Leesvordering:

Die Groot Trek – soos uit die Kaap gesien

Mei 12, 2022

Deur Ilze Nieuwoudt

Die Groot Trek, oftewel die emigrasie van duisende Kapenaars van Nederlandse, Duitse en Franse afkoms na ’n relatief onbekende en ongetemde binneland van suidelike Afrika gedurende die 1830’s, fassineer Suid-Afrikaners al generasies lank. Die Trek, die lewe van verskeie bekende rolspelers sowel as die aflegging van die Gelofte en die daaropvolgende gebeure by die Slag van Bloedrivier is nou weer in die kollig danksy ’n nuwe musiekblyspel, Die Gelofte, wat tans by die AfriForum Teater op die planke is.

              Die gebeure tydens die Trek is, en tereg ook so, dikwels oorgedra van die een generasie na die volgende deur mense wat dit self meegemaak het of historici wat dit later vanuit uiteenlopende bronne nageslaan en geverifieer het. Tog is die ervarings van familielede en gemeenskappe wat onder die Britse heerskappy in die Kaapkolonie agtergebly het, dikwels minder bekend. Wat wel plek-plek duidelik is in geskiedskrywing, is die reaksie wat hierdie persone op die Trekkers se emigrasie gehad het.

              In sy monumentale werk, Die Afrikaners: ’n Biografie, verwys die historikus Hermann Giliomee na verskeie Britse amptenare en kerkleiers se reaksie op die Trek. “Hul kommentare was amper eenparig negatief. Sommige was bekommerd oor wat van die Trekkers sou word, ander oor die lot van die inheemse bevolking.”[i]

              Die Amerikaanse historici James M. Burns en Robert O. Collins voer in hul boek, A history of Sub-Saharan Africa,aan dat Britse amptenare aan die Kaap die Voortrekkers se trek na die binneland met “beduidende angs” dopgehou het. Hulle het boonop gereken dat dit net ’n kwessie van tyd sou wees voordat die Britte die konflikte, wat tussen die Trekkers en die inheemse stamme sou plaasvind, moes beredder.[ii] 

              Gideon Joubert, ’n vooraanstaande grensboer, het onder meer verwag dat die Trekkers uitwissing in die gesig staar of andersins sou verval in ’n staat “erger as dié van die heidene”.

              Ook koerante was minder optimisties oor die Voortrekkers se uittog. Volgens Giliomee was die enigste Nederlandse koerant in die kolonie, De Zuid-Afrikaan, ontsteld oor die Trekkers se onttrekking aan die Britse gesag.[iii]

              Die Groot Trek word vandag steeds as waarlik “groot” en ’n belangrike keerpunt in die geskiedenis van die Afrikaner beskou. “Agterna, noudat die geskiedenis voltooi is, lyk dit asof mens nie aan die uitkoms van enige van die gevalle [van die Groot Trek, die Anglo-Boereoorlog en die vestiging van Afrikaans as eie taal] kon getwyfel het nie, asof daar telkens net een pad oopgelê het en daar nie ’n gelykop keuse tussen twee dinge was nie,” skryf N.P. van Wyk Louw in 1938 in sy opstel “Die ewige trek”.[iv]

              Tog wás die keuses nie uit die staanspoor duidelik nie, en hét die Trekkers ongekende teëspoed ervaar. Die Kaapse Kerk se sinode het byvoorbeeld in 1837 verklaar dat die sinode met droefheid verneem van die trekbeweging en aangevoer dat die Trekkers “sonder ’n Moses en Aäron die woestyn intrek, en sonder enige belofte of aanwysing nou vir hulle ’n Kanaan opsoek”.[v]

              Dit is egter die gebore Skotse predikant ds. William Robertson se brief van 1838 aan sy gemeente in Swellendam wat die bitterheid en teenstand teenoor die Trekkers die beste verwoord. Dit is geskryf kort ná die tragiese aanval wat in Februarie 1838 langs die Bloukrans- en Boesmansrivier plaasgevind het, waartydens meer as 500 mense vermoor is. Hy skryf:

Julle weet dat ek u ernstig aangeraai het om u nie van die vreugde van Christelike instellings en die voorregte van ’n beskaafde en ordelike regering te onttrek nie […] Die droewige ervaring het ons nou, helaas, geleer dat die vrese wat ek koester, nie ongegrond was nie, en dat die gevare wat ek voorspel het, nie die gevolg van my verbeelding was nie. Dit is vir my goed dat so min my gemeente tot nou toe verlaat het, en ek wil hoop dat julle, in die treurige gebeure wat reeds plaasgevind het, God se afkeur in die hele plan sal bespeur, en dat niemand voortaan die gedagte sal wil koester om homself en sy eie aan so ’n groot gevaar bloot te stel nie.[vi]

Robertson verklaar voorts ook in sy brief dat mense wat weens ontevredenheid sou kies om die Kaapkolonie te verlaat, hulle skuldig maak aan ondankbaarheid teenoor God en die verwerping van sy voorsienigheid. Hy het boonop al ’n geruime tyd lank die Trekkers se optrede as dwaas bestempel en het selfs die teëspoed wat hulle ervaar het as die “straffende hand van God” geag. 

              Of amptenare, burgers en kerklui se aanmanings mense afgeraai het om ook aan die Trek deel te neem, is onduidelik. Tog het daar teen 1845 reeds 2 038 families, oftewel sowat 15 000 burgers saam met 5 000 werkers die Kaapkolonie verlaat en wortelgeskiet in die onbekende en soms onvriendelike binneland.[vii]


[i] H. Giliomee, Die Afrikaners: ’n Biografie, p. 120.

[ii] J.M. Burns & R.O. Collins, A history of Sub-Saharan Africa, p. 289.

[iii] H. Giliomee, Die Afrikaners: ’n Biografie, p. 121.

[iv] N.P. van Wyk Louw, “Die ewige trek”, in Lojale verset, in Versamelde prosa 1, p. 96.

[v] Eie vertaling. Oorspronklike teks lui: “zonder eenen Mozes en Aäron de woestyn introkken, en zonder belofte of aanwysing thans een Canaän voor zigh opzoeken”. Aangehaal uit J.W. Claasen, “Skotse predikante en die geestelike bearbeiding van die Voortrekkers”, Historia, 50(3), pp. 494-495. Aanhaling oorspronklik aangehaal uit: Nederduitsche Hervormde Kerk, 1837, Algemeene Vergadering der Nederduitsche Hervormde Kerk 1837: Herderlyke herinneringen en toespraak by gelegenheid der sluiting van de buitengewone Algemeene Vergadering der Nederduitsche Hervormde Kerk, gehouden in de maanden October en November des Jaars 1837, Kaapstad: Algemeene Vergadering der Nederduitsche Hervormde Kerk, p. 2.

[vi] Aangehaal uit J.W. Claasen, “Skotse predikante en die geestelike bearbeiding van die Voortrekkers”, Historia, 50(3), pp. 495-496. Aanhaling het oorspronklik in Nederlands verskyn in W. Robertson, Derde brief van eenen leeraar in Zuid-Afrika aan zyne gemeente, Kaapstad, s.n., pp. 9-10.

[vii] H. Giliomee, Die Afrikaners: ’n Biografie, p. 120.

Bronnelys:

Burns, J.M. & Collins, R.O. A history of Sub-Saharan Africa. Cambridge: Cambridge University Press.

Claasen, J.W. 1994. “Skotse predikante en die geestelike bearbeiding van die Voortrekkers”, Historia, 50(3), pp. 493-521.
Giliomee, H. 2004. Die Afrikaners: ’n Biografie. Kaapstad: Tafelberg.
Louw, N.P. van Wyk. 1986. “Die ewige trek”, in Lojale verset, in Versamelde prosa 1. Kaapstad: Tafelberg.
Nederduitsche Hervormde Kerk. 1837. Algemeene Vergadering der Nederduitsche Hervormde Kerk 1837: Herderlyke herinneringen en toespraak by gelegenheid der sluiting van de buitengewone Algemeene Vergadering der Nederduitsche Hervormde Kerk, gehouden in de maanden October en November des Jaars 1837. Kaapstad: Algemeene Vergadering der Nederduitsche Hervormde Kerk.
Robertson, W. 1838. Derde brief van eenen leeraar in Zuid-Afrika aan zyne gemeente. Kaapstad: s.n.



Meer oor die outeur

Ilze Nieuwoudt

Ilze is die publikasiebestuurder by Kraal Uitgewers.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Potchefstromers  in België

Potchefstromers in België

Ons het hierdie week met Aimee le Roux en haar man gesels wat hul hele lewe lank in Potchefstroom gewoon het en binne drie maande al hulle besittings verkoop het en met ses tasse na ’n klein dorpie in België getrek het. Sy vertel ons van hulle eerste sneeu-ervaring,...

Die “hulle” wat naaste aan ons is

Die “hulle” wat naaste aan ons is

Vrydag was weer ’n pad-dag, en ek het so baie gehoor wat ek graag wil onthou. Onder andere die volgende: Een van die wonderlikste dinge om te sien, is hoe God jou idees verander.Tony Evans Deel van grootword is om groter te dink, wyer te droom – en daarmee is niks...

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Wêreldwyd vriende

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest