Deur Johan Nortje

Die breë en dun wit kondensasiespore van straalvliegtuie hang soos ’n abstrakte skildery in die blou herfslug bokant die ou stad. Dit het onlangs weer gereën. Klammigheid van verdampte reënwater kleef nog teen die grys sypaadjie wat eentonig aanhou tot dit in die verte teen die barokargitektuur van St. Pauls-katedraal aan die einde van die straat doodloop.

Mense in roomkleurige en swart winterdrag met Pret a Manger en Costa-koffiebekers in hand stap doelgerig en onrustig op pad na niewers. Buite die treinstasie se muur sit ’n boemelaar. Die kyk op sy gesig sê alles – as dit op een reën, drup dit net op die ander.

Geel hyskrane wat langs tydelike ysterstellasies staan is net een van die tekens dat daar aanhoudend aan dié stad hernu en gerestoureer word. Kenmerkend van die binnestad se strate is oral rye rooi en wit versperrings voor traliehekke met padwerktekens wat voetgangers waarsku om te koes. Health and safety is regtig hierdie lot se nasionale tydverdryf.

Geel nommerplate. Rooi busse. Vreemde woorde op aansoekvorms, waaroor ek eers navraag moes doen. Advertensieborde probeer produkte aan my afsmeer waarvan ek nog nooit gehoor het en nie nut voor het nie. Radiostasies vertel grappe wat ek snap, maar nie snaaks vind nie. Skoon strate vol persone wat fietse ry, nie uit noodsaak nie, maar uit gerief.

Alles is vandag ’n herinnering dat ek uitheems is en daar is hunkering na vriendelike son en inheemse aksente.

Die vraag oor die waarde daarvan om aan ’n plek en gemeenskap te behoort is iets wat die bekroonde oorlogsjoernalis Sebastian Junger in sy boek Tribe: On Homecoming and Belonging probeer beantwoord. Hy verwys na “stam” as ’n moeilik definieerbare konsep, maar dat dit gesien kan word as diegene met wie jy jou laaste sny brood sou deel. Die begrip is dus in hierdie geval nie gekoppel aan nasie of selfs familie nie, maar eerder aan sosiale solidariteit, gehegtheid en samehorigheid met jou naasbestaandes en hoe ongewoon dit in baie hedendaagse samelewings is om iemand as deel van jou eie te behandel.

Sedert die mensdom se ontstaan, wat deur eeue se biologiese en maatskaplike evolusie gevorm is, is mense gerat vir sosiale interaksie en nie isolasie nie. Junger voer aan dat mense in moderne Westerse samelewings afgestomp en vereensaam is van hul verbondenheid met mekaar. Hy glo ook huidige beskawings kan by stamgebonde gemeenskappe leer oor samekoms eerder as verstoting en gemeenskapsamewerking bo afsondering.

Tribe is grotendeels ’n persoonlike verslag van Junger se eie ervaring gedurende sy tyd in oorlogstreke. Sy ervaring word ondersteun deur verskeie gevallestudies oor posttraumatiese stresversteuring (PTSV), in besonder in soldate wat terugkeer van die slagveld. Daar is veral twee temas wat prominent in die boek na vore kom.

Selfmoord in ’n moderne samelewing

Ten spyte van die gerief wat met moderne, welvarende samelewings gepaard gaan, het verskeie studies al bevind dat lande se selfmoordsyfer styg namate die land ontwikkel en moderniseer. Dié verskynsel kan onder meer toegeskryf word aan die gevoel van vervreemding en verlies van gemeenskap – ’n tendens wat al in die 19de eeu deur die sosioloog Émile Durkheim waargeneem is.

Alhoewel dit mag wees dat data ten opsigte van depressie en selfmoord beter in ontwikkelde as armer lande ingewin word, verklaar dit nie hoekom daar – volgens Junger se antropologiese navorsing – besonders min depressieverwante selfmoordgevalle binne stamgroepe voorkom nie. Waar dié tipe selfmoorde wel plaasgevind het, was dit net in uitsonderlike omstandighede.

Die uitwerking van rampe

’n Tweede tema waarop Junger fokus, druis dalk teen intuïsie in: Volgens Junger word die sosiale balans, ten minste vir die oomblik, herstel wanneer menslike of natuurlike rampe plaasvind. “An earthquake achieves what the law promises but does not in practice maintain. The equality of all men,” vertel ’n oorlewende van ’n aardbewing in Italië in Tribe. Gevolglik keer mense na hul historiese kommunale instink van saamdrom terug wanneer moderniteit meegee. Gebeurtenisse soos orkaan Katrina en die aanvalle op New York in 2001, lei dikwels tot nouergetrekte gemeenskapbande. Dink maar net terug aan die onlangse Knysna-brande en hoe mense mekaar gehelp het, ongeag sosiale status.

Verbasend genoeg herstel baie mense wat met psigiatriese toestande gediagnoseer is ná rampe. Die boek verwys na voorbeelde soos die Blitz in Londen gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Ná dié aanvalle was daar volgens Junger ’n afname in die aantal opnames by psigiatriese hospitale.

Tribe het sy tekortkominge. Dit is byvoorbeeld onbekend wat die graad van sosiale kohesie was in plekke of gemeenskappe voordat dit deur rampe getref is. Daar is ook, weens Junger se agtergrond as oorlogskorrespondent in onder meer Bosnië en Afganistan, ’n neiging om sekere omstandighede wat saam met konflik kom – kameraadskap, broederlike liefde en veiligheid binne die groep – te verromantiseer. Junger loop die gevaar om bloot aan te neem dat intense vorme van dié eienskappe alleenlik in tye van konflik sal voorkom.

Hoewel dit nie ’n tekortkoming van die boek is nie, is dit eerder ’n waarskuwing – die gebruik van begrippe soos “nasie” of “stam” (soos dit in Tribe ook gebruik word) is vatbaar daarvoor om deur ekstremiste vir eie gewin gekaap te word. Boonop kan dit met die beskerming van etnisiteit vereenselwig word en groepe aanmoedig om hul eie agendas te dryf en te regverdig.

Laastens, die voordele van moderniteit is sonder eweknie. Miljoene mense is uit armoede opgehef. Die uitdaging wat ons egter in die gesig staar is om middelweg te kry tussen die moderne en die tradisionele wêreld.

Tribe is nietemin ’n kort boek wat verdien om gelees te word. Die gedeelte oor die publiek (alhoewel gemik op ’n Amerikaanse gehoor) wat geskei is van industrieë waarvan hulle afhanklik is, bevat ’n belangrike les – een waarby almal kan baat: Daar is een keer vir die Rooms-Katolieke priester Anthony de Mello gevra wat is die moeilikste ding in die wêreld. Sy antwoord was eenvoudig: “Including the excluded.” Tribe kan dalk bydra om hierdie antwoord beter te verstaan.

Wêreldwyd
Wêreldwyd

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest