’n Hoë belastingaanslag as gevolg van ’n verkeerde belastingsertifikaat (IRP5) is nie net frustrerend nie, dit kan ook meebring dat belastingbetalers ontneem word van die geleentheid om toepaslike, toegelate aftrekkings te eis.

Belastingverslaggewers glo die algemeenste fout op IRP5’s is die gebruik van verkeerde bronkodes. Net die werkgewer kan so ’n fout op die werknemer se sertifikaat regstel en moet dit dan weer uitreik.

Piet Nel, hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Belastingkundiges (SAIT) se belastingafdeling, sê die meeste werknemers laat na om hul belastingsertifikate na te gaan. Hy sê die kodes is op die SAID-webtuiste beskikbaar.

Foute word meestal gemaak met die bronkodes vir vrystelling van buitelandse en reisvergoeding.

Daylan Staude, belastingdosent aan die Universiteit van Fort Hare, sê die wysiging van ’n R1 miljoen-belastingvrystelling vir buitelandse inkomste tree op 1 Maart 2020 in werking. Om daarvoor te kwalifiseer, moet die belastingbetaler as ’n inwoner van Suid-Afrika beskou word. “Baie belastingbetalers glo hulle is nie-inwoners omdat hulle buite Suid-Afrika werk. Dit is nie noodwendig die geval nie; en hulle inwonerstatus moet op een van drie maniere bepaal word: die dubbelbelastingooreenkoms, die gewone-inwonertoets of die fisieseteenwoordigheidstoets.”

Hy wys op die belangrikheid van die vereiste om vir ’n aaneenlopende tydperk van 60 dae buite die land te wees, en meer as 183 dae in totaal gedurende ’n tydperk van 12 maande.

Nikki Kennedy, hoof van NK Accounting Services en SAIT-streeksverteenwoordiger, sê die werkgewer moet aandui watter gedeelte van ’n persoon se inkomste in die buiteland verdien is en wat binnelands.

Sy sê belastingbetalers het ook ’n tydelike-oorplasingsbrief van hul werkgewer nodig om te bevestig dat hulle in die buiteland gewerk en vir daardie tydperk buite Suid-Afrika vergoeding ontvang het. “As die werkgewer een bronkode (plaaslike inkomste) gebruik vir al die binne- en buitelandse vergoeding in plaas daarvan om die buitelandse inkomste met die regte bronkode aan te dui, is dit vir werknemers baie moeilik om die vrystelling vir buitelandse inkomste te kry waarvoor hulle kwalifiseer.”

NomadIQ se besturende vennoot, Barendine Duvenhage, sê as werkgewers seker is werknemers kwalifiseer vir belastingvrystelling op buitelandse inkomste, kan hulle die lopendebetaalstelsel (LBS) weerhou. “As ’n werknemer egter nie kwalifiseer nie, sal die werkgewer egter aanspreeklik wees vir ’n boete vir die laat betaling van LBS.”

Sy sê werkgewers sal waarskynlik op die IRP5-sertifikaat aandui watter deel van ’n werknemer se inkomste binnelands verdien is en watter deel in die buiteland, maar hulle sal LBS vir die totale bedrag aftrek. “Die werknemer moet dan ’n terugbetaling van die SAID eis. Gewoonlik vra die SAID ’n brief van die werkgewer wat bevestig dat die individu in die buiteland gewerk het en ’n rooster wat die tydperk aandui, asook afskrifte van die belastingbetaler se paspoort om dit te ondersteun.

Sy sê indien die werkgewer die korrekte kodes gebruik het om die inkomste te verdeel en die belastingpligtige al die ondersteunende dokumente beskikbaar het, sal die SAID die LBS terugbetaal. “Dit vereis egter soms vasberadenheid en deursettingsvermoë.” Kennedy sê werkgewers moet ekstra sorg dra om te verseker dat die IRP5-inligting wat aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) voorgelê word, korrek is.

Werknemers moet uitvoerige kennis hê om ’n fout raak te sien. Om die bronkodes en aftrekkingskodes te moniteer is nie altyd maklik nie. Sy stel voor werknemers gebruik die SAID-belastingrekenaar voordat hulle belastingopgawes indien om vas te stel of daar groot probleme is wat moontlik ingryping kan vereis.

 

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Amanda Visser
Amanda Visser
Amanda Visser werk sedert 1986 as ’n joernalis vir radio en televisie, asook gedrukte en aanlyn media. Sedert 2003 lê sy haar op finansiële joernalistiek toe en was nog nooit spyt nie. Sy spesialiseer in belasting en het al oor handelsreg, mededingingsreg en regulatoriese kwessies geskryf.

Amanda Visser has been a journalist since 1986 and has worked in print, radio, television and online. Around 2003 she joined the world of financial journalism and had never looked back. She specialises in tax and has written about trade law, competition law and regulatory issues.

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest