Leesvordering:

Die lewe in Engeland: Deel 2

Aug 30, 2023

Deur Maxie Heppell

Nee kyk, bestuur aan dieselfde kant van die pad is een ding, maar om sommer aan te neem al die ander verkeersreëls in Engeland is dieselfde as waaraan jy gewoond is, is moeilikheid soek.

Ek het reeds vertel van my lastige £60 (R1 200) boetetjie sommer so op my eerste dag in die land. Die mense is baie ernstig oor hulle busbane!

Maar nog is het einde niet. Skaars drie maande later fladder ’n kennisgewing van ’n spoedoortreding deur ons voordeur se posgleufie en my moed sak in my skoene.

Hierdie keer het ek egter ’n keuse:

Opsie 1 – Ek kan ’n eendagkursus bywoon as deel van die National Speed Awareness Scheme. Dit sal ’n £80-gat in my sak los (so ongeveer R1 500 teen daardie tyd se koers).

Opsie 2 – Ek kan kies om ’n boete van £100 (R1 840) te betaal. Maar daarmee saam kry my bestuurderslisensie ook drie boetepunte by. As ek binne drie jaar 12 of meer boetepunte bymekaarmaak, is voetslaan my voorland.

Opsie 3 – Ek kan kies om ’n kans in die hof te vat, maar as ek skuldig bevind word, mag ek dalk ’n boete én boetepunte op my lisensie kry en ek sal boonop die hofkoste moet betaal.

Keuses, keuses, keuses …

Reëls, reëls, reëls

Vroeg een oggend in Oktober 2019 stap ek skaam-skaam by die Holiday Inn in Swindon in. Ek was nog altyd bang vir moeilikheid, so ’n gekuier voor die hoof se kantoor was nooit my lot nie. Dalk sou dit my voorberei het vir hierdie aaklige gevoel van dreigende onheil. Want iemand gaan jou mos nou uittrap.

Toe nou nie.

Die manne wat die kursus aanbied, is onafhanklike konsultante, met geen persoonlike agendas nie; hulle is bloot daar om hulle dagtaak af te handel. En so leer ek toe daardie dag ’n paar nuwe Britse padreëls. Hopelik kan dit vir jou ook iets beteken.

  • Waar daar ’n stelsel straatligte in die area is waarin jy ry, dit wil sê meer as drie straatlige na mekaar, is die spoedbeperking 30 mph (m.p.u./myl per uur). Hier in Engeland het baie motors ’n myl- en ’n kilometer-meter; dit werk uit op omtrent 50 km/h.
  • In besige voetgangersareas en waar daar skole is, is daar spesifiek bordjies wat aandui dat die spoedbeperking 20 m.p.u. is – al is daar ’n stelsel straatligte.
  • Die spoedbeperking op ’n enkelpad, dit wil sê ’n pad met een linker- en een regterbaan (waarvan daar miljuisende tussen al die klein dorpies is), is 60 m.p.u. (100 km/h).
  • Die nasionale spoedgemiddeld is 60 m.p.u. en oral waar jy die onderstaande teken sien, kan jy weet die spoedbeperking is 60 m.p.u.

Die aanbieders het skertsend uitgewys dat dit nie ’n teiken is nie – dit is ’n beperking! Want glo my, daar is paaie en draaie waar jy eerlikwaar jou dood sou soek as jy 60 m.p.u. ry! Nugter alleen weet wie dit bepaal het …

  • In dorpe en stede is daar gewoonlik addisionele bordjies met 40 m.p.u. of 50 m.p.u. wat die 30 m.p.u. uitkanselleer. As jy dit egter nie sien nie, hou liewer maar by die 30 m.p.u.
  • Dubbelpaaie met ’n definitiewe, onoorbrugbare middelman het ’n spoedbeperking van 70 m.p.u. (110 km/h). ’n Pad met twee bane in een rigting en twee bane in ’n ander rigting wat net deur ’n verfstrepie geskei word, kwalifiseer nie as ’n dubbelpad nie en die spoedbeperking daar is steeds 60 m.p.u.
  • Op snelweë sien jy blou inligtingsborde langs die pad en die spoedbeperking is 70 m.p.u.

Foto: www.thesun.co.uk

Hulle het ook die volgende interessanthede oor die Highway Code uitgelig:

Het jy geweet dat jy nie in die reën met cruise control mag ry nie? Of dat jy nooit ’n padreël mag breek om ’n noodvoertuig voorrang te gee nie? Jy sál beboet word!

Hou links!

Met ’n laaste giggel stap ek darem die dag daar uit, want so leer ek ook dat die Engelse toe nié die wêreld se ongeduldigste bestuurders is nie. Sien, ek het gemeen as ek nes in Suid-Afrika hier ook net die vinnige baan heel regs op die snelweg vir die Haastige Hennies ooplos, dan is ek mos reg. Die middelbaan is myne.

Die paar keer wat Willie Wragtig sy ligte vreeslik vir my geflits, ’n draai om in die middelbaan gery en dan weer voet neergesit het, het ek al morrende en knorrende verder bestuur.

Maar daardie dag hoor ek toe nee, hier in Engeland ry jy áltyd in die heel linkerkantste baan – die “stadige” baan soos ons hom in Suid-Afrika noem. Slegs as jy ’n voertuig wil verbysteek, mag jy van baan verwissel – en dan moet jy so gou as moontlik weer in die stadige baan kom.

Well, I never … So leer ons!

Volgende keer vertel ek julle ’n bietjie van die lewenskoste hier in Engeland. Altyd goed om te weet as jy begin planne beraam!

Groete uit Newbury

Maxie

Meer oor die outeur

Maxie Heppell

Maxie Heppell woon saam met haar man Èmil in Newbury in die Verenigde Koninkryk. Besoek gerus Maxie se blog Genade is ’n dag lank: https://genadeisndaglank.wixsite.com/genadeisndaglank/blog

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest