Leesvordering:

Die epiese nuwe drama Waterfront is binnekort op ShowMax beskikbaar!

Sep 28, 2017

ShowMax en kykNET het die eerste lokprent vrygestel vir Waterfront, ’n sterbelaaide donker familiedrama wat in die onderwêreld van een van Suid-Afrika se voorste toeristebestemmings afspeel.

Skeepsboupatriarg Ben Myburgh (SAFTA-benoemde Dawid Minnaar) is oorlede. Sy afsterwe bring sy drie dogters – Julia (Die Byl se Milan Murray), Anna (Silwerskerm- en Fleur du Cap-benoemde Rolanda Marais) en Kate (Die Boekklub se Trix Vivier) – terug na die familieonderneming in die Kaapstadse hawe. Slegs een van hulle sal egter die familie se sakeryk erf in hierdie skaduverhaal van geheime, mededinging tussen sibbe en ingrypende verandering in ’n woonbuurt.

Silwerskerm-wenners Albert Pretorius en Erica Wessels, Fleur du Cap-wenners Charlton Lee George, Paul du Toit en Stian Bam, asook 2017 SAFTA-benoemde Neels van Jaarsveld deel die skerm met bekende gesigte soos Edwin van der Walt (Ballade vir ’n Enkeling), Hannes van Wyk (Kwêla, Egoli, danZ!), Joanie Combrink en Marvin Lee Beukes (Die Byl) en Tarryn Wyngaard (Noem My Skollie).

Maar in dié reeks is die groot ster die V&A Waterfront. “Dis so ’n besonderse plek, en nog nooit vantevore op dié manier in ’n plaaslike dramareeks aangewend nie,” sê vervaardiger Herman Binge van Lion’s Head Productions.

Die reeks wil ons herinner dat die Waterfront se skoonheid teen ’n prys gekom het: die verryking van die gebied wat op die ontwikkeling van die inkopiesentrum in die 80’s gevolg het, het beteken dat nie al die Waterfront se bure kon bekostig om aan te bly nie, aangesien eiendom in die gebied skielik goud werd geword het. Selfs mense soos die Myburghs is onder geweldige druk geplaas om te verhuis.

“Toe ek klein was, was die Waterfront ’n tipe skeepswerf,” onthou aktrise Euodia Samson (Die Byl). “Dit was ’n wonderlike wêreld, want daar was mense en vissermanne oral. Deesdae is dit so prim and proper, ’n mens moet hakskoene aantrek as jy hierheen wil kom.”

Charlton Lee George (Die Boland Moorde) stem saam. “Dit het heelwat verander sedert die tagtigerjare. Hierdie was ’n gevaarlike plek, so dit was baie interessant om te sien hoe dit ’n toeristemekka word.”

Waterfront is oorspronklik as sepie opgedroom. Dit was saam met The Wild op die kortlys toe M-Net ’n sepie gesoek het, en saam met Suidooster toe kykNET een wou hê. Maar toe Fleur du Cap- en Kanna-bekroonde regisseur Jaco Bouwer (Rooiland, Samsa-Masjien) betrokke geraak het, het hy eerder familiedramas soos Bloodline en Noorse noir soos The Killing as verwysings betrek.

Saam met draaiboekskrywer Leon Kruger het Bouwer nuwe lewe in die konsep geblaas en die fokus verskuif na die komplekse menseverhoudings aan die hart van die storie. Die plekke waar die aksie grootliks afspeel is verskuif van die helder inkopiesentrum na die donker hoekies en draaie van die hawe. “Ek wou nie ’n goeie en ’n slegte karakter skep nie,” sê Kruger, wat as akteur saam met Bouwer gewerk het aan Die Boland Moorde. “Ek wou iets grys skryf.”

Bouwer glo die reeks slaan ʼn nuwe rigting in vir Suid-Afrikaanse televisie, met komplekse struktuur en morele kodes, en tot vyf storielyne wat gelyktydig loop. Enkele tonele word oor die verloop van 13 episodes versplinter en daar is terugblikke en tonele wat vooruit kyk. “Ek glo en hoop dat plaaslike gehore gereed is hiervoor,” sê Bouwer. “Ek dink nie ons het al iets soos Waterfront op plaaslike televisie gesien nie.”

Waterfront vervang Die Boekklub op kykNET (DStv-kanaal 144) op 10 Oktober 2017 om 20:00 SAST, en sal die volgende dag reeds op ShowMax te sien wees. Nuwe episodes word weekliks uitgesaai.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest