Sy het ons oorrompel met Griet skryf ’n sprokie. Hoe kon so ’n jong vrou soveel patos in ’n boek vol Griekse mitologie en Grimm-sprokies pas? Hoe kan enige een so openlik ’n goue voël beskryf sonder om platvloers te wees? Deur die jare het die karakters in Marita van der Vyver se boeke ook myle bygekry. Sy het selfs al ’n oumaboek geskryf.

Hoeveel van ons het nie al lees-lees saam met haar gekuier in die huis met die blou deur nie? Volg jy haar op die sosiale media, waar sy baie bedrywig en altyd vrygewig is met haar tyd, dan weet jy hoe lyk haar kinders, haar man en die wêreld van haar hart.

Weet ons egter wat ín haar hart aangaan? Hierdie bundel essays en rubrieke skuif dáárdie deur so effens oop.

Marita sê self: “Ek het altyd gesê, nie heeltemal spottend nie, dat ek vreeslik oud sal moet word voordat ek eendag my memoires aandurf. Daar is net te veel mense wat eers moet doodgaan, van nare onderwysers tot formidabele familielede, voordat ek werklik eerlik oor hulle kan skryf. En nou is ek eensklaps ‘vreeslik oud’ – of dis altans hoe die sestienjarige meisiekind wat ek lank gelede was, my huidige beleë toestand sou beskryf het. Daarvan is ek doodseker. Ek het onlangs weer daardie tiener se dagboek in dromerige trant gelees, en besef sy sou haar kop in stomme ongeloof geskud het as sy my nou moes sien.”

Marita waarsku egter ook: “Ek beskou dit beslis nie as ’n amptelike outobiografie nie – daarvoor voel ek steeds te jonk!”

Boonop is fiksie haar gekose medium. Sy verduidelik: “Wanneer fiksieskrywers ’n outobiografie skryf, word daar soms meer gelieg as wanneer hulle ’n roman skryf. Dis nie doelbewuste bedrog nie, bloot ’n beroepsrisiko – as jy heeldag en aldag jou verbeelding moet gebruik om die pot aan die kook te hou, kan dit moeilik wees om daarmee op te hou en jou tot die vervelige waarheid te beperk.”

Ten spyte van al die waarskuwings, is Retoer, Pretoria – Provence; Die ongelooflike avonture van ’n skrywende ma, ’n opregte manier om aan ’n waarderende gehoor die retoerrite van Marita van der Vyver se hart en lewe te openbaar.

Die boek is ingedeel in afdelings, en elke afdelings se naam is die titel van een van haar boeke. Al lesende gaan die leser dus op reis saam met Marita van der Vyver, van Pretoria tot Provence; en terug.

Die reis is nie altyd maklik nie. Een van die stukke wat in hierdie bundel verskyn, is ’n rubriek oor seksuele teistering waarvoor sy in 2018 met ’n ATKV-Mediaveertjie vereer is.

Dié “meisie van die suburbs”, soos sy haarself beskryf, neem die leser op ’n toer deur haar lewe en wêreld: Van haar jeugherinneringe – haar oumas, haar eerste juffrou en die kind wat sy was – tot haar dae op Stellenbosch, Pretoria en natuurlik die Franse platteland. Sy raak nostalgies oor ’n tiekieboks, die karre van haar kleintyd (’n bruin Opel en ’n geel kewer), en laat die leser tegelyk skater en verlang.

Met haar kenmerkende humor, deernis en eerlikheid, skryf sy oor die ouderdom, tienerstreke, Calvinisme, David Bowie, vegetariërs en die verskriklike vrees vir “verdagte knoppies”.

Retoer, Pretoria – Provence
Marita van der Vyver
Niefiksie
9780799384796
R160,00

 

Pin It on Pinterest