Daar word dikwels skertsend na Australië se verlede as bandietekolonie verwys en neerhalend gepraat van die “misdadigers” wat stamvaders van duisende Aussies is. Tog het Australië se geskiedenis eens – in 1850 – paaie met die Kaapkolonie van ouds gekruis en byna ook Suid-Afrika se geskiedenis verander. Ilze Nieuwoudt het gaan ondersoek instel na dié kruispad.

Australië en sy duisende bandiete

Volgens die Nasionale Biblioteek van Australië het meer as 800 skepe tussen 1788 en 1868 hul vragte met ’n totaal van nagenoeg 160 000 Britse misdadigers na dié verafgeleë Britse kolonie weggevoer. In ’n BBC-artikel oor Australië se geskiedenis as bandietekolonie deur Suemedha Sood word aangevoer dat sowat 20% van Australiërs nasate van dié Britse misdadigers is. Hoewel hierdie geskiedenis vandag in Australië met eerbied beskou word, was dit lank ’n verhaal gevul met woede én skaamte.

’n Illustrasie uit 1830 van Britse misdadigers wat na Australië weggevoer is.

Die Anti-Bandietebeweging aan die Kaap

Nadat duisende misdadigers dekades lank reeds uit Groot Brittanje weggevoer is en as’t ware in Australië gestort is, is besluit om ’n nuwe heenkome vir die “ongewenstes” te vind. In 1848 is ’n proklamasie afgekondig waarin bepaal is dat Britse bandiete voortaan na die Kaapkolonie gebring sou word. (Die Kaap se Nederlandse heerskappy was teen dié tyd lank reeds iets van die verlede, nadat die tweede Britse okkupasie in 1806 plaasgevind en die Kaap tot Britse gebied verklaar is.)

Die Kapenaars het nie die proklamasie ligtelik geneem nie en in reaksie daarop is die Anti-Bandietebeweging in Mei 1849 gestig. In die boek Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika (onder redaksie van Hermann Giliomee en Bernard Mbenga) word dié beweging as Suid-Afrika se eerste massaprotes bestempel. Verskeie protesaksies is gereël om druk op die Britse regering te plaas en te voorkom dat die Kaap die nuwe stortingsterrein vir Brittanje se misdadigers word.

Sir Harry Smith, die man aan die stuur van die Kaapkolonie sedert 1835, het weens probleme in die Kaap onder druk van die Britse ministerie van kolonies gekom. In ’n poging om die ministerie se guns te probeer wen, het Smith ingestem tot die versending van 300 Britse en Ierse bandiete na die Kaap. Die Kapenaars was briesend en nie bereid om die saak gelate te aanvaar nie.

Kaapstad soos geïllustreer in 1850.

Driehonderd “bandiete”?

Terwyl die storm rondom die koms van 300 Britse misdadigers aan boord die Neptune in die Kaap van Storms gewoed het, was die Kapenaars nie besorg oor die misdade wat dié “bandiete” gepleeg het nie. Een saak was seker – die Neptune en sy vrag was nie welkom aan die Kaap nie.

Volgens Ciarán Reilly, van die Universiteit van Maynooth in Ierland, het nagenoeg 5 000 Kapenaars in 1849 ’n petisie teen die vestiging van ’n bandietekolonie in die Kaap onderteken. In haar artikel “An inhospitable welcome? Emigration to the Cape of Good Hope during the Great Irish Famine” (wat in 2018 in die aanlyn vaktydskrif Breac verskyn het) het die Anti-Bandietebeweging aan die Kaap ook ’n sterk anti-Ierse-gevoel geskep.

Reilly se navorsing toon dat die misdadigers aan boord die Neptune ’n aantal sogenaamde Young Irelanders ingesluit het wat in 1848 aan ’n mislukte opstand deelgeneem het. Die meerderheid was egter mense wat vir mindere misdade gevonnis is. Dié misdadigers was skuldig aan “misdade wat in die vroeë jare van die Groot Hongersnood gepleeg is; misdade, so lyk dit, wat gepleeg is bloot in ’n poging om te oorleef”, verduidelik Reilly. Dié misdade het onder meer die diefstal van skape, beeste en selfs rape ingesluit.

Ierland het sedert 1845 onder ’n geweldige hongersnood (in Engels bekend as die Irish Potato Famine) gebuk gegaan. Dié krisis het tot omstreeks 1852 voortgeduur en tot die hongerdood en ander verwante sterftes van nagenoeg 1 miljoen Iere gelei, terwyl ’n verdere sowat 1 miljoen Iere in dié tyd gedwing is om hul vaderland te verlaat.

Waarheen nou?

Die Neptune het in September 1849 anker gegooi in die teenswoordige Simonstad-hawe, maar weens die druk van die Anti-Bandietebeweging moes die Britse regering ander heenkome vir die bandiete vind.

Die skip en sy vrag is derhalwe teen Februarie 1850 na Van Diemensland (later bekend as Tasmanië, Australië) gestuur. Dié besluit is met bitterheid in daardie kolonie begroet. ’n Petisie wat deur die Van Diemenslanders opgetrek is, is in Mei 1850 in Australiese koerante gepubliseer. Die petisie is in onder meer die Adelaide Times gepubliseer. Hierin is die versending van die Neptune se bandiete, ná die Kapenaars se suksesvolle anti-bandieteveldtog, bestempel as ’n bewustelike poging van die Britse ministerie om die “vrye inwoners” van Van Diemensland te beledig, verneder en te vernietig “omdat hulle te swak is om [dit] teë te staan en ongestraf te na gekom kan word”.

Dié teëstand in Van Diemensland het egter nie vrugte afgewerp nie en die skip het in 1850 sy finale bestemming daar bereik. Hieroor het die Australiese koerant The Argus op 10 Februarie 1851 dié skip met sy besending nuwe misdadigers met woede beskryf as “this too-celebrated vessel arrived, accordingly, in April with her detested cargo of corruption”.

In hierdie relatief onbekende stuk Suid-Afrikaanse geskiedenis, met gebeure wat oor drie kontinente gestrek het, het die Kaap ’n oorwinning behaal, maar dit sou nog nagenoeg twintig jaar neem voordat die invoer van misdadigers na Australië finaal gestaak is.

’n Skets uit 1850 beeld die Simonstad-hawe uit waar die Neptune in 1849 met nagenoeg 300 bandiete anker gegooi het.

 

 

 

Ilze Nieuwoudt
Ilze Nieuwoudt
Ilze is die publikasie bestuurder by Kraal Uitgewers.

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest