Leesvordering:

Die driejaarreël en wat dit beteken vir Suid-Afrikaners wat die land verlaat

Okt 22, 2020

Die Nasionale Tesourie hou by die driejaarreël vir die bepaling van belastingverblyfreg vir Suid-Afrikaanse emigrante. Die nuwe reël tree op 1 Maart 2021 in werking.

Ingevolge die voorgestelde wysiging in die Konsepwysigingswetsontwerp op belastingwette sal emigrasie verander van ‘n bankproses deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank na ‘n belastingproses deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens.

Kyle Mandy, ‘n belastingtegniese vennoot van PwC, sê die driejaarreël sal bepaal wanneer emigrante geregtig is op toegang tot hul uittree-annuïteite en ook in sekere gevalle tot hul bewaringsfondse. Tans het emigrante ingevolge die valutabeheerreëls van die Suid-Afrikaanse Reserwebank onmiddellik toegang tot hul aftreefondse sodra die emigrasie formeel goedgekeur is.

Verskeie belanghebbendes soos PwC en bedryfsinstansies soos die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAICA) en die Suid Afrikaanse Instituut vir Belastingpraktisyns (SAIT) het voorleggings gedoen om die impak te versag. Baie het aangevoer dat drie jaar te lank is en dat daar ander maniere is om vas te stel of iemand die land permanent verlaat het. Die Nasionale Tesourie het egter al die voorleggings van die hand gewys. Alhoewel die parlement se staande komitee oor finansies (SCoF) steeds die tesourie se voorstel kan verwerp of wysig, is daar geen aanduiding van die komitee dat dit sal oop wees vir wysigings nie, sê Mandy.

Mandy voeg egter by dat die implikasies dalk nie so ingrypend is as wat baie mense sê nie. Individue het toegang tot hul werk se aftree- en voorsorgfonds wanneer hulle uit hul huidige pos bedank. Dié fondse sal heel waarskynlik in ‘n bewaringsfonds gehou sodat belastingaftrekbare bydraes voortgesit kan word.

Persone wat geraak word

Joon Chong, belastingvennoot by Webber Wentzel, sê die driejaarreël sal almal raak wat beleggings in uittree-annuïteitsfondse het, ongeag of hulle reeds afgetree het of nie. Sy verduidelik dat individue een keer voor hul aftrede ‘n onttrekking uit hul bewaringsfonds kan maak; hulle kan die volle bedrag of ‘n gedeelte daarvan onttrek. “As iemand verkies om 40% te onttrek, kan hulle eers op 55 toegang tot die oorblywende 60% in die bewaringsfonds verkry of deur hulle die (huidige) finansiële emigrasieproses voltooi.”

Uittree-annuïteite bied nie so ‘n opsie nie. Die individu verkry eers op 55 toegang en kan slegs een derde as ‘n enkelbedrag onttrek; twee derdes moet in die annuïteitsfonds bly, sê Chong, wat ook ‘n lid is van SAIT se komitee vir persoonlike en werknemerbelasting.

Mense wat reeds die eenmalige onttrekking uit hul bewaringsfonds gemaak het, sal hulle in die driejaarreël vasloop as hulle ná Maart volgende jaar om emigrasie aansoek doen. Mandy sê afgesien van die drakoniese aard van die wet kwel baie emigrante hulle omdat hulle toegang tot daardie fondse nodig het om hulle in die nuwe land te vestig, veral in ag genome hoe duur dit is.

Buitelandse aftree-reëls

Die meeste lande het hul eie spesifieke reëls rakende aftreefondse. Australië laat nuwelinge byvoorbeeld toe om hul aftreefondse na ‘n goedgekeurde Australiese aftreefonds oor te plaas, maar dit moet binne ‘n beperkte tydraamwerk geskied. Mandy waarsku dat sulke kwessies in ag geneem moet word by die oordrag van fondse. Dit sal van land tot land verskil, afhangende van elke land se reëls rakende aftreefondse.

Enkele toegewings

Chong sê die Tesourie het aangedui dat alle volledige emigrasie-aansoeke wat die Suid-Afrikaanse Reserwebank vóór 1 Maart 2021 bereik volgens die huidige proses afgehandel sal word, selfs word dit eers na 1 Maart 2021 goedgekeur. Hierdie toegewing deur die Tesourie word verwelkom aangesien baie potensiële emigrante steeds vertragings ondervind met die verkryging van die nodige permitte en ‘n reisverbod in die land waarheen hulle emigreer. Internasionale vlugte is steeds baie duur en nie vrylik beskikbaar nie.

Chong raai individue wat emigreer aan om hul aansoekvorms en stawende dokumente (insluitend belastingklaringsertifikate) so gou as moontlik by hul gemagtigde handelsbank in te dien.

 

Lees ook: Vrae oor die grondwetlikheid van die driejaar-emigrasiereël

Meer oor die outeur

Amanda Visser

Amanda Visser werk sedert 1986 as ’n joernalis vir radio en televisie, asook gedrukte en aanlyn media. Sedert 2003 lê sy haar op finansiële joernalistiek toe en was nog nooit spyt nie. Sy spesialiseer in belasting en het al oor handelsreg, mededingingsreg en regulatoriese kwessies geskryf.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Dapper Media 2021

Dapper Media 2021

Deur Jeske van der Walt 2020 is verby en in ons truspieëltjie. Ons is dankbaar vir alles wat ons as span verlede jaar bereik het; vir al die harde werk, vasbyt, oëtoeknypoomblikke, genade, ondersteuning en saamwerkgeleenthede. Ons het in 2020 baie geleer en gegroei en...

Natuurhoekie – Die kordaat seekoeikalfie

Natuurhoekie – Die kordaat seekoeikalfie

Tydens ’n besoek van Two-V Productions se André en Kate aan die Krugerwildtuin het hulle hierdie seekoeikalf raakgeloop wat ’n waterbokbul by die Mesteldam naby Numbihek gejaag het. Die volgende oggend het Kate en André teruggegaan na die dam toe ... en daar was die...

Boekresensie: Emigreer of bly

Boekresensie: Emigreer of bly

Emigreer of bly is ’n vraag wat jy dalk al in jou kop gehad het of wat iemand jou al gevra het. Ek onthou in ’n onderhoud vir ’n vorige pos het dié vraag in die onderhoud opgekom, ek was nog altyd die "wat jy dink die beste vir jou is op ’n spesifieke tyd" persoon en...

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Wêreldwyd vriende

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Pin It on Pinterest