Leesvordering:

Die drie kultuurervaringe wat jy nooit moet prysgee nie

Sep 8, 2023

Kultuur maak jou menswees ryker. As jy in Kanada of Nieu-Seeland woon is dit opwindend en noodsaaklik om jouself in die plaaslike kultuur te verdiep. Maar om jou eie kultuur ook te vier maak nie net jóú belewenis nie, maar ook die mense rondom jou s’n ryker. ’n Mens hoor gereeld dat diversiteit karakter bou, ’n samelewing sterker maak en die lewe sy geur gee. As jy in ’n ander land woon is dit ’n besonderse geleentheid om sowel jou kinders as die mense om jou die kans te gee om ook jou kultuur te beleef. Die Amerikaanse Jood, die Kanadese Maleier of die Suid-Afrikaanse Italianer se verhoudinge is soveel ryker wanneer hulle hul kollegas kan nooi vir ’n tradisionele aandete of kultuurviering. Jou kultuur is iets om op trots te wees, maar dit verg moeite om jou eie tradisies te skep as jy in die buiteland is. Italianers kan maklik ’n Italiaanse restaurant besoek en iets van hulle kultuur beleef, maar dit is nie altyd so maklik vir Suid-Afrikaners nie. Om jou kultuur uit te leef is egter pret en dit is iets wat jy met voorbedagte rade moet doen.

Daar is drie elemente van jou kultuur wat jy nie kan prysgee nie, naamlik jou geskiedenis, jou taal en jou tradisies. Hier is waarop jy nie moet uitmis as jy in die buiteland woon nie:

Viering van geskiedkundige dae

’n Goeie manier om jou kinders te herinner aan hulle wortels is om ’n paar dae op die jaarkalender vas te pen wat julle as gesin kan vier. Vestig julle eie tradisies met byvoorbeeld Geloftedag op 16 Desember. Maak ’n groot ete met tradisionele disse en lees die verhaal van Bloedrivier en bid saam as gesin as herdenking van dié gebeurtenis. Of wat van Krugerdag op 10 Oktober of Van Riebeeckdag op 6 April? Dit is ’n geleentheid vir julle gesin om weer op julle eie herkoms te fokus en tyd te maak om jou eie kennis ook op te skerp. Stories is die beste manier om die geskiedenis te leer, van Wolraad Woltemade tot Racheltjie de Beer. Vertel jou kinders van Dirkie Uys, die Groot Trek, Susanna Smit of oor Johanna Brandt se spioenasiering tydens die Anglo-Boereoorlog. Daar is goeie aanlyn bronne wat deeglike geskiedenisdagboeke saamgestel het, so jy het geen verskoning om nie te weet watter staaltjie jy elke maand of selfs elke week met die mense rondom jou kan deel nie.

Geniet jou taal

Jou Afrikaanse woordeskat kry vinnig ’n knou as jy in die buiteland bly. Dit is nog moeiliker om jou kinders se Afrikaans lewendig te hou. Daarom moet ’n mens dit pret maak, kies elke week ’n unieke Afrikaanse woord wat hulle moet onthou of gebruik en beloon hulle dan daarvoor. Maak dit ’n speletjie om te sien wie nuwe woorde kan leer. Of maak ’n punt daarvan om een keer ’n maand as gesin die Afrikaanse Scrabble-bordspeletjie saam te speel. Selfs enige ander bordspeletjie in Afrikaans kan werk. Julle kan ook ’n aand per ’n week kies waartydens julle net Afrikaanse musiek luister of elke Sondagaand ’n Afrikaanse film kyk. Afrikaans kan geniet en gevier word selfs al het ’n mens nie altyd mense om jou om mee Afrikaans te praat nie!

Leef jou tradisies

’n Kultuur se tradisies is tot ’n groot mate verbind aan die viering van belangrike lewensgebeure. Die Indiese kultuur word werklik beleef as jy ’n troue bywoon, jy sien iets sentraal tot die Joodse kultuur met ’n Bar Mitzvah-seremonie en jy leer baie van Afrikakulture as jy al ’n begrafnis bygewoon het. Hoe kan jy ook jou Afrikanerskap uitleef met ’n trouseremonie of ’n verjaarsdagviering? Dalk is iets soos ’n doop, geloofsbelydenis aflê of om 18 jaar oud te word nie iets wat die land se kultuur waar jy woon werklik vier nie – dan is dit ’n geleentheid om dinge op jou manier te doen. Nooi nabye vriende en maak dié geleenthede spesiaal, dalk is dit net ’n braai of ’n familie-ete met tradisionele kos, maar moet nooit ophou om dít te vier wat vir jou belangrik is nie!

LEES OOK: Behou jou wortels in die buiteland

Foto: matt-halls-unsplash

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest