Die Beleg van Makapansgrot 165 jaar gelede word vandeesweek gedenk. Dié beleg het op 25 Oktober 1854 begin en sowat ’n maand geduur. Tydens hierdie voorval is duisende Kekana-mense in die grotte buite die huidige Mokopane deur nagenoeg 450 Voortrekkers onder leiding van Piet Potgieter en M.W. Pretorius onder beleg gehou. Dit het gevolg op drie brutale aanvalle op Voortrekkergeselskappe. Daar word dikwels oor dié gebeure gegis. Boonop kan die verandering van die naam van die nabygeleë dorp, Potgietersrus, na Mokopane, ook as weerwraak deur die latere ANC-regering geag word. Maar wat het werklik in die tyd vóór en tydens dié beleg gebeur?

Drie brutale aanvalle

In haar meestersgraadverhandeling getiteld “Die ontstaans- en vestigingsgeskiedenis van Potgietersrus, 1852-1904” skryf Janetta du Plooy breedvoerig oor die aanvalle op die Voortrekkers en die strafekspedisie wat daarop gevolg het.

Du Plooy voer aan dat 28 Voortrekkers in September 1854 in drie afsonderlike aanvalle deur die Kekana van die Ndebele-hoofman Mokopane en die Langa van Ndebele-hoofman Mankopane vermoor is. Dit het by Fothanekop, Moorddrift en Pruizen plaasgevind. Bronne verskil oor die moontlike redes vir die aanvalle op die Voortrekkers, maar die wreedheid daarvan kan nie misken word nie.

’n Monument ter nagedagtenis aan dié wat in die aanvalle vermoor is, is in 1909 onthul. Daarop verskyn die name van sewe mense wat in die aanval by Fothanekop vermoor is (die ander name is nie bekend nie):

  • Hermanus Potgieter
  • Andries H. Potgieter
  • Willem Potgieter
  • Jacobus Hendrik Botha
  • Jacobus Coetzee
  • Marthinus Viljee
  • Piet Botha

Volgens oorlewering was die moorde op die trekkers besonder wreed.

In die aanval by Moorddrif is ’n trekgeselskap van Schoemansdal op pad na Marico vermoor. In die aanval het die volgende persone omgekom:

  • Willem Prinsloo, Nellie Prinsloo en drie kinders
  • Lourens Badenhorst
  • Jan Breed, Maria Breed en drie kinders
  • Philippus du Preez

Ook hierdie moorde was uiters brutaal.

In die derde aanval is Albertus Venter en sy seun Willem by Mokopane se kraal vermoor toe hulle koring wou gaan ruil het.

Die strafekspedisie teen Mokopane

In reaksie op die aanvalle het die Voortrekkers ’n teenaanval op Mokopane van stapel gestuur. Dié aanval sou later as die Beleg van Makapansgrot bekendstaan.

Lede van die strafekspedisie (onder leiding van Piet Potgieter en M.W. Pretorius) het op 24 Oktober 1854 eers na die Kekana-kraal gegaan, maar dit verlate gevind nadat dié groep reeds met hul vee en kosvoorraad na die grotte gevlug het. Hier was die krygers met assegaaie en gewere gewapen en die opening van die grot is met klippe toegepak terwyl daar op die koms van die Voortrekkers gewag is.

Op 25 Oktober het die Voortrekkers met ’n kommando van 450 man die grot bereik en daar kamp opgeslaan. Verskeie aanvalle op die Kekana is van stapel gestuur, maar het misluk. Hierna is die watertoevoer na die grot afgesny. Pogings om met buskruit die verskansing by die bek van die grot oop te skiet en om die Kekana uit te rook, het ook misluk. Onderhandelinge is ook deur die Kekana afgewys. Intussen het die vasgekeerdes se kos- en watervoorrade gekrimp.

Sowat twee weke sedert die begin van die beleg, op 6 November, is Potgieter dodelik gewond deur ’n Kekana-skerpskutter toe hy op ’n krans bokant die grot die kommandolede aangemoedig het. Hierna het ’n hewige geveg losgebrand en Paul Kruger (toe nog ’n veldkornet) het Potgieter se liggaam gaan haal.

In die dae wat gevolg het, is die beleg meer intensief voortgesit. In die nagte het van die Kekana probeer om uit die grot te ontsnap, maar is deur lede van die nagpatrollies geskiet. Ander het oorgegee aan die kommando.

Kruger het egter op ’n besondere manier die beleg tot ’n einde probeer bring. Volgens Du Plooy het Kruger “die grot op ’n keer binne gegaan en in hulle eie taal die vasgekeerdes probeer oorreed om hom na buite te volg. Op ’n wonderbaarlike wyse het hy sy eie lewe behou en sowat 170 vroue en kinders uitgelei.”

Teen 17 November het ’n verdere 364 vroue en kinders oorgegee en die grot verlaat. Die beleg het uiteindelik tot 21 November voortgeduur. Dit is nie duidelik hoeveel mense tydens die beleg omgekom het nie, maar binne die grot het Pretorius en sy geselskap ’n aaklige gesig teëgekom waar ontbindende lyke verstrooi gelê het. Volgens Du Plooy word die Voortrekkers in verskeie bronne gekritiseer vir die “onmenslikheid” van die beleg, maar sy voer ook aan dat die gevreesde “grotsiekte” in dié grot voorkom en dat talle van die sterftes in die grot daaraan toegeskryf kan word.

Hoe dit ook al sy – die beleg het Mokopane se mag gebreek en die oorblywende Kekana het kort hierna weggetrek en later met die Langa en Sotho geassimileer.

Ilze Nieuwoudt
Ilze Nieuwoudt
Ilze is die publikasie bestuurder by Kraal Uitgewers.

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest