Leesvordering:

Die Bybel – in AFRIKAANS!

Mei 18, 2023

Deur Ilze Nieuwoudt

Op 29 Mei 1933 vind ’n merkwaardige gebeurtenis in Suid-Afrika plaas. Hoewel die voorbereiding hiervoor reeds jare se werk geverg het, staan hierdie geskiedkundige dag in 1933 uit as die dag waarop die eerste besending Afrikaanse Bybels vanuit Londen in Kaapstad aangekom het.

Die vertaling van die Bybel in Afrikaans het beslis nie oornag plaasgevind nie. Inteendeel, die eerste Bybelboek – die Evangelie volgens Markus – is reeds in 1878 in deur C.P. Hoogenhout in Afrikaans vertaal. Die manuskrip is volgens die Suid-Afrikaanse Bybelgenootskap nooit gepubliseer nie en is nog steeds inbewaring in die Nasionale Biblioteek in Kaapstad.

Die eerste volledige weergawe van die Bybel is eers in 1933 uitgegee. Dié weergawe is vertaal deur prof. J.D. du Toit (die digter, Totius), prof. E.E. van Rooyen, prof. J.D. Kestell, dr. H.C.M. Fourie en prof. B.B. Keet. Daarna het ’n nuwe vertaling van die Afrikaanse Bybel in 1983 gevolg en in 2008 die eerste Afrikaanse Bybel vir dowes. Dit is slegs die tweede vertaling van die Bybel ter wêreld wat spesifiek vir mense met hierdie gestremdheid vertaal is. Uiteindelik het daar ook in 2020 ’n nuwe Afrikaanse vertaling verskyn wat in ’n moderne “vloeiende, idiomatiese Afrikaans” vertaal is.

Volgens die Genootskap van Regte Afrikaners het dr. Arnoldus Pannevis in 1872 die eerste keer ’n openbare pleidooi gelewer vir die vertaling van die Bybel in Afrikaans. In sy brief in die koerant De Zuid-Afrikaan voer hy aan dat die Nederlandse vertaling van die Bybel vir die sogenaamde “eenvoudiger gedeelte van die bevolking” ’n geslote boek geword het omdat hulle dit nie verstaan het nie. Die reaksie wat daarop gevolg het was negatief en dit was duidelik dat baie mense gekant was teen die vertaling van die Bybel in Afrikaans.

In 1873 het C.P. Hoogenhout die verhaal van Josef in Afrikaans vertaal en uitgegee as Die geskiedenis van Josef voor Afrikaanse kinders en huissouwens, in hulle eige taal geskrijwe deur een vrind.

Teen November 1874 het Pannevis en Hoogenhout kragte saamgespan om by die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap te pleit vir die vertaling van die Bybel in Afrikaans. Later op ’n predikantekonferensie in 1875 op Wellington is die vertaling in Afrikaans ook afgekeur.

Hierdie toedrag van sake het gelei tot die besef dat ’n stryd begin moes word vir die erkenning van Afrikaans as skryftaal. Met die oog daarop is die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA), onder leiding van ds. S.J. du Toit (Totius se pa), op 14 Augustus 1875 in die Paarl gestig.

Teen 1878 het die Genootskap uiteindelik besluit dat dit nou ’n goeie tyd was om die vertaling aan te pak en ds. S.J. du Toit opgdrag gegee om daarmee voort te gaan. Met verloop van tyd het die eerste boeke stuk-stuk verskyn. In 1893 – Genesis, in 1895 Matteus, in 1898 Openbaring, Hooglied in 1905, in 1907 Psalms, Handelinge in 1908 en Markus in 1908. In Oktober 1911 sterf Du Toit. Hy was in daardie stadium nog ywerig besig met die vertaling van Lukas en het dus nie die finale produk wat uiteindelik in 1933 die lig gesien het, beleef nie.


Hoe dit ook al sy, vandag is daar meer as 6,8 miljoen Suid-Afrikaners wat Afrikaans as huistaal praat en met dankbaarheid kan terugkyk op daardie geskiedkundige dag in 1933 toe die Bybel vir die eerste keer in ons moedertaal uitgegee is.

Foto: Die eerste eksemplare van die Afrikaanse Bybel is in Mei 1933 by die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap afgelewer. Bron: Nasionale Argief, Pretoria.

Meer oor die outeur

Ilze Nieuwoudt

Ilze Nieuwoudt is die publikasiebestuurder by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Natasha Viljoen wat al ses...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest