Leesvordering:

Die invloed van boeliegedrag op ons land se kinders in 2019

Mar 13, 2019

Afknouery is skadelike of aggressiewe gedrag wat op ’n aanhoudende en deurlopende wyse plaasvind en spesifiek gerig word op ’n leerder met minder gesag en selfvertroue as die boelie.

Verbale afknouery is wanneer die boelie kinders beledig, op ’n neerhalende wyse die spot met hulle dryf en dreigemente uiter.

Emosionele afknouery is wanneer negatiewe aksies herhaal word – maar nie noodwendig op ’n fisiese of verbale manier nie – en gebruik word om ander met opset emosioneel seer te maak deur byvoorbeeld skinderstories te versprei, sosiale uitsluiting, om iemand se besittings te steel, te vernietig of te beskadig, intimidasie deur gebare of dreigemente, asook kuberafknouery.

Fisiese afknouery is wanneer die boelie sy liggaam gebruik om die slagoffer af te knou, soos byvoorbeeld om iemand te skop, te slaan, te knyp of te boks. Hierdie vorm van afknouery kan makliker as verbale en emosionele afknouery beskou word.

Kuberafknouery word gedefinieer as ’n optrede waardeur iemand (die slagoffer) geteister, verneder, gedreig of in ’n verleentheid gestel word deur elektroniese metodes, soos byvoorbeeld blitsboodskappe, e-posse of sosiale media. Selfone, tablette en die internet word deur kinders gebruik om lelike boodskappe vir mekaar te stuur, om gemene kommentaar op iemand se foto’s te lewer, om haatgroepe te stig en om foto’s van die persoon sonder hulle toestemming op te laai wat hulle ontsteld en skaam laat voel.

Anonieme kuberafknouery is wanneer ’n persoon ander afknou deur van tegnologie of elektroniese toestelle gebruik te maak om sy/haar identiteit te verbloem. Dit kan oor selfone of oor die internet of aanlyn plaasvind.

Op 7 Maart 2019 het The Citizen ’n spotprent gedeel van skoolkinders wat in die straat verby ’n lamppaal stap met ’n advertensiebord van The Citizen wat lui Schools turned into war zones”. Die leerders se gesigsuitdrukkings kom wreedaardig voor – tande wat op mekaar kners, oë wat op skrefies trek met ’n frons wat prominent op die voorkop sit. Elke leerder dra ’n wapen. Die een dra ’n mes, die ander ’n pistool en die ander een ’n skêr.

Die kabinet het onlangs kommer uitgespreek oor die styging van afknouery, geweld en rooftogte wat in sekere skole plaasvind. Sedert die begin van die jaar was daar verskeie voorvalle van afknouery en geweld wat tussen leerders of tussen leerders en onderwysers plaasgevind het. Madan Motlhamme (13) is deur ’n klasmaat by die Mateane Primary School in Noordwes met ’n mes in die maag gesteek, wat uiteindelik tot sy dood gelei het. Vyf leerders tussen die ouderdomme van 15 en 16 jaar van Flora Park in Polokwane het Thoriso Themane aangeval en vermoor. ’n Sestienjarige leerder van die Mpheko Primary School in Peddie is in die rug gesteek ná ’n argument met ’n medeleerder terwyl hulle op die speelterrein was. Twee leerders van die Lenasia Secondary School is geskors nadat ’n video op sosiale media versprei is oor hoe ’n leerder ’n onderwyser aanval. Hierdie is slegs ’n paar van die gebeure wat tot dusver vanjaar plaasgevind het. Om meer hieroor te lees gaan na: https://www.sanews.gov.za/south-africa/prevent-schools-becoming-death-traps?fbclid=IwAR0Bx3LgBOI_Iwua033Payz8NgGatC1YXg_ItfHXDuXeTjqx_vWeJ2dp6cw.

Iets wat onlangs opslae gemaak het, is die sogenaamde “Momo-uitdaging”. Dit is ’n tipe boelietaktiek wat aanlyn plaasvind en na bewering kan veroorsaak dat kinders hulself óf seermaak, óf hul eie lewe neem. Momo word geïdentifiseer, volgens inligting wat op sosiale media versprei is, as ’n gedrogkarakter met ’n groot aansitglimlag en groot oë wat op die selfone en rekenaars van kinders verskyn. Hierdie uitdagings word op YouTube, WhatsApp en Facebook gedeel, en die opdragte moet uitgevoer word sodat jy in verbinding met Momo kan tree. Daar is dus nog geen bevestiging van die “Momo-uitdaging” in Suid-Afrika of iets wat daarmee verband hou nie, maar ouers moet steeds paraat wees vir hierdie tipe fenomene. Vir meer inligting oor die “Momo-uitdaging”, klik op hierdie skakel: https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/ouers-rasend-oor-gevare-van-momo-uitdaging/.

Parent24 het onlangs berig dat ouers paraat moet wees vir YouTube-video’s wat moontlik onderbreek mag word deur selfmoordwenke. Dit is vir ouers belangrik om te weet wat hulle kinders mag kyk en wat hulle nie mag kyk nie. Daar is byvoorbeeld ouderdomsbeperkings vir programme op TV, videospeletjies en films, maar die internet maak hierdie tipe dinge ’n bietjie meer ingewikkeld. Fox 4 Now meen dat hoewel video’s op ’n toep dalk na animasie lyk, bevat party van hierdie video’s ingelaste gedeeltes wat nie noodwendig vir kinders, of eintlik vir enige persoon, geskik is nie – maar dit is op kinders gemik. Die YouTube-poetsbakker Filthy Frank se video word hier gewys waar hy selfmoordwenke aan kinders gee (nie vir sensitiewe kykers nie): https://www.youtube.com/watch?v=BljeROiohuc. Vir meer inligting rondom hierdie voorvalle kan na die volgende artikel verwys word: https://m.parent24.com/Family/Parenting/moms-and-dads-the-youtube-videos-your-kids-are-watching-may-be-interrupted-by-suicide-tips-20190226?fbclid=IwAR2Y5Xnm5peKYRFfWiQXKciUX2g97uUv88wQD4-bDsgK-qSUAukbnGTeJcU.

Boelies kan strafregtelik vervolg word – of dit nou fisiese, verbale, emosionele of kuberafknouery is. Volgens Megan Harrington-Johnson, besturende vennoot en stigter van HJW Attorneys, is afknouery nie opsigself noodwendig ’n misdaad nie, maar gedrag wat in hierdie kategorie van afknouery val kan as misdaad gekategoriseer word. Sy noem ook dat ’n minderjarige wat aan afknouery skuldig bevind word nie noodwendig tronkstraf sal kry nie, maar dat die minderjarige ’n afleidingsprogram sal moet bywoon wat oor die bestuur van woede handel, terwyl die minderjarige ook berading sal ontvang. Vir meer inligting rondom hierdie saak, verwys ons na die volgende video en artikel: https://www.enca.com/news/bullying-could-be-criminally-prosecuted?utm_term=Autofeed&fbclid=IwAR2ay9WNDZLnjm9OB4dzucqdRTCmH2Wy3f8xmGsh1KCL9GKK2QjPRHUkW-s. Kinders kan vanaf die ouderdom van so jonk soos tien jaar vervolg en van afknouery aangekla word. Ouers en hul kinders kan dus self ’n hofbevel ingevolge die Wet op die Beskerming teen Teistering teen boelies verkry. Vir meer inligting: https://www.netwerk24.com/Nuus/Onderwys/selfs-10-jarige-boelies-kan-vervolg-word-20190221#loggedin.

Afknouery is waarlik ’n ernstige probleem in ons samelewing. Onlangs het ’n 13-jarige meisie van Pretoria-Noord haar eie lewe geneem nadat sy blykbaar op WhatsApp afgeknou is. Lees meer: https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/13-jarige-sterf-byna-nie-kans-om-te-reageer-op-boeliegedrag/.

Wat kan ek doen as ek die slagoffer van anonieme kuberafknouery is?

  1. Laat jou stem hoor Maak seker dat jy vir iemand vertel wat besig is om aan te gaan. Dit kan ’n vriend wees of ’n volwasse persoon wat jy vertrou. Dit is bitter belangrik dat jy nie alleen en in stilte moet ly nie.
  2. Moenie terugantwoord nie Persone wat ander mense anoniem afknou, wil gewoonlik ’n reaksie uitlok, maar deur nie op die boodskappe te reageer nie, verseker jy dat die boelie nie enige vorm van bevrediging beleef nie.
  3. Bewaar die bewyse Dít is baie belangrik vir ingeval die afknouery vererger. ’n Foto of skermgreep is ’n doeltreffende en vinnige manier om bewyse te stoor.
  4. Rapporteer Die meeste sosiale netwerke het ’n manier om negatiewe inhoud op hul platform te rapporteer. Maak seker dat jy weet waar dit is en moenie bang wees om dit te gebruik nie. Dit is vinnig en effektief om enige aanstootlike boodskappe of foto’s af te haal. Indien jy afgeknou word waar selfone gebruik word, kan jy ook met jou selfoonnetwerk skakel, wat jou verder sal lei in hierdie verband.
  5. Blokkeer Die meeste sosiale netwerke het ’n blokkeer-opsie wat jou toelaat om interaksies met ander gebruikers stop te sit. Inligting oor hoe dit gedoen kan word, verskyn gewoonlik in die platform se veiligheidsentrum. Op selfone kan dit gewoonlik onder “Settings” gedoen word.
  6. Privaatheidstellings Met die meeste sosiale netwerke kan jy jou privaatheidstellings só verander dat jy nie interaksie met mense kan hê met wie jy nie wil kommunikeer nie.
  7. Polisie Wanneer jy dink dat ’n voorval ernstig genoeg is om as ’n strafbare oortreding beskou te word, kan jy jou plaaslike polisiekantoor skakel en die saak rapporteer. Skakel die polisie by 10111 of Childline South Africa by 08000 55 555.

AfriForum se teenboelieveldtogspan besoek laerskole ter bewusmaking van boeliegedrag en wat gedoen kan word om afknouery in skole hok te slaan.

Meer oor die outeur

Leandie Bräsler

Leandie Bräsler is bestuurder van junior leierskapontwikkeling by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

In ’n wêreld vol onbekendes is daar een bekende: Afrikaans is Groot. Dis ’n saamkomplek omjou taal, jou kultuur en jou menswees te vier. En die jaar is geen uitsondering wanneer diegrootste familie-reünie nóg vanaf 8 to 17 November 2024 in die SunBet Arena in...

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum, ’n organisasie wat vandag meer as 315 000 lede in elke uithoek van die land verteenwoordig, vier vandag sy agtiende bestaansjaar. Dié burgerregteorganisasie is op 26 Maart 2006 vir die eerste keer aan die publiek bekendgestel in ’n berig oor sy...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest