Leesvordering:

Is die algemene werksvisum besig om uit te sterf?

Jul 11, 2018

Dit is belangrik om te besef dat die vraag na vaardighede wêreldwyd toeneem soos tegnologie en die wetenskappe in alle sektore meer tegnies raak. Dit is teen hierdie agtergrond dat die werwing van vaardighede plaasvind, omdat lande wêreldwyd meeding om vaardighede te bekom.

’n Vaardigheidsvriendelike visumstelsel kan bydra tot die suksesvolle invoer van vaardighede.

Die Suid-Afrikaanse Immigrasiewet (wetno. 13 van 2002, soos gewysig) het met ’n kwotastelsel voorsiening gemaak vir die boonste vaardigheidsvlak. Sekere kategorieë noodsaaklike vaardighede is in oorleg met die ministers van binnelandse sake, handel en nywerheid, en arbeid in die Staatskoerant gepubliseer. ’n Kwotasyfer is aan elk van daardie kategorieë toegeken. Dit het vir baie jare besonder goed gewerk, maar is met die 2014-wysigings aan die Immigrasiewet vervang deur ’n visum vir mense met kritieke vaardighede.

Die lys kritieke vaardighede kan by die volgende skakel afgelaai word:

’n Lys kritieke vaardighede is weer in oorleg met die ministers van die betrokke departemente saamgestel. Met die hulp van SAQA-geakkrediteerde professionele verenigings is spesifieke vereistes vir ambagte, beroepe en professies vasgestel. ’n Verdere vereiste is ten minste vyf jaar ervaring ná voltooiing van ’n kwalifikasie, en kwalifikasies wat oorsee behaal is, moet deur SAQA geëvalueer word.

Dit beteken enigiemand wat nie in een van die kategorieë kritieke vaardighede val nie, het net een opsie: om aansoek te doen vir ’n algemene werksvisum. Dít is waar die kruks van die saak lê.

Die beste vir die Suid-Afrikaanse ekonomie sal natuurlik wees dat Suid-Afrikaners die werk moet doen. Om Suid-Afrikaners se belange in hierdie opsig te beskerm, geld die volgende vereistes ingevolge die statuut:

  • Elke pos moet in Suid-Afrika in die nasionale gedrukte media geadverteer word.
  • ’n Voorlegging moet aan die departement van arbeid gemaak word op grond waarvan hulle moet besluit of die pos nie wel deur ’n Suid-Afrikaanse burger of permanente inwoner gevul kan word nie.

Alle aansoekers wat vir die pos gekwalifiseer het en wat Suid-Afrikaanse burgers of permanente inwoners is, se kontakbesonderhede en identiteitsnommers moet saam met die voorlegging aan die departement van arbeid verskaf word, asook die redes waarom hulle nie vir die pos geskik is nie. Dit bring nóg meer probleme mee.

Die departement van arbeid weier om met ’n “derde party” soos ’n prokureur, advokaat of konsultant te onderhandel, en beantwoord ook geen navrae van die aansoeker self of die voornemende werkgewer nie.

Nog ’n probleem is dat die departement so ver agter is met die evaluering van hierdie vertoë dat dit byna onmoontlik is om te bepaal hoe lank dit sal neem om uiteindelik ’n verslag of aanbeveling van hulle te kry.

Wanneer hulle uiteindelik wel ’n aansoek afhandel, stuur hulle die aanbeveling nie aan die werkgewer of die aansoeker nie, maar direk aan die departement van binnelandse sake. Al wat die aansoeker kry, is ’n kennisgewing dat die aangeleentheid afgehandel is en aan die departement van binnelandse sake se hoofkantoor gestuur is. Geen besonderhede oor die uitkoms of aanbeveling word verskaf nie. Daarom weet die aansoeker glad nie of die aanbeveling negatief of positief is nie.

Die buitelandse aansoeker en die voornemende werkgewer doen dan aansoek om ’n algemene werksvisum, en dit word summier geweier omdat die departement van arbeid se aanbeveling negatief was.

Uit gesprekke met verskeie ander immigrasiespesialiste het dit duidelik geword dat amper nie een van hulle die laaste twee of drie jaar daarin geslaag het om ’n positiewe aanbeveling te kry nie.

Dit is ook belangrik om daarop te let dat dit ses maande of langer kan duur om ’n aanbeveling van die departement van arbeid te kry nadat die versoek ingedien is. Indien ’n vaardigheid werklik so noodsaaklik is en ’n aansoeker moet ná die lang wagtyd nog vir ’n werksvisum aansoek doen, kan die werkgewer ongeduldig raak. Baie aansoekers word weggewys bloot as gevolg hiervan. Die gevolg is dat die betrokke vaardigheidstekorte nie effektief gevul word nie. Dit voorspel niks goeds vir werkgewers wat sekere spesifieke vaardighede benodig wat nie in die land beskikbaar is nie en wat nie deur die land gelewer word nie.

Wat die bogenoemde vererger, is die feit dat ’n positiewe aanbeveling van die departement van arbeid nie waarborg dat die saak effektief en behoorlik beoordeel sal word nie. Ongelukkig is daar steeds ’n moontlikheid dat die aansoek om ’n algemene werksvisum geweier kan word.

Dit is om hierdie rede dat ’n mens baie versigtig moet wees met die aanstelling van ’n buitelander wat nie in een van die kategorieë kritieke vaardighede vir ambagte, beroepe en professies val nie.

Stuur gerus vir ons ’n e-pos na enquiries@immigration.org.za om ’n gratis assessering te kry van die lewensvatbaarheid van ’n aansoek om ’n werksvisum en skryf “Navraag oor Wêreldwyd Fokusnuusbrief” in die onderwerpreël.

Meer oor die outeur

Julian Pokroy

Julian Pokroy Prokureurs: Spesialis in wetgewing oor immigrasie, burgerskap en vlugtelingskap.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

In ’n wêreld vol onbekendes is daar een bekende: Afrikaans is Groot. Dis ’n saamkomplek omjou taal, jou kultuur en jou menswees te vier. En die jaar is geen uitsondering wanneer diegrootste familie-reünie nóg vanaf 8 to 17 November 2024 in die SunBet Arena in...

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum, ’n organisasie wat vandag meer as 315 000 lede in elke uithoek van die land verteenwoordig, vier vandag sy agtiende bestaansjaar. Dié burgerregteorganisasie is op 26 Maart 2006 vir die eerste keer aan die publiek bekendgestel in ’n berig oor sy...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest