Leesvordering:

Classic Motors and Classic Music

Sep 7, 2017

“Classic Motors and Classic Music in Herne Bay” het die opskrifte verkondig. Herne Bay se inwoners roem hulle daarop dat hul dorp se kloktoring die hoogste alleenstaande een op aarde is. Toe ons op die mooi sonskynoggend daar aankom, was dit gou duidelik dat die “klassieke motors”-deel nie oordrewe was nie. Die magdom wiele uit omtrent elke dekade het gewissel van ’n 1914 Peugeot, militêre Jeeps, regte bakkies soos ons hulle van die sestigs onthou, tot pragtige E-tipe Jaguars en ’n amper nuwe Bentley.

Maar dis die mense, alle kleure (tatoeëermerke) en geure (meestal alkohol en tabak) wat ’n mens bybly. Die ou vakansiedorpies op die Kent-kuslyn het altyd so ’n ondertoon van vervallenheid, amper soos ’n middeljarige can-can-danseres met te veel grimering. En baie van die plaaslike karakters val ook in daardie kategorie. Daar was deurentyd lewendige, dreunende musiek vanaf die sentrale verhogie, verseker nie klassieke musiek nie, maar watwou, as die son skyn en die motors brul, kloof ons nie hare nie. In elk geval, Johnny Cash en Glen Campbell sou waarskynlik daarmee tevrede gewees het. Daar was baie ander stalletjies ook, ’n hele paar vir liefdadigheidsorganisasies wat oudsoldate bystaan, en een wat vegetariese roomys verkondig het. Restaurante was van vroeg af stampvol, en baie mense het gou kampstoele en tafels opgeslaan en in groepe gesit en kuier. Dit het alles tot ’n sorgvrye karnavalgevoel bygedra.

Die “Herne Bay Classic Motor Show” op 20 Augustus 2017 het meer as 15 000 besoekers regdeur die dag getrek. Die skou het die “Classic Music Show” aangebied, met The Smokin’ Mavericks, Jodie South, Carla Winters, Martin Farbrother en Mike Lloyd, asook die “Retro Market”, handelaars “County Garage” (Ford) en “Perry’s of Canterbury” (Vauxhall) en vele meer. http://classicmusicandmotors.co.uk/

 

Meer oor die outeur

Pieter de Lange

Ek is in Kroonstad gebore neffens die rustige ou Valsrivier en matrikuleer aan die Hoërskool Kroonstad in dieselfde era as skrywers soos Antjie Krog en Max du Preez. Ek studeer op Tukkies, speel o.19-rugby vir hulle en boks vir die SA Universiteitespan, waarna ek Protea-kleure in dié sport verwerf. In 1974 begin ek in Londen praktiseer, word deur die Ferrari-gogga gebyt en keer ná drie jaar na Pretoria terug met ’n rooi Ferrari Boxer. In 1981 trou ek met Mariaan en ons verhuis Londen toe vir 18 maande. Ek begin in 1990 met ’n MBL-kursus en geniet die navorsingsprojek die meeste, en kry tot my verbasing die hoogste punte. Ek skryf baie artikels oor SA se Olimpiese bod vir die Sunday Times, Beeld, Business Day en Rapport. Ek publiseer ook my Olimpiese boek The Games that Cities Play, wat voorgeskryf was vir BA MBK (Menslike Bewegingskunde) asook B Com Sportbestuur se eerstejaars, (Sportgeskiedenis en Sportfilosifie) studente by Tukkies, vir 1999 tot 2003. In 1999 verhuis ons sak en pak Londen toe met ons kroos René, Christiaan en Simon. Ek begin ’n navorsingsprojek oor oorsese Suid-Afrikaners en skryf ’n reeks artikels vir The South African. Ons sien die wêreld saam met ons kinders, van ’n ysige St. Petersburg tot die snikhete Rooisee in Egipte. Ons het nou ’n pragtige kleinseun Arlo en woon in Kent, waar ek steeds praktiseer en gereeld aan parkwedlope deelneem om die ou karkas aan die gang te hou.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest