Talle Suid-Afrikaners is baie bekommerd oor hulle werk in die buiteland wanneer die wysigings aan die vrystelling van buitelandse vergoeding in die Inkomstebelastingwet in werking tree. Tans is alle inkomste wat in die buiteland verdien word, vrygestel van Suid-Afrikaanse belasting indien die persoon aan sekere kriteria voldoen. Vanaf 1 Maart 2020 sal slegs R1 miljoen vrygestel word, en verdienste bo daardie kerf sal teen ’n moontlike koers van 45% belas word.

Jonty Leon, regsbestuurder by Financial Emigration, ’n afdeling van Tax Consulting SA, sê baie mense is bekommerd dat hulle nie die bykomende belastinglas sal kan bekostig nie. “Hulle is bang hulle kan nie hulle belastingstatus so formaliseer dat Suid-Afrika hulle nie op hul buitelandse inkomste bo die R1 miljoen-vrystelling kan belas nie.”

Shohana Mohan, hoof van wêreldwye indiensneming en raadgewer oor buitelandse belasting by TaxAuditor Solutions, sê dit is nie nodig om paniekerig te raak nie. Die Nasionale Tesourie het werkgewers en werknemers ’n vensterperiode van drie jaar gegee vanaf die afkondiging van die gewysigde wetgewing om hul opsies te oorweeg, dus tot 1 Maart 2020.

Mohan, ’n lid van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Belastingberoepslui se werkgroep oor persoonlike belasting, meen die paniek kan gedeeltelik toegeskryf word aan ’n gebrekkige begrip van die huidige en toekomstige wetgewing. Sy sê twee kwessies rakende die impak van die gewysigde wetgewing moet in ag geneem word. Die een hou verband met diegene wat vir belastingdoeleindes steeds as inwoners van Suid-Afrika beskou word, en die ander met diegene wat weens hul spesifieke omstandighede vir belastingdoeleindes as nie-inwoners van Suid-Afrika beskou word. Die kwessie van inwonerskap vir belastingdoeleindes gaan hand aan hand met die impak van die wysiging aan die belastingvrystelling van buitelandse inkomste. “Daar is groepe ekspats wat al ’n paar jaar in die buiteland woon, maar nog nie hul belastingaangeleenthede geregulariseer het nie, en ook nie hul inwoning vir belastingdoeleindes in Suid-Afrika beëindig het nie. Dit dra by tot die paniek.” Die implikasie is dat hierdie mense al hulle bates oor die wêreld heen verkoop het, buiten eiendom en finansiële bates soos uittree-annuïteite in SA, en dat hulle daarom onderhewig is aan kapitaalwinsbelasting.

Leon sê die Inkomstebelastingwet maak voorsiening vir twee verblyftoetse: persone wat gewoonlik in Suid-Afrika woonagtig is, en fisiese teenwoordigheid. Die toets vir persone wat gewoonlik in Suid-Afrika woonagtig is, is die belangrikste, want dit stel die fisieseteenwoordigheidstoets ter syde. Finansiële emigrasie is ’n voorvereiste om vir belastingdoeleindes ’n nie-inwoner in Suid-Afrika te word. Dit is ’n formele regsproses wat op die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en die Suid-Afrikaanse Reserwebank se stelsels registreer dat jy vir belastingdoeleindes ’n nie-inwoner is.

’n Ander manier om vir belastingdoeleindes ’n nie-inwoner te word, is om in die land waar jy werk aansoek te doen vir ’n dubbelbelastingooreenkoms. In elke ooreenkoms is daar ’n valbyl-klousule wat bepaal watter land die reg het om belasting te hef. “Dit is gewoonlik die roete om te volg wanneer jy op ’n langtermynkontrak is en jy van plan is om terug te kom na Suid-Afrika. Dit is egter ’n jaarlikse proses en dit kan duur wees om elke jaar ’n belastingsertifikaat te bekom.”

Leon sê as mense vir belastingdoeleindes nie-inwoners van Suid-Afrika geraak het, maar dit nooit formeel gemaak het nie, kan die proses teruggedateer word tot wanneer hulle die land verlaat het. “Dit kan baie ingewikkeld raak en hang af van hoe jy jou belastingopgawes ingedien het sedert jy weg is. As jy jou buitelandse inkomste op jou belastingopgawe ingevul het, het jy daarmee aangedui dat jy vir belastingdoeleindes ’n inwoner is. Die finansiële emigrasieproses kan dan nie teruggedateer word nie.” As jy egter slegs inkomste wat jy in Suid-Afrika verdien het in jou belastingopgawes verklaar het, of as jy ’n nulopgawe ingedien het, of geen opgawe nie (in welke geval jy nie aan wetgewing voldoen nie), kan jou emigrasie teruggedateer word, en jy kan ten volle aan wetgewing voldoen.

’n Suid-Afrikaner wat minder as R1 miljoen verdien, hoef gewoonlik nie bekommerd te wees oor belasting in Suid-Afrika nie. “Ek sal mense wat in die buiteland werk en nie van plan is om terug te kom nie egter aanbeveel om vir belastingdoeleindes ’n nie-inwoner te word, selfs al verdien hulle minder as R1 miljoen per jaar. Dit is baie eenvoudiger en maak alles duidelik.”

Leon sê as jy van plan is om terug te keer, moet jy nie finansieel emigreer nie. “Maak seker dat jy aan die vereistes voldoen om vir die vrystelling te kwalifiseer, en gebruik dit.”

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Amanda Visser
Amanda Visser
Amanda Visser werk sedert 1986 as ’n joernalis vir radio en televisie, asook gedrukte en aanlyn media. Sedert 2003 lê sy haar op finansiële joernalistiek toe en was nog nooit spyt nie. Sy spesialiseer in belasting en het al oor handelsreg, mededingingsreg en regulatoriese kwessies geskryf.

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest