Leesvordering:

Die Ierse Cheetahs

Mar 26, 2020

Baie dinge in Ierland verskil van dié in Suid-Afrika – dink nou maar aan die weer, die groenigheid en die oorvloed van water en elektrisiteit – maar daar is een ding wat beide Iere en Suid-Afrikaners gaande het: rugby.

Dis lekker om te sien hoe passievol die mense hier oor die sport is. As Ierland ‘n ander span in die Ses Nasies pak, is elke pub ‘n miernes van bedrywighede. En almal skree uit volle bors wanneer daar punte aangeteken word.

Maar dis nie net die internasionale wedstryde wat soveel aftrek kry nie. Die Pro14 is boaan baie van die Iere se lys van gunsteling-rugbywedstryde om te kyk. Oral in Ierland waar jy dié wedstryde bywoon, is die stadions tussen 60% en 80% volgepak.

Vir ons as Suid-Afrikaners en lojale Cheetahs-ondersteuners is dit natuurlik ‘n hoogtepunt wanneer die ouens met hul oranje truie hier kom uitdraf. Ons is ‘n groep vriende wat saam ‘n Cheetahs-ondersteunersklub in Dublin begin het. En waar ook al die Cheetahs op die eiland speel, daar is ons ook.

Sedert September 2018 het ten minste 10 van ons al gaan kyk hoe die Cheetahs die plaaslike spanne hier in Ierland gepak het: vir Munster in Limerick, vir Connacht in Galway, vir Leinster in Dublin en vir Ulster in Belfast. Reën, wind en storms kan maar kom, ons is daar! Eintlik gaan dit meer oor die saamwees en die feit dat dit ‘n Suid-Afrikáánse span is wat hier in Iérland kom speel.

Net omdat ons die Cheetahs gaan kyk, beteken dit nie ons almal is volwaardige ondersteuners nie. Maar kom ons wees eerlik: Al skree baie van ons eintlik vir die WP of die Bulle, is die Cheetahs gewoonlik almal se tweede span.

Hoewel ons heeltemal in die minderheid by die wedstryde is, maak ons indruk – op die ander ondersteuners sowel as die spelers. Ons maak gewoonlik baie geraas – die hees stemme die volgende dag is ‘n baie goeie teken dat ons ons kant gebring het. En na die tyd probeer ons altyd met die Cheetah-spelers gesels en saam met hulle foto’s neem. Hulle is altyd baie gewillig en staan graag ‘n tydjie aan ons af. Die ander ondersteuners is ook baie tegemoetkomend en wil net altyd weet of ons welkom voel en hoe hulle kan help om ons tyd daar nog lekkerder te maak.

Hoewel die Cheetahs se wedstryde in Ierland vir die 2019/2020-seisoen vir eers verby is, maak ons klaar planne vir die volgende Pro14-seisoen wat in September begin. Hopelik kry ons een van die dae ‘n wen hier in Ierland – al reën dit en waai die wind ons weg.

Vir meer inligting, sluit aan by ons Facebook-groep Cheetahs Rugby Ireland Fan Club (https://www.facebook.com/groups/336020657260590/), of gaan na die Vrystaat Cheetahs se webblad (http://www.fscheetahs.co.za/news/join-the-cheetahs-family-in-ireland-20190314) om meer oor ons te lees.

Lees ook ‘n berig oor ons op OFM en in Bloemfontein Courant (https://www.bloemfonteincourant.co.za/the-0-5-1-never-leaves-you/).

Meer oor die outeur

Elsje du Toit

Elsje du Toit is ’n plattelandse meisie wat in die Noord-Kaap grootgeword het en later vir 5 jaar as joernalis by Volksblad en Netwerk24 in Bloemfontein gewerk het. Sy en haar man, JJ, bly sedert Januarie 2018 in Dublin. Hoewel sy al ’n rukkie hier bly, kan sy nog nie heeltemal aan die yskoue weer gewoond raak nie, maar tog geniet sy elke oomblik

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest