om in voeling te bly met jou moedertaal wanneer jy jou in die buiteland bevind. Sit ’n Engelse eggenoot daarby en dit raak skielik baie uitdagend om jou Afrikaans lewendig te hou. Daarom deel ek hier ’n paar praktiese maniere hoe jy in die buiteland in voeling met Afrikaans kan bly. 

Blokkiesraaisels

Die alombekende swart en wit blokkies van hierdie woordspeletjie is nie net vir oumas wat die Huisgenoot koop nie. Navorsing dui daarop dat blokkiesraaisels stres kan verlaag en jou intellektuele welstand kan verbeter. Dit is boonop ook ’n puik wyse om jou Afrikaans op te skerp. As jy ’n slimkop is wat ’n blokkiesraaisel op jou eie kan voltooi, is dit indrukwekkend, maar moenie sleg voel as jy om hulp moet vra nie. Trouens, om saam met iemand aan ’n blokkiesraaisel te werk kan verhoudings versterk. Gewoonlik handel die leidrade van ’n blokkiesraaisel oor ’n groot verskeidenheid van onderwerpe, en mense van verskillende ouderdomme en agtergronde kan daarmee help. So, volgende keer as jy met ’n leidraad sukkel, vra om hulp by ’n ander Afrikaanssprekende persoon. Jy maak dalk net ’n nuwe vriend. Dit kan jou selfs ’n lekker verskoning gee om jou mense in Suid-Afrika te bel. 

Speel hier ’n aanlyn, gratis en interaktiewe blokkiesraaisel van die Taalgenoot. Indien jy op Netwerk24 ingeteken is, kan jy ook hul Afrikaanse blokkiesraaisel voltooi. Teken in, of skep ’n rekening en speel hier

Wortel Wrintiewaar

As die gedagte van al die baie blokkies in ’n blokkiesraaisel jou afskrik, is Wortel Wrintiewaar moontlik vir jou. Hierdie woordraaispel is op oopbronsagteware en in samewerking Woordeboek van die Afrikaanse Taal geskep – enigeen kan dit dus speel sonder dat jy hoef in te skryf of iets af te laai. Jy kry ses probeerslae om die vyfletterwoord van die dag te raai. Met elke raaiskoot kry jy terugvoer wat aandui wanneer letters in ’n korrekte posisie is. Dié tipe speletjies stimuleer jou brein en kan selfs jou geheue verbeter. Dit is nie net vermaaklik om letters in betekenisvolle volgordes te rangskik nie, maar dit skerp ook jou Afrikaanse woordeskat op. Jy kan dit hier aanlyn speel. Daar is selfs ook ’n makliker weergawe wat meer alledaagse woorde gebruik. Laerskoolleerders behoort dié woorde te ken. Dié weergawe se naam is Worteltjie en jy kan dit hier speel.

Luister radio

Het jy geweet dat jy jou woordeskat kan verbeter deur slegs na ’n taal te luister? En wat is dan nou ’n beter manier om na Afrikaans in die buiteland te luister as om ’n radiostasie te stroom? Daar is woorde en dinge wat op radioprogramme bespreek word wat jy nooit in ’n boek sal lees nie. Deur meer na Afrikaans te luister, kan ook jou uitspraak verbeter vir daardie kere wanneer jy weer in Afrikaans moet gesels. Wanneer jy jou moedertaal al minder hoor, kan jou Afrikaanse woordeskat agteruitgaan. Jy kan egter in voeling bly met die klank, ritme en intonasie van Afrikaans deur slegs daarna te luister – selfs al praat jy dit nie daagliks nie. Die meeste plaaslike en kommersiële Afrikaanse radiostasies kan aanlyn gestroom word. Kies jou gunsteling en stroom hier.

Luister Pretoria FM oor die internet. ’n AfriForum Wêreldwyd-leser skryf onlangs vir ons: “Ons luister PretoriaFM in die huis en vir alle praktiese doeleindes sal jy dink jy is in Suid-Afrika binne-in ons huis. Dit is ons behoud, omdat ons so ver weg is van ons wortels en familie.”

Die podsend Taaldinge, wat op Radio Sonder Grense (RSG) aangebied word, kyk na die dinge wat Afrikaans beïnvloed, die redes waarom ’n mens op ’n bepaalde wyse skryf en ondersoek ook uitdrukkings, idiome en verskynsels in Afrikaans. Luister hier na dié lekker gesprekke.

Vermaak

Nog ’n lekker wyse waarop jy in voeling met Afrikaans kan bly, is om AfriForumTV te besoek. Hier kan jy gratis Afrikaanse programme in verskeie genres kry. Jy kan in die gemak van jou eie huis verskeie kanale op jou televisie, rekenaar of selfoon bekom. Gee jouself oor aan die nostalgie en geniet episodes van Orkney snork nie, Koöperasiestories en Vetkoekpaleis. Daar is ook keuses vir die kleinspan, soos Wielie Walie en meer onlangse kinderreekse. Jy kan selfs na voorlesings van kortverhale luister of op hoogte bly van die nuutste aktuele sake. Dit alles in Afrikaans!  

Ten slotte

Dit is goed om meer as een taal te kan praat, maar wanneer jy uit voeling met Afrikaans begin raak, moet jy kreatiewe maniere inspan om die taal te behou. Afrikaans is tog deel van jou persoonlike identiteit – en wat die hart van vol is, loop die mond van oor.

Foto: Pexels/ Suzy Hazelwood


Lees nog nuttige wenke hier.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest