Geagte aangewese president Trump

Vergun my om u geluk te wens met u verkiesing. As medeburger van ons planeet, wil ek graag ʼn voorstel vir u buitelandse beleid te maak, al besef ek dat u dit nie te lese sal kry nie. Die onsekerheid wat gepaardgaan met ʼn regeringswisseling in die VSA as supermoondheid, kan ʼn land se vriendskappe laat afkoel en vyande tot avonture aanspoor.

Buitelandse beleid het twee interafhanklike doelwitte: om jou land se belange te bevorder en om van die wêreld ʼn beter plek te maak. Vir my is die wese hiervan drieledig: die bevordering van wêreldvrede, ekonomiese voorspoed en die bewaring van die aarde en omgewing.

U uitdaging is dat hierdie doelwitte uitgevoer moet word in ʼn wêreld wat al skerper verdeeld raak tussen liberale internasionaliste en demokratiese nasionaliste. Hierdie verdelingslyn  word bemoeilik deur die uiterste pole van hierdie twee groepe wat teenoor mekaar staan, naamlik die onliberale internasionaliste en die outokratiese nasionaliste.

Die harde verdelingslyn ten opsigte van buitelandse beleid, wat tans deur die wêreld sny, spruit myns insiens voort uit ʼn fundamentele verskil oor die verlede en die toekoms van ons planeet. Meer bepaald, wat ons grootste probleme veroorsaak het en hoe die wêreld van die toekoms moet lyk.

Die siening van u voorgangers, én die meeste van hul Westerse eweknieë, is dat die liberale internasionalisme die Koue Oorlog gewen het, daardeur die universele wêreldstandaard geword het en nou na die res van die aardbol uitgevoer moet word. Hulle glo hul stelsel is die finale hoogtepunt van menslike ontwikkeling en dit moet, indien nodig, selfs met geweld afgedwing word. Anders gestel, die Ooste en die Suide moet verwesters.

Weerstand daarteen word ervaar as ʼn agterlike teenreaksie teen die onkeerbare opmars van verligte vooruitgang, waar agtergeblewenes skoppend en skreeuend ingesleep moet word. Hulle sien die doel van hul buitelandse beleid om hul agenda van internasionalisme, oop grense en oop immigrasie uit te voer en die demokratiese nasionaliste se voorkeur vir nasionale belang, veiligheid en gemeenskapsbelange te beveg.

Politiek of kultuur

Daarteenoor sien die demokratiese nasionaliste hierdie poging om die Ooste en Suide volgens die bloudruk van die liberale internasionaliste te verwesters, juis as die oorsaak van die groeiende kloof in die wêreld. Daarom staan die demokratiese nasionaliste eerder politieke en ekonomiese samewerking tussen lande voor op grond van wedersydse erkenning en respek eerder as ʼn gedwonge inlywing by die liberale internasionale orde. Kortom, die liberale internasionaliste beskou hul politieke ideologie as die toekomstige bepaler van die wêreldorde teenoor die demokratiese nasionaliste wat kultuur en identiteit as die grondslag van die toekomstige wêreld beskou. Die nuwe verdelingslyn is dus politiek teen kultuur, waar die een kant hul kultuur sal opoffer ter wille van politiek en die ander politieke toegewings sal maak ter wille van kultuur.

Hoewel ek, as Westerling, bly is dat baie state vrywillig demokrasie, die oppergesag van die reg en die markekonomie aanvaar het, glo ek dit is verwaand en selfs rassisties om Westerse waardes as meerderwaardig te sien. Om Westerse waardes op die wêreld af te dwing, was histories onhaalbaar. Dit is tans onafdwingbaar en dit sal in die toekoms gevaarlik wees. Westerse waardes is uniek, maar nie universeel nie en die afdwing daarvan word beskou as ʼn nuwe vorm van Westerse kolonialisme onder die vaandel van ʼn universele liberalisme. Dit moet met ʼn wortel bevorder word, maar kan nie met ʼn stok afgedwing word nie. Die puinhope van Afghanistan, Irak en Libië en die vlugtelingkrisis in Europa bied die finale antwoord op daardie vraag. Pogings om die wêreld met geweld te verwesters, het in 1945 met Japan en Duitsland gewerk, maar het nou die “Weste teen die Reste” verdeel.

Ideologiese wêreldoorlog

Sowat ʼn eeu gelede was die einde van die Eerste Wêreldoorlog inderwaarheid die begin van die Tweede Wêreldoorlog. Daarom moet die doel van die VSA se buitelandse beleid wees om te keer dat die einde van die Eerste Koue Oorlog nou weer die begin van die Tweede Koue Oorlog is. Die manier om dit te doen is om nie ideologiese “oorloë” te voer nie, maar om die geregverdigde belange van ander magsblokke te erken en respekteer.

Die Eerste Koue Oorlog was al grootliks in 1972 gewen, toe president Nixon en sy minister van buitelandse sake, Henry Kissinger, Mao Zedong besoek en betrekkinge met China aangeknoop het. Dit het tot ʼn skeur in die kommunistiese blok gelei, wat die globale magsbalans dramaties ten gunste van die Weste laat swaai het. Die Sowjetunie is gedwing om meer as ʼn miljoen troepe uit Oos-Europa na die Chinese grens te verskuif en ook die eerste kernsperverdrag met die Amerikaners te onderteken, die “Salt 1” of “Strategic Arms limitation treaty”. Nixon en Kissinger het dit gedoen nie omdat hulle met kommunistiese China saamgestem het nie, maar juis omdat hulle radikaal van die kommunisme verskil het.

Die “Kissinger-formule” was juis dat die VSA beter verhoudinge met die Sowjetunie en Rooi China afsonderlik moes handhaaf as was hierdie twee lande met mekaar gehandhaaf het. Daarom is die oplossing vir die nuwe Koue Oorlog nie om gelyktydig in ʼn wapenwedloop met die Russe, ʼn handelsoorlog met die Chinese en ʼn ideologiese stryd met die Ooste en die Suide te voer nie. Dit sal lei tot die “imperiale oorstrekking” van die Weste, wat Westerse én liberale belange ernstig sal benadeel.

Tweedens sal so ʼn ideologiese “wêreldoorlog” ook nie die belang van wêreldvrede, die globale ekonomie en die bewaring van die planeet bevorder nie. Die VSA se rol as globale polisieman van die liberale wêreldorde is weens demografiese, ekonomiese en politieke redes net nie meer volhoubaar nie. Die VSA se aandrang op “volle sekuriteit” vir homself, lei tot “volle onsekerheid” vir die ander groot moondhede en ʼn gevolglike wapenwedloop tussen die VSA en daardie moondhede.

Kultuur sterker as ideologie

Die internasionaliste se aanname dat hul liberale politiek en ideologie nou die algemene wêreldstandaard geword het, het met die openbare reaksie op grootskaalse migrasie ʼn groot terugslag gekry. Die rede daarvoor is dat die migrasie die publiek bewus gemaak het van kultuurverskille aan die een kant en die gemeenskaplikheid van hul eie kultuur aan die ander kant. Terselfdertyd het die liberale aanname dat die nuwe immigrante hul kultuur en godsdiens as’t ware by die grens sal los en hulself vrywillig sal laat inlyf by die sekulêre liberalisme van hul nuwe lande op die rots van die werklikheid gestrand. Kultuur het sterker geblyk te wees as ideologie. Die Westerse internasionaliste wou werkers hê, maar toe kry hulle mense met hul eie waardes, kulture, gelowe en lewenswyse.

Insgelyks het die liberale internasionaliste se selfontbinding van hul nasionale identiteit en kultuur en die vervanging van “volk” met “multikulturele bevolking” gaandeweg hul eie kiesers begin vervreem. Die gevolge hiervan gaan binne die volgende jaar al duideliker raak namate kiesers in lande soos Oostenryk, Nederland, Frankryk en Duitsland hul stemme laat hoor. Dit kan ook lei tot nuwe alliansies tussen sommige van hierdie lande en die VSA, Brittanje en lande in Oos-Europa wat deur die Merkel-regering vervreem is.

Dit bring my by ʼn voorstel vir ʼn pro-Westerse strategiese magsbalans in die wêreld waar vrede, historiese Westerse waardes, die globale ekonomie en die omgewing veilig sal wees.

Globale magsbalans

China, die Moslem-wêreld en die Russe hou tans die grootste strategiese uitdaging in vir die Weste. Die belangrikste ander magsblokke is Japan en Indië, met Afrika en Suid-Amerika wat nie groot rolspelers op die internasionale toneel is nie.

Strategie 1: Bondgenootskap tussen die Weste, Indië, Japan en Rusland

Indien die Weste vier van die wêreld se groot magsblokke aan sy kant kan kry, is die Weste verseker van ʼn oorheersende rol. Die prys wat betaal moet word vir die beëindiging van die tweede Koue Oorlog met die Russe is dat die Weste die inlywing van die Krim-skiereiland by Rusland sal moet aanvaar. Die Krim was eeue lank deel van Rusland. Daarmee saam sal die skepping van ʼn Russies-gesinde federale deelstaat in die ooste van die Oekraïne nodig wees om die Russe te oortuig die Weste nie vyandige bedoelings in hul agterplaas het nie.

Strategie 2: Bestendiging van die Midde-Ooste

Die les van die verwydering van diktators soos Saddam Hoessein in Irak, Ghadaffi in Libië en die poging om Assad van Sirië uit te kry, is dat slegte regeerders beter is as geen regeerders nie. Anders gestel, ʼn stabiele diktatorskap is minder verwoestend as die gevolge van hul afsetting en pogings om hierdie lande te demokratiseer. Die opkoms van fundamentalistiese groepe soos Isis, onbeskryflike menslike leed en die vlugtelingkrisis is die vrot vrugte van Westerse goeie bedoelings.

Strategie 3: Die hervorming van Europa

Die prioriteite hier behoort te wees dat die Europese Unie gered moet word deur demokratiese hervormings wat die politieke onafhanklikheid van sy lidlande erken, maar ekonomiese interafhanklikheid versnel.

Tweedens kan die groeiende ontevredenheid van Europeërs jeens massa-migrasie besweer word deur die hervorming van emigrasiestelsels en beter grensbeheer toe te pas deur net mense wat vir hul lewens vrees, binne te laat. Australië se beleid kan as voorbeeld in hierdie verband dien.

Derdens behoort Europese lande aangemoedig te word om weer hul onderskeie Westerse identiteite op te neem, terwyl volle minderheidsregte aan permanente Moslem-immigrante toegeken moet word. Dit is onmenslik om van hulle te verwag om hul lewenswyse, kultuur en identiteit prys te gee en sekulêre Europeërs te word. Deur so ’n beleid te volg, kan Europeërs en die immigrante se menseregte én gemeenskapsregte wedersyds erken word.

Strategie 4: Hulp aan arm lande

Die tyd het weer aangebreek vir ʼn nuwe soort “Marshall-plan”, wat Europa ná die Tweede Wêreldoorlog opgebou het. So ʼn plan, waar beleggings na die privaat sektor in plaas van na regerings gekanaliseer word, sal die grootskaalse korrupsie en wanbestuur van die huidige planne beëindig. Die vernuwende planne van die huidige hoofekonoom van die Wêreldbank, Paul Romer, om armoede deur “stadstate” te verbreek, kan deel van hierdie projekte wees. Ontwikkelingshulp moet verleen word aan die massa armes in arm lande en nie aan die klein groepie ekonomiese vlugtelinge in ryk lande wat bloot die gewete salf, maar nie iets vir die groot meerderheid se swaarkry beteken nie.

Ek vertrou u regeringstermyn sal daartoe bydra om van die wêreld ʼn vryer, veiliger en voorspoediger plek te maak want dit is die enigste wat ons het.

Vriendelike groete

Flip Buys

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Wêreldwyd admin
Wêreldwyd admin

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest